Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
‘SA aandele kan ná rekord in Januarie nog hoër’

Suid-Afrikaanse aandele het die afgelope maand hul beste afskop vir die jaar gehad sedert 2012 toe die indeks van alle aandele in Januarie ’n rekordhoogtepunt bereik het.

Die rekordlae rentekoers is een rede waarom meer mense aandele koop - wat aandeelpryse help styg.

Die internasionale beleggingsbanke JPMorgan Chase & Co en Bank of America is onder diegene wat verdere stygings verwag.

Die styging in Januarie was danksy ’n toename in die wêreldwye aptyt vir riskanter bates soos dié in opkomende markte.

Die plaaslike beurs gaan ook daarby baat vind as China van die pandemie begin herstel omdat die baie genoteerde mynaandele op die beurs deur stygende hulpbronpryse gehelp sal word.

Voeg hierby die wêreldwye lopie in tegnologieaandele en hoe die groot aandeel op die beurs – Naspers – daarby baat vind.

Nog ’n rede vir hul optimisme is dat die Suid-Afrikaanse repokoers op sy laagste vlak nog is.

Dit dek die tafel dat die plaaslike lopie in aandele volgehou sal word.

“Die histories lae rentekoers in Suid-Afrika en die ongekende vlakke van monetêre en fiskale stimulus wêreldwyd behoort ondersteuning te skep vir die plaaslike aandelemark,” sê John Storey, hoof van Suid-Afrikaanse aandele-navorsing by JPMorgan.

Bank of America het middel Januarie voorspel die indeks van alle aandele gaan vanjaar die vlak van 70 000 indekspunte bereik – dit is ’n styging van 11% teenoor die JSE se huidige vlak van sowat 63 000.

Anchor Capital voorspel ook dat die indeks van alle aandele met nog 11% kan styg.

Die histories lae rentekoers in Suid-Afrika en die ongekende vlakke van monetêre en fiskale stimulus wêreldwyd behoort ondersteuning te skep vir die plaaslike aandelemark.
John Storey van JPMorgan

Peter Little, ’n fondsbestuurder van Anchor Capital, sê die JSE het vir die derde maand agtereenvolgens positief geëindig – die eerste keer in twee jaar, volgens hom.

Die indeks van alle aandele het in Januarie sy hoogste vlak nog bereik van 65 346. Dit verteenwoordig ’n styging van 65% sedert die skerp val in Maart verlede jaar.

Die indeks het Januarie 5% hoër op 62 444 geëindig teenoor die 59 408 waarmee hy Desember afgesluit het.

LEES OOK: Só eindig JSE en rand ná wilde jaar van paniek

Izak Odendaal en Dave Mohr van Old Mutual Wealth meen “opbrengste het teruggekeer”.

Izak Odendaal, beleggingstrateeg by Old Mutual.

Hulle sê ten spyte van die daling in die laaste week van Januarie, was dit steeds ’n goeie maand vir beleggers.

“Die indeks van alle aandele se 5% vir die maand is beter as die jaarlikse opbrengs op kontant deesdae.

“Die JSE het ’n nuwe rekordsluiting in Januarie bereik ná drie frustrerende jare wat die mark sywaarts beweeg het.”

Hulle sê die opbrengs vir die afgelope jaar is op 14% baie hoër as die inflasiekoers van 3%.

Hulle sê dit is bemoedigend vir toekomstige opbrengste dat die aandelewaardasies in dié stadium nog nie te veel optimisme in die pryse toon nie.

SA aandele se waardasies ‘aanloklik’

Volgens Bloomberg toon sy ontleding ook Suid-Afrikaanse aandele het ten spyte van die sterk begin van die jaar nog aanloklike waardasies. Volgens Bloomberg verhandel die aandele teen die grootste diskonto teen ontwikkelende lande se aandele sedert 2005.

“Ons aandele is van die goedkoopste in opkomende markte terwyl dié markte se aandele reeds baie goedkoop vergeleke met dié van ontwikkelde markte is,” sê Shaun le Roux van PSG Batebestuur.

Little sê Naspers en Prosus het in Januarie met onderskeidelik 15% en 9% gestyg.

Chinese groei kan dié maatskappye help

Die meeste van die styging in die JSE se indeks van alle aandele kom van vier maatskappye wat goed geplaas is om te baat by ’n herstel in Chinese groei – Naspers, BHP, Anglo American en Richemont.

Die vier het sowat 80% van die styging sover in 2021 bygedra.

Storey sê die staatsrede volgende week en die begroting later in Februarie gaan wel deur buitelandse beleggers dopgehou word vir tekens oor waar hulpbronne toegewys en hoe die fiskale tekort bestuur gaan word.

Hy meen enige vordering met beleidshervorming, veral oor energie, sal verwagtinge drasties verbeter.

Terselfdertyd meen hy nie die belangrikheid van ’n suksesvolle entstof-program moet onderskat word nie.

Hulpbronmaatskappye het stewig gestyg nadat handelsverslae getoon het die hoër hulpbronpryse het meer as vergoed vir die swak volumes in 2020 weens die onderbrekings wat die pandemie veroorsaak het.

Aandele wat sensitief is vir plaaslike ekonomiese aktiwiteit, het ’n gemengde vertoning gelewer.

Banke en versekeraars het ’n teleurstellende maand gehad terwyl kleinhandelaars se handelsverslae oor die feestyd die mark aangenaam verras het. Dit het ’n sterk lopie veroorsaak in kleinhandelaars wat op krediet verkoop, soos Lewis en Truworths, wat elk met meer as 20% gestyg het.

Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, sê oor ’n jaartydperk sedert einde Januarie verlede jaar het eiendom die onderspit gedelf.

“Plaaslike maatskappye se aandele vertoon steeds swak,” sê hy.

Dit kan buiten die eiendomsmaatskappye ook gesien word in die indeks van middelslagmarkwaarde-maatskappye en finansiële aandele wat oor die jaartydperk gedaal het.

Die indeks van top-40-aandele vertoon beter omdat maatskappye met ’n groter buitelandse bydrae tot hul inkomste ’n groter gewig daarin het.

Meer oor:  British American Tobacco  |  Prosus  |  Bat  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Aandele  |  Mynbou  |  Markte  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.