Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Só wil staat kripto-skelms nou vasvat

Suid-Afrika het sy beleidsposisie oor kriptogeld, -bates en -bedrywighede verander en beoog om dit binnekort onder bestaande wetgewing, insluitende as finansiële produkte, te reguleer.

Kriptoskelms is volop in Suid-Afrika.

Daar verhandel daagliks meer as R2 miljard se kriptobates in Suid-Afrika.

Kommer heers veral oor valutabeheer oor grense heen en hoe geldwassery en die finansiering van terrorisme daarmee kan plaasvind, asook al hoe meer skelmstreke waarmee gewone verbruikers om die bos gelei word.

Die afdeling vir kriptobates van die staat se Fintech-taakspan (IFWG) wat in 2017 gestig is, het Vrydag ’n hersiene beleidsposisie oor kriptobates uitgereik wat bevestig dat dié tipe bates stelselmatig en op gestruktureerde wyse gereguleer gaan word.

’n Aanvanklike beleidsposisie van 2014 het die publiek net gewaarsku oor die gevare verbonde aan transaksies en beleggings daarmee, omdat daar nie spesifieke wetgewing of regulasies daarvoor bestaan het nie.

Die aanvanklike beleidstandpunt is deur die nasionale tesourie in samewerking met die Reserwebank, die Raad op Finansiële Dienste (RFD), die Inkomstediens (SAID) en die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) opgestel. Toe is daar nog na “virtuele geldeenhede” verwys.

Die beleidsposisie is nou hersien en die standpunt wat die staat nou huldig, is dat hierdie bates ook beheer moet word.

Deur kriptobates geleidelik te beheer, gaan die belangrikste risiko’s eerste aangespreek word, naamlik geldwassery en die finansiering van terrorisme; transaksies oor grense heen en hoe verbruikers beskerm kan word.

Die beleidsposisiedokument maak 25 aanbevelings vir ’n hersiene beleid en posisie oor wetgewing en regulasies, volgens Olaotse Matshane, voorsitter van die IFWG. Sy sê dit verskaf in wese ’n padkaart om ’n raamwerk in plek te stel om kriptobate-diensverskaffers (CASP’s) in Suid-Afrika te reguleer.

Van die aanbevelings is reeds onderweg en in die proses van implementering.

Dit sluit in die werk om CASP’s as verantwoordbare instellings onder die FIC-wet in te sluit.

Die 25 aanbevelings handel hoofsaaklik oor die drie grootste kopsere met kriptogeld en -bates wat aangespreek moet word:

