Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Oorsee belê: Magda Wierzycka sê bedryf is ‘gierig’

Groot batebestuursfirmas lyk of hulle harder “vir hul multi-miljoenrandbonusse” as vir die belange van gewone Suid-Afrikaanse beleggers skerm, sê Magda Wierzycka.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia, meen Asisa tree nie in die belang van die bedryf op nie.

Die uitvoerende hoof van die relatief klein, jong batebestuursfirma Sygnia het Donderdagoggend te velde getrek teen die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), die bedryfsliggaam wat veronderstel is om al die batebestuursfirmas en langtermynversekeraars in die land te verteenwoordig.

Wierzycka sê nou Asisa kan homself nie langer as ’n mondstuk vir die bedryf voorstel nie.

Dit kom nadat dit geblyk het dat “ ’n handvol Asisa-lede” onder die vaandel van die vereniging agter die opskorting sit van ’n omsendbrief wat dit blykbaar makliker sou maak vir Suid-Afrikaners om in oorsese bates te belê. Asisa het glo ’n brief aan die Reserwebank, tesourie en Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) geskryf om te pleit vir die opskorting van die omsendbrief, maar min van sy lede was bewus daarvan.

Ander in die bedryf sê egter dit is Wierzycka wat die bal misslaan en ’n omsendbrief met ’n heeltemal ander doelwit interpreteer as ’n kans om beleggers te lok. 

    

Wat is die herrie oor die omsendbrief?

Die valutabeheer-omsendbrief 15 van 2020 het oor die herklassifikasie van inwaarts genoteerde instrumente en buitelandse beursverhandelde fondse (ETF’s) gehandel.

Sygnia en ander batebestuursfirmas, soos Satrix, het gereken dit sou beteken dat ETF’s bestaande uit oorsese beleggings plaaslik genoteer sou kon word en dan as binnelandse bates herklassifiseer word. Dit sou dit beteken dat beleggers daarin sou kon belê sonder dat hul jaarlikse limiet geraak is vir geld wat landuit geneem mag word.

Sygnia is een van verskeie batebestuursfirmas wat sogenaamde passiewe beleggings in beursverhandelde produkte doen.

Die tesourie, Reserwebank en FSCA het Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring gesê die omsendbrief word onmiddellik opgeskort hangende openbare konsultasie omdat daar kommer oor die interpretasie daarvan is.

Daar is veral kommer oor of dit regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse raak, dus watter persentasie van aftreegeld oorsee belê mag word. Die limiet is tans 30%.

Wierzycka sê die Asisa-mening was dat die omsendbrief strydig met regulasie 28 is.

“Sygnia het reeds ’n onafhanklike regsmening van ’n vooraanstaande pensioenfondsprokureur ingewin, wat bevestig het dat daar geen konflik is nie en dat die wettige uitwerking van die omsendbrief op regulasie 28 duidelik was.”

Maar wat was die doelwit met die omsendbrief werklik?

Die omsendbrief was daarop gemik om dit vir Suid-Afrikaanse genoteerde maatskappye makliker te maak om kapitaal in te vorder deurdat skuldbriewe in rand en dollar albei as plaaslike instrumente behartig sou word, het Kuben Naidoo, uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid (Prudential Authority), Dinsdagoggend met die uitreiking van die Reserwebank se verslag oor finansiële stabiliteit laat blyk.

Dit was dus daarop gemik om valutabeheer vir maatskappye te verslap, en was nie werklik gemik op batebestuursfirmas of gewone beleggers nie.

Naidoo sê uitdruklik dit was nié die omsendbrief se bedoeling dat dit deur beleggers gebruik word om hul toegelate jaarlikse oorsese belegging te verhoog nie. Dis ook nie bedoel as ’n “agterdeur” waardeur die omsigtigheidsvereistes vir pensioenfondse – dus regulasie 28 – verslap sou word nie.

Naidoo het beklemtoon dat die omsendbrief nie geskrap is nie, maar nou vir openbare kommentaar uitgereik sal word om verwarring uit te skakel. Dit sal na verwagting nou in Februarie 2021 van krag word.

  

Aanval op reuse in die bedryf

Wierzycka sê Asisa het nié al sy lede geraadpleeg voordat die brief uitgestuur is wat die opskorting van die omsendbrief bepleit nie. Sy sê sover sy kan vasstel, het die brief in “groot batebestuursfirmas, insluitend Coronation en Ninety One”, ontstaan.

Dit lyk asof ’n handvol groot batebestuurders wat die welvaart van die meeste Suid-Afrikaanse beleggers beheer, hulself oënskynlik as bewakers van alle besluite oor buitelandse beleggings aangestel het.
Magda Wierzycka van Sygnia

’n Woordvoerder van Ninety One (voorheen Investec Batebestuur) sê hulle gaan nie op Wierzycka se “persoonlike aanvalle” reageer nie. Hulle meen wel die oorspronklike bedoeling met die omsendbrief gaan in Sygnia se verklaring verlore.

