Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Ponzi-skelm Bernie Madoff sterf in tronk

Bernard Madoff, die beleggingsadviseur van New York wat die wêreld se grootste Ponzi-skema bedryf het, is in die ouderdom van 82 in die tronk dood.

ponzi
Bernie Madoff verlaat die hof in Maart 2009, kort voordat hy lewenslank tronk toe gestuur is. Foto: Getty Images

Hy was sedert Julie 2009 in die Butner-tronk in Noord-Carolina, waar hy ’n vonnis van 150 jaar moes uitdien.

Hy is aan natuurlike oorsake dood, het sy regsfirma bevestig.

Madoff het in Februarie 2020 ’n versoek gerig vir vroeë vrylating weens 'n niersiekte wat hy in daardie stadium gehad het.

Madoff het meer as 37 000 beleggers in 136 lande uit $19 miljard bedrieg. Hy het uitmuntende opbrengste aan derduisende kliënte uitbetaal, maar in werklikheid is die betalings gemaak met die geld van nuwe beleggers.

Die bedrogspul het in Desember 2008 in duie gestort toe aandelemarkte geval het. Kliënte wou toenemend geld onttrek wat hy nie kon betaal nie.

Madoff se eie seuns het hom op 10 Desember 2008 aan die owerhede oorgegee. Hy het op daardie dag teenoor hulle erken dat die batebestuurseenheid van sy firma ’n massiewe Ponzi-skema is. Hy het blykbaar vir hulle gesê dit is “een groot leuen”.

Die volgende dag het FBI-agente Madoff in hegtenis geneem en hom aangekla van een saak van bedrog met aandele.

Madoff het in Maart 2009 skuld beken op bedrog, geldwassery, meineed en diefstal.

In die hof en in latere onderhoude uit die tronk het hy daarop aangedring dat hy jare lank ’n regte beleggingsonderneming gehad het voordat hy nie die ruim opbrengste kon handhaaf wat sy kliënte verwag het nie.

Aanklaers het volgehou die bedrog het in die 1980’s, indien nie vroeër nie, begin.

Ondersoekers het beweer sowat 37 000 mense in 136 lande is oor vier dekades bedrieg. Van sy slagoffers sluit in die akteur Kevin Bacon en die rolprentregisseur Steven Spielberg se liefdadigheidsorganisasie, Wunderkinder.

Persoonlike tragedie

Sy seuns het hom dieselfde dag dat hy teenoor hulle gebieg het, aan die FBI oorgegee. 

Albei is in hul veertigerjare dood.

Mark, sy jongste, het in 2010 selfdood toegepas op die tweede herdenking van sy pa se bekentenis.

Andrew is in 2014 aan ’n seldsame vorm van bloedkanker oorlede.

Waar alles begin het

Bernard Lawrence Madoff is op 29 April 1938 in Queens, New York, gebore.

Hy het sy finansiële loopbaan as 22-jarige begin met net $5 000 wat hy met vakansiewerk verdien het. Hy het onder meer besproeiingstelsels vir tuine in New York geïnstalleer.

Hy het Bernard L. Madoff Investment Securities in 1960 gestig en is agt keer deur die Amerikaanse Securities and Exchange Commission ondersoek.

Hy wasin 1990, 1991 en 1993 voorsitter van die Nasdaq-aandelemark.

Sy vrou, Ruth, leef nog en is nooit aangekla in verband met haar man se Ponzi-skema nie.

Sy het in 2019 ingestem dat al haar oorblywende bates met haar afsterwe verkoop kan word om beleggers nog ’n bietjie te vergoed vir hul verliese. Sy het $2,5 miljoen as deel van ’n ooreenkoms behou.

Bronne: Bloomberg, Brittanica, BBC, CNBC

Een van die omvattendste boeke oor Bernie Madoff se enorme Ponzi-skema.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.