  • Hoe geldwassery en die finansiering van terrorisme wat met behulp van kriptobates plaasvind, gekeer gaan word. Sodra CASP’s ingesluit is onder die lys van verantwoordbare instellings onder die FIC-wet, sal die wetsvereistes op hulle van toepassing wees. Dit sal beteken dat die CASP’s die wetsvereistes moet nakom wat gemik is om geldwassery en die finansiering van terrorisme te bekamp. Dit sal registrasie by die FIC insluit; dat kliënte geïdentifiseer en geverifieer moet word; noulettendheidstudies oor hulle uitgevoer moet word; daar rekord gehou word van hul kliënte en transaksies; daar deurlopend vir verdagte en ongewone aktiwiteite gemonitor word, en dit aan die FIC aangemeld moet word, insluitende verdagte en ongewone transaksies van R25 000 of meer.
  • Valutabeheer oor grense: Die huidige valutabeheerregulasies maak nie uitdruklik voorsiening vir kriptobates nie. Die implikasie daarvan is dat die Reserwebank se finansiële-toesig-afdeling (FinSurv) nie uitdruklike magte het om van verhandelingsplatforms te vereis om transaksies met dié bates te rapporteer nie. Die daaglikse verhandeling van kriptobates in Suid-Afrika het in Januarie vanjaar vir die eerste keer die R2 miljard-kerf oorgesteek. Dit dui daarop dat daar beduidende waarde deur kriptobates vloei sonder dat FinSurv toesig daaroor het. Die werkgroep beveel aan FinSurv word verantwoordelik vir toesighouding van oorgrensbedrywighede van kriptobates en CASP’s. Dit sal vereis dat die minister van finansies die valutabeheerregulasies verander om kriptobates onder die definisie van kapitaal in te sluit. Die werkgroep beveel ook aan dat FinSurv spesifiek individue toelaat om kriptobates met hul diskresionêre toelae te kan koop. Die valuta- en ruilhandleiding vir gemagtigde handelaars moet ook gewysig word sodat hulle die oordrag van buitelandse valuta om kriptobates oorsee te koop, moet rapporteer, asook verhandelingsplatforms wat dit vir likiditeitsdoeleindes doen.
  • Verbruikersbeskerming: Gegewe die toenemende belangstelling van die publiek in kriptobates, vind daar al hoe meer voorvalle van uitbuiting, bedrog en wangedrag in die mark plaas, plaaslik asook internasionaal. Van die beleggingskemas wat onlangs in die media aandag gekry het, beklemtoon ook hoe noodsaaklik dit is dat die Suid-Afrikaanse owerhede, hoofsaaklik die Gedragsowerheid oor die Finansiëledienstesektor (FSCA), stappe doen om verbruikers te beskerm. As ’n tussentydse maatstaf beveel die werkgroep aan dat kriptobates as ’n finansiële produk verklaar word onder die Wet op Finansiële Advies en Tussengangerdienste (Fais). Dit sal vereis dat CASP’s gelisensieerde tussengangers moet word en dit sal voorsiening maak vir die lewering van advies deur hulle. Dit sal dit moontlik maak om toesig oor hulle te hou ten einde die uitbuiting van verbruikers deur gewetenlose ondernemings in die bedryf te bekamp. Die verklaring van kriptobates as ’n finansiële produk kragtens die Fais-wet, sal egter net die FSCA toelaat om op te tree teen ’n diensverskaffer wat advies of tussengangersdienste verskaf sonder dat hulle uitdruklik daarvoor gemagtig is. Dit is ’n korttermynoplossing omdat nie alle gevalle waar kriptobates gebruik word, dan gedek word nie en daar sal geen voorsiening vir ’n onderneming se gedrag wees nie. As ’n opvolgaksie word aanbeveel dat finansiële dienste wat gelewer word in verband met kriptobates op die mediumtermyn ingesluit word onder die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor (die FSR-wet) en dat die bedrywighede van CASP’s gelisensieerde bedrywighede word onder die Wetsontwerp op die Gedrag van Finansiële Instellings (CoFI).

“Bedrywighede met kriptobates gaan waarskynlik toeneem en as Suid-Afrika se finansiële reguleerders nie optree nie kan dit die skepping van ongereguleerde parallele stelsels versnel. Dit sal veroorsaak dat die owerhede verder sig verloor oor kriptobate-bedrywighede en -ontwikkeling op die gebied.”

Die IFWG sê in ’n verklaring deur die “kollektiewe regulatoriese standpunt in Suid-Afrika oor kriptobates te wysig” deur te bepaal dat dié bates nie langer buite die wetgewing gaan bly nie, moet nie beskou word as enige tipe of vorm van goedkeuring (stilswyend of eksplisiet) deur die regering, reguleerders of lede van die IFWG nie. “Inteendeel, die besluit is daarop gerig om verantwoordelike innovasie te bevorder.”

Volgens die IFWG is die besluit om kriptobates formeel te begin reguleer, meegebring deur ’n kombinasie van verwikkelings in die mark, insluitende die groot belangstelling van die man op straat daarin en die gevolglike noodsaak om verbruikers te beskerm.

Die ander verwikkelings in die mark sluit in die groeiende probleem wat deur reguleerders ondervind word om tred te hou met die bedrywighede op die gebied in die afwesigheid van ’n regulerende raamwerk, en die gepaardgaande verpligte verslagdoening en inligtingsvereistes.

Die IFWG beklemtoon die besluit om kriptobates te reguleer is dus daarop gerig om “verantwoordelike innovasie” aan te moedig.

Meer oor:  Fsca  |  Reserwebank  |  Geldwassery  |  Regulasies  |  Kriptogeld  |  Belasting  |  Bitcoin  |  Bateklasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.