Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Só eindig JSE en rand ná wilde jaar van paniek

Die JSE het sy laaste dag van die jaar toe die beurs net ’n halfdag oop was, op 59 408 punte gesluit – 4% hoër vir die jaar van die 57 084 waarmee dit die vorige jaar gesluit het.

Mynmaatskappye se aandeelpryse het baie skerp gestyg in 2020 danksy die pryse van metale wat baie gestyg het en die swak rand het ook gehelp. Kumba se aandeelprys is een van die wat baie skerp in 2020 gestyg het. Kumba se Sishen-ysterertsmyn. Foto: Verskaf

Dit volg ná ’n wilde jaar weens die paniek wat in Maart ontstaan het toe die koronavirus tot ’n pandemie verklaar is en ’n bykans ongekende ineenstorting van byna 10% op een dag veroorsaak het. Dié val is op Donderdag 12 Maart beleef, drie dae voordat pres. Cyril Ramaphosa ’n ramptoestand afgekondig en aangekondig het Suid-Afrika gaan ingeperk word.

Die aankondiging oor die pandemie het ook chaos op die wêreldmarkte gesaai.

LEES OOK: Slagting van bykans 10% op JSE ergste sedert 1997

Die effense beter nuus is dat die indeks van Top 40-aandele waarin die meeste pensioenfondse belê is en wat die swaargewigte van die mark bevat, met 5,7% vir die jaar gestyg het.

JSE 2020

Die JSE se Top 40-indeks het Donderdag 19 Maart sy laagste vlak van 33 407 deur die dag bereik en ook sy laagste sluitingsprys van 34 239 vir die jaar in die week ná die eerste inperking in Suid-Afrika aangekondig is en die paniek oor die virus wêreldwyd uitgekring het.

Wie het die meeste gestyg op die JSE?

Van die groot aandele op die plaaslike beurs wat die skerpste gestyg vir die jaar het, is: Northan Platinum met 69%; Kumba Iron Ore met 47,9%; Gold Fields met 46% en Impala Platinum met 40,8%.

Die klomp mynmaatskappye word gevolg deur Naspers met 29%; Discovery 25%; Mondi 22%; Anglo American 19%; Richmont 15% en die Shoprite-groep met byna 12%.

Van die grootste dalings is deur Sasol wat 55,9% gedaal het; Remgro 50,6%; Growthpoint 43%; Nedbank 40,4% en Standard Bank wat 24,7% gedaal het.

Die hospitaalgroepe Netcare en Life Healthcare het onderskeidelik 35% en 31% gedaal. Mediclinic het 24% gedaal.

Bron: Trading Economics 

Die styging van die indeks van alle aandele in 2020 is baie minder as die styging van 8%  in 2019.

Baie min maatskappye het dividende verklaar, wat die opbrengs vir beleggers vir die jaar verder gaan aftrek.

Met inflasie rondom 3% in 2020, beteken dit ook beleggers het nie veel van ’n werklike opbrengs gekry nie.

Die indeks het Donderdag effens laer gesluit en dit word deur Trading Economics toegeskryf aan die dramatiese styging in koronavirusgetalle wat die laaste paar dae aangemeld is.

Verhandeling sou flou gewees het Donderdag, want die beurs was net vir ’n halfdag oop. Die kans is goed dat Maandag erger kan wees wanneer dit vir die voldag oop is en omdat meer handelaars dalk teruggekeer het van vakansie. Die mark was Vrydag op die vakansiedag gesluit.

Tegnologie-aandele skiet die ligte uit op Wall Street

Oorsee in Amerika het die Dow Jones-nywerheidsindeks 6% hoër vir die jaar gesluit; Nasdaq 45% hoër en die S&P 500 15% hoër.

Dit lyk of tegnologiemaatskappye veral goed gevaar het terwyl olie- en petroleum en ander energiemaatskappye sleg gevaar het.

Die Dow Jones se groot ondernemings sluit in Microsoft wat 38% vir die jaar gestyg het; Apple wat 76% gestyg het; Johnson & Johnson wat 7,6% gestyg het en Walmart wat 21% gestyg het.

Die ergste dalings op dié indeks is Boeing met 35% en Chevron met 30%.

Van hulle is ook op die S&P 500, maar ander bekendes in dié indeks is Amazon wat met 71% gestyg het en Alphabet 28%, Facebook 30%, Nvidia wat 117% en PayPal wat 109% gestyg het.

Exxon Mobil het 41% gedaal.

Tesla van Elon Musk het die skerpste op die S&P 500 en op Nasdaq gestyg met 556%, toon Trading Economics.

Netflix het met 63% gestyg.

Een van die groot valle op dié beurs is dié van American Airlines wat met 45% gedaal het.

rand 2020


Rand skommel erg in jaar

Die rand het Donderdag R14,68 teen die dollar gesluit ná ’n wilde jaar van groot uiterstes waar die verskil tussen die swakste en sterkste vlak meer as R5 was.

Die rand se sterkste vlak gedurende die dag was R13,93 op 2 Januarie begin verlede jaar en sy swakste vlak R19,35 op 6 April.

Die jaar het op R14 begin en is dus 4,8% swakker.

Teen die pond het die rand op R20,05 gesluit nadat die jaar op R18,55 begin is, amper 8% swakker. Sy swakste vlak was R23,71 deur die dag op 1 Mei en sy beste vlak R18,38 op 9 Januarie.

Teen die euro het die rand die jaar op R17,95 afgesluit nadat die jaar op R15,70 begin is, sowat 14% swakker.

Sy swakste vlak van R20,93 is op 10 April bereik en sterkste vlak van R15,60 op 2 Januarie 2020 is ’n verskil van R5,32.

Bron: Saamgestel uit inligting van za.investing.com

Meer oor:  Remgro  |  Netcare  |  Kumba  |  Jse  |  Sasol  |  Naspers  |  Discovery  |  Beurs  |  Dollar  |  Indeks Van Alle Aandele  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.