Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Sharemax: Nova se jaarstate is al weer laat
Die halfgeboude The Villa-winkelsentrum in Pretoria-Oos wat aan Sharemax behoort het. Foto: Lisa Hnatowicz

Die eiendomsmaatskappy Nova, wat die mislukte Sharemax moet help red, se state vir die boekjaar tot einde Februarie is weer laat.

Volgens wet moes dit reeds einde Augustus uitgereik gewees het.

Dominique Haese, uitvoerende hoof, het nie geantwoord op ’n navraag hoekom die resultate so laat is nie. Sy het bloot gesê die ouditeure is in die proses om die oudit af te handel. Sien haar volledige antwoord onder.

Nova se jaarstate was ook verlede jaar laat.

Rapport het verlede jaar berig die state vir die boekjaar tot einde Februarie 2018 is drie maande ná die wetsvereiste spertyd uitgereik. Dit is op die laaste dag van November gepubliseer en die ouditeure het dit vier dae later, op 4 Desember, afgeteken.

Nova het vir 2018 ’n gekwalifiseerde ouditmening gekry omdat die ouditeure die manier waarop Nova se eiendomswaardasies gedoen is, bevraagteken het.

LEES OOK: State wys Sharemax se Nova is bykans insolvent

Netwerk24 het by die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) navraag gedoen oor of enige stappe teen Nova gedoen sal word. Hul reaksie sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Duisende Sharemax-beleggers wag op inligting oor die stand van sake by Nova omdat baie van hulle hul aftreegeld in die skema belê het.

So het Haese op navrae geantwoord:

1. Wanneer gaan jul finansiële state vir die boekjaar tot einde Februarie 2019 gepubliseer word? Hoekom is dit laat en hoekom het julle nie aan aandeelhouers en skuldbriefhouers iets hieroor gesê nie?

Die ouditeure is in die proses om die oudit af te handel en doen wat nodig is om dit te finaliseer. Sodra dit afgehandel is, sal dit op die webblad gepubliseer word. Ons is nie bewus van enige vereiste om so aankondiging te doen nie. Ons oproepsentrum hanteer enige vrae oor die laat state.

2. Julle het verlede jaar ’n gekwalifiseerde ouditmening gekry en dit verwerp. Kan jy verduidelik hoekom julle dit verwerp het?

Die Nova-groep het ’n gekwalifiseerde ouditverslag vir die boekjaar einde Februarie 2018 ontvang, slegs met betrekking tot die waardasies van sekere beleggingseiendomme. Dit was omdat die ouditeure nie in staat was om hulself tevrede te stel met die aannames wat toegepas is deur ’n onafhanklike, JSE-geakkrediteerde waardeerder nie, wat die eiendom onafhanklik gewaardeer en die bestaande toestande van die beleggingseiendomme akkuraat getoon het. Die direksie het nie met die kwalifikasie saamgestem nie.

Irba doen navraag

Netwerk24 het ook navrae aan die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) gestuur oor Nova se laat jaarstate. Irba sê in reaksie die laat jaarstate is ’n oortreding van die Maatskappywet. Dit behoort by Irba aangemeld te word, want dit is ’n “rapporteerbare onreëlmatigheid”.

Volgens Irba het die ouditeure Nexia SAB&T dit nie aangemeld nie. “Irba het ’n navraag na die ouditeure gestuur in die verband.”

Ten opsigte van die direksie se siening oor die gekwalifiseerde ouditverslag het Irba gesê: “Ouditverslae word uitgereik deur onafhanklike ouditeure en is dus onafhanklik van die maatskappy se bestuur of direksie. Enige ‘verwerping’ van ’n ouditmening het geen geldigheid nie en beleggers behoort nie op die bestuur of die direksie se mening daaroor staat te maak nie, maar eerder op dié van die ouditeur.”

Die ouditeure BDO Suid-Afrika was feitlik sedert Nova se ontstaan die ouditeure tot in 2017. BDO het in 2017 bedank en Nexia SAB&T is toe aangestel.

Op Nova se webwerf word gesê die rede vir die verandering is omdat Nova dit in die laaste kwartaal van 2017 oorweeg het om te noteer en BDO toe gesê het hy het nie genoeg geregistreerde vennote om ’n notering of nog ’n genoteerde groep te hanteer nie.

Duisende Sharemax-beleggers wag op inligting oor die stand van sake by Nova omdat baie van hulle hul aftreegeld in die skema belê het.

Bankrekeninge gesluit

Die finansiële webblad Moneyweb het vroeër vanjaar berig Standard Bank het van Nova se bankrekeninge gesluit. Die Nova Debenture Creditors Action Group het hier ook daaroor iets te sê gehad op sy webblad.

So het Haese op navrae daaroor gereageer:

3. Kan jy bevestig dat Standard Bank van jou bankrekeninge gesluit het en hoekom?

Standard Bank het sommige van Nova Group se bankrekeninge gesluit en het verwys na “reputasie- risiko’s”. Sekere banke het aangedui dat hul besluite om verdere finansiering aan die groep te gee negatief beïnvloed is deur persepsies van ’n “reputasie-risiko”. Die persepsies is geskep deur jare lange onregverdige negatiewe verslaggewing deur Moneyweb, met die duidelike voorneme om die Nova-groep en sy direkteure in ’n slegte lig te stel, en wat skuldbriefhouers en aandeelhouers benadeel het.

4. Hoe sal krediteure, personeel en skuldbriefhouers betaal word?

Die Monyeweb-berig insinueer dat die sluiting van sekere rekeninge deur Standard Bank daartoe kan lei dat krediteure, personeel en skuldbriefhouers nie betaal word nie. Die insinuasie is onwaar. Nova Group se krediteure, personeel, en, waar van toepassing, skuldbriefhouers, word in die normale gang van sake betaal.

Moneyweb het in reaksie op Haese se kommentaar gesê hy staan by sy beriggewing. Ryk van Niekerk, redakteur, het gesê hy verwerp die aantyging dat Moneyweb vir Nova se probleme verantwoordelik is. “Die groep se finansiële posisie spreek vanself.”

Trustee bedank

Netwerk24 het ook na aanleiding van ’n berig op Moneyweb, “Nova board sidesteps disclosure obligations”, vrae oor die bedanking van die trustee van die Nova Debenture Trust aan Haese gerig.

5. Blykbaar het Derek Cohen, trustee van Nova Debenture Trust, in Julie bedank en het julle nie skuldbriefhouers daaroor ingelig nie, hoewel dit duidelik ’n vereiste volgens die trustakte is. Gaan julle skuldbriefhouers daaroor inlig?

Die Nova-groep het regsadvies oor mnr. Cohen se beweerde bedanking gekry. Die advies wat ontvang is, is dat mnr. Cohen nie kan bedank nie en dat sy bedanking onwettig en nietig is. Geen stappe gaan gedoen word deur die groep nie as gevolg van mnr. Cohen se onwettige en nietigverklaarde bedanking.

6. Hoekom het hy bedank?

Hy het geen redes aangebied nie.

7. Wanneer gaan ’n vergadering vir die skuldbriefhouers gehou word om ’n plaasvervanger aan te stel?

Geen stappe gaan gedoen word nie nie weens mnr. Cohen se onwettige en nietigverklaarde bedanking.

Cohen het by navraag bloot gesê hy het op 19 Julie bedank en hy is nie in staat om verdere besonderhede te verskaf nie.

Moneyweb het drie regsmenings ingewin oor sy bedanking op grond van die trustakte. Volgens Moneyweb meen die regskenners dit is ’n wettige bedanking.

Meer oor:  Sharemax  |  Resultate  |  Eiendomsgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.