Beleggers wat dit in 2019 op die JSE gewaag het, het in dié jaar die vrugte daarvan gepluk.
Uit die vier groot Suid-Afrikaanse bateklasse het aandele in 2019 die beste gevaar, met ’n opbrengs van 12,05% op die JSE se indeks van alle aandele.
Die beurs as geheel, dividende ingesluit, het effekte (10,32%), kontant (7,29%) en genoteerde eiendom (1,93%) uitgestof.
Die syfers beteken drie uit die vier bateklasse het beter presteer as inflasie, wat teen November gemiddeld 4,2% vir 2019 beloop het (Desember se syfers is nog nie uitgereik nie). As beleggings inflasie klop, beteken dit beleggers is werklik beter daaraan toe en die koopkrag van hul beleggings het toegeneem.
Aandele was ook in 2017 die beste bateklas, met ’n opbrengs van 20,95%, en in 2018 was effekte (7,74%) die wenner.
Oor die afgelope tien jaar was aandele en genoteerde eiendom kop aan kop, met ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 10,8% elk. Kontant het oor die dekade die swakste gevaar, met ’n opbrengs van gemiddeld 6,5% per jaar.
Net vir die maand Desember sou aandele, met ’n maandopbrengs van 3,3%, beleggers ook die beste beloon het. Vir die maand was genoteerde eiendom (-2,07%) die enigste met ’n negatiewe opbrengs.