’n Verkeerde maatstaf wat gebruik is en te veel Naspers-aandele wat gehou is, het die fondsbestuursmaatskappy Sanlam Collective Investments in die sop laat beland.

Sanlam se hoofkantoor in Bellville. Sanlam Collective Investments het raas gekry by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor oor 'n verkeerde maatstaf wat gebruik is in een van die fondse wat hy bestuur.
Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het stappe teen Sanlam Collective Investments gedoen ná ’n ondersoek oor die onderneming en sy geadministreerde fonds Trésor Sanlam Collective Investments Equity Fund.
Sanlam Collective Investments is ’n bestuursmaatskappy wat aan die genoteerde Sanlam-groep behoort wat al die effektetrusts van die groep administreer, asook buitepartye se beleggingsfondse soos in die geval van Trésor Wealth Investment Managers.

So het die fonds se tien topbeleggings teen einde Junie 2020 gelyk. Foto: Skermgreep
Die FSCA het Sanlam Collective Investments en die fonds in Mei 2019 vir ’n oortreding aangegee van ’n bepaling wat deur die registrateur van kollektiewe beleggingskemas ingevolge die Wet op die Beheer van Kollektiewe Beleggingskemas uitgereik is. Die spesifieke bepaling handel oor die sekuriteite en bateklasse wat in ’n beleggingsportefeulje ingesluit kan word en die perke en voorwaardes daarop.
Volgens die FSCA het die fonds nie aan die bepalings voldoen nie deur meer as die toelaatbare perk van 10% in ’n genoteerde aandeel te belê deur ’n indeks as maatstaf te gebruik wat nie as ’n indeks beskou kan word nie.
Die FSCA het Sanlam in Desember in kennis gestel van die voorneme om stappe teen hom te doen. Ná vertoë van Sanlam is ’n ooreenkoms met die bestuursmaatskappy bereik waarvolgens die maatskappy ’n afdwingbare onderneming aan die FSCA gegee het.
Ingevolge die afdwingbare onderneming het Sanlam ingestem om:
• In die openbaarmakingsdokument van die fonds te openbaar dat die prestasie wat van Desember 2017 tot 13 November 2020 bereik is, weens die nie-nakoming van die bepaling is;
• Te verseker dat die korrekte indeks soos omskryf in die bepaling in al die bemarkingsmateriaal verskyn wat aan beleggers versprei word;
• Te verseker dat alle fondse onder sy bestuur aan die toepaslike bepalings voldoen, veral dat die fondse wat hy administreer ’n gepaste indeks gebruik soos voorgeskryf in die bepaling; en
• Bekend te maak dat die maatstaf wat die Trésor-fonds gebruik het, ’n standaard is wat deur die Vereniging vir Spaar en Belegging (Asisa) gebruik is waarvolgens fondse geklassifiseer word.
Trésor Wealth is as finansiëlediensteverskaffer geregistreer en sy sleutel-individue word op die FSCA se webtuiste aangetoon as Hasso Engel, Izak Kotze en Simon Frederick Morrison.