’n Woordvoerder van Coronation het ook gesê Sygnia se bewerings verdraai die Reserwebank se aanvanklike bedoeling. “Coronation ondersteun beleggingsvryeid, en glo die batebestuursbedryf het redelik en in pas met hul fidusiêre verantwoordelikhede aan kliënte opgetree deur helderheid oor die Reserwebank se bedoeling te versoek.”

Anton Pillay, uitvoerende hoof van Coronation, het net Dinsdag op die maatskappy se resultatevoorlegging vir die halfjaar tot einde September gesê die bedryf “het dit aan die reguleerder uitgewys” dat die omsendbrief die omsigtigheidsvereistes van regulasie 28 raak. Hy sê daar was “baie besprekings” oor die omsendbrief.

Hy het ook gesê Coronation steun wel die geleidelike verslapping van die valutabeheermaatreëls.

Leon Campher, uitvoerende hoof van Asisa, ontken ten sterkte dat Asisa die onttrekking van die omsendbrief “geëis” het. Hy sê die brief – wat intussen al wyd gedeel is – is ’n “dringende versoek vir riglyne” omdat verskeie batebestuursfirmas Asisa gevra het om die Reserwebank te vra om onsekerhede op te klaar.

Asisa is besig om ’n werkgroep saam te stel wat sal bestaan uit verteenwoordigers van alle lidmaatskappye wat belang stel, en ons sal hul meerderheids- en minderheidsiening voorlê.
Leon Campher van Asisa

Campher sê hy stem saam met die besluit om die omsendbrief op te skort om dubbelsinnigheid uit te skakel en openbare deelname toe te laat.

“Ons glo dis die regte benadering, aangesien dit alle belanghebbendes die geleentheid sal gee om voorleggings te doen. Asisa is besig om ’n werkgroep saam te stel wat sal bestaan uit verteenwoordigers van alle lidmaatskappye wat belang stel, en ons sal hul meerderheids- en minderheidsiening voorlê.”

Campher noem Sygnia of Wierzycka nooit by name nie, maar sê hy is bewus daarvan dat “een van ons lidmaatskappye gegriefd voel deur ons versoek vir riglyne, maar ons voel dit was die verantwoordelike benadering en in die beste belang van beleggers.

“Die werklikheid is dat meer ter sprake is as net die menings van batebestuurders… Uiteindelik beskerm duidelike regulasies beleggers, wie se belange voorop gestel moet word.”

Aanklag van teenmededingendheid

Wierzycka sê dit “lyk asof ’n handvol groot batebestuurders wat die welvaart van die meeste Suid-Afrikaanse beleggers beheer, hulself oënskynlik as bewakers van alle besluite oor buitelandse beleggings aangestel het” waardeur hulle die raad van trustees van pensioenfondse, finansiële adviseurs en beleggers self ontmagtig.

Sy beskryf dit as die “toppunt van arrogansie” van batebestuursfirmas, en bestempel dit as “teenmededingend” omdat dit kleiner batebestuursfirmas benadeel as ETF’s nié inwaarts genoteer mag word nie.

Maar sy gaan verder, naamlik dat dit gedryf word deur groot batebestuursfirmas wat “hul multimiljoenrand-bonusse beskerm tot nadeel van die res van Suid-Afrikaanse beleggers”, wat nou nie bykomende buitelandse blootstelling kan kry nie.

Beleggers en pensioenfondse kan teen ’n baie laer koste in ETF’s belê as deur hul geld deur tradisionele “aktiewe” batebestuursfirmas te laat belê. Die meeste batebestuursfirmas verdien benewens hoër administrasiegeld ook prestasiegelde op beleggingsopbrengste.

Wierzycka sê die batebestuursfirmas word deur “eiebelang en gierigheid” gedryf.

Sy rig ’n pleidooi tot die land se reguleerders om in te sien dat hulle “gemanipuleer” is om aan Asisa se eise te voldoen.

Vorige bekgevegte

Wierzycka het ’n reputasie as uitgesproke oor ’n verskeidenheid van onderwerpe verwerf. Sygnia was een van die eerstes wat KPMG as ouditfirma afgedank het toe hul betrokkenheid by die Guptas en staatskaping aan die lig gekom het. Toe het sy ’n gereelde spreekbuis vir strenger korporatiewe beheer geword.

Sy was egter ook al aan die ontvangkant van kritiek, onder meer omdat sy per geleentheid getwiet het dat Suid-Afrikaners werkloosheid kan oplos deur nog huiswerkers of tuiniers aan te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.