Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Speel poker om goed te belê

Poker is ’n kaartspel waarin jy nie die beste kaarte hoef te hê om te wen nie. As jou teenstanders gló jy het die beste kaarte, sal hulle misluk en die boerpot vir jou laat.

Maria Konnikova beskou die kaartspel poker as ’n uitstekende manier om te leer om beter besluite te neem. Foto: Verskaf

Maar vir sukses in poker het jy meer nodig as goeie toneelspel. Dit verg ook selfdissipline, selfbeheersing en ’n goeie begrip van waarskynlikheidsberekening (probability theory) – dieselfde vaardighede wat ’n mens nodig het wanneer jy besluite oor beleggings neem.

Hoe ontwikkel jy dié vaardighede?

“Speel poker! Dit is ’n ongelooflike leerskool,” sê Maria Konnikova, ’n Amerikaanse skrywer met ’n doktorsgraad in sielkunde, en die topverkopers The Confidence Game (2016) en Mastermind: How to Think Like Sherlock Holmes (2013) agter haar naam.

Vir haar jongste boek, The Biggest Bluff, wat later vanjaar uitgereik word, het sy navorsing gedoen oor die rol van geluk in die lewe, en hoe ’n mens steeds jou beste spel kan speel al bevind jy jou in ’n situasie waar jy teen ’n oormag van waarskynlikhede stry.

Konnikova, wat onlangs ’n gasspreker op die Allan Gray-beleggingseminaar in Kaapstad en Johannesburg was, glo ’n mens leer die beste uit persoonlike ervaring. Vir haar boek het sy nie net nagelees en onderhoude gevoer nie; die wêreld-pokerkampioen Erik Seidel het haar in 2017 toegelaat om hom dop te hou terwyl hy poker speel en sy het self ook begin deelneem aan toernooie.

En in 2018 wen sy toe selfs ’n groot pokerkampioenskap in Las Vegas.

Om te leer om die verlies maar te dra, is ’n les wat ’n belegger móét leer.
Maria Konnikova

Dis egter die manier waarop mense besluite neem, en die faktore wat besluitneming beïnvloed, wat haar van jongs af fassineer. In poker het sy vir die eerste keer ’n stuk gereedskap ontdek wat haar gehelp het om haar eie besluitnemingproses te verbeter.

“Ons almal het vooroordele. En ek dink nie ons kan ooit daarvan ontslae raak nie. Vooroordele en heuristiek (die kortpaadjies wat ons vat wanneer ons dink) is so kragtig, want dis universeel.

Poker is nie dobbel nie; dit is ’n spel van vaardigheid, sê die Amerikaanse skrywer en sielkundige Maria Konnikova. Foto: Neil Stoddart, PokerStars

“Ons kan daarvan bewus wees, maar dit laat dit nie verdwyn nie. Maar ek dink tog ons kan verbeter en keer dat vooroordele ons besluitnemingsproses élke keer beïnvloed. Ons kan leer om onsself beter te monitor en dis hier waar poker ’n puik leermeester is,” het Konnikova aan Rapportgesê.

Anders as skaak, waar al die inligting op die bord is en die spelers mekaar se skuiwe kan antisipeer, is die inligting in poker onvolledig, want ’n wesenlike deel van die inligting is onbekend. Spelers kan nie mekaar se kaarte sien nie, en die kaarte op die tafel word ronde vir ronde ontdek.

Iemand wat met selfvertroue meer en meer geld verwed namate die rondes aangaan, het óf regtig ’n goeie stel kaarte óf hy probeer die ander laat twyfel aan die sterkte van hul kaarte.

So is dit ook in die lewe – en die markte en die politiek.

“Dit is ’n bose (wicked) omgewing,” sê sy. “Dit is oneerlik en onseker en jy ontvang nie akkurate inligting nie. Jy moet heeltyd besluite neem, maar jy kan dit nie grond op sekerhede nie, net op waarskynlikhede. En poker leer jou hoe ’n waarskynlikheid van 3% voel.”

Die besef dat bitter min dinge in die lewe seker is, kan ’n mens oorweldig. Ons vermy eerder dié realiteit en tree op asof die meeste dinge seker is. Dit help dat ons nie mal raak nie, sê Konnikova. En ons span natuurlik ook ons vooroordele in, wat die besluite vir ons kan neem.

Sy noem ’n paar voorbeelde:

  • Die illusie van beheer: Ons is geneig om ons vermoë te oorskat om gebeurtenisse te kan beheer. “Mense wat regtig slim is en goed is in wat hulle doen, is baie vatbaar vir dié illusie, want hulle is normaalweg ongelooflik goed daarmee om dinge te beheer,” sê sy.
  • Die optimisme-vooroordeel: Dit veroorsaak dat ’n mens glo dat die kans dat iets slegs met jou sal gebeur, skraler is as vir ander.
  • Die seleksie-vooroordeel: Dit is wanneer ons individue, groepe of data kies wat ons wil ontleed, maar nie ’n ewekansige steekproef verkry nie, wat beteken die steekproef is nie verteenwoordigend van die bevolking wat ons wil ontleed nie.

Ons val ook vir dié drogredenasies:

  • Die sunk cost-redenasie: Wanneer ons reeds geld, tyd, en moeite aan iets bestee het, hou ons aan om daarin te belê, al werp dit nie vrugte af nie. “Om te leer om die verlies maar te dra (cut your losses), is ’n les wat ’n belegger móét leer. ’n Mens kan nie terugkry wat jy reeds bestee het nie, maar jy kan vir seker beter doen met dit wat jy nog het.”
  • Die dobbelaar se redenasie: Dit is die misplaaste geloof dat, indien iets meer dikwels as gewoonlik gebeur in ’n gegewe tydperk, dit in die toekoms minder dikwels sal gebeur. “Ek speel nou lank sonder om te wen – dié keer gaan ek wen.”
  • Die verbindingsredenasie, ook bekend as die Linda-probleem (conjunction fallacy): Dit gebeur wanneer ’n mens aanneem dat twee spesifieke toestande saam meer waarskynlik is as ’n enkele algemene toestand.

  

Die rol van emosies

  

Binne ’n jaar nadat sy die kaarte opgetel het, het Maria Konnikova ’n groot pokertoernooi in Las Vegas gewen. Sy is deesdae ’n professionele pokerspeler en ’n PokerStars-ambassadeur. Foto: Neil Stoddart, PokerStars

Benewens dié kognitiewe vooroordele, kan emosies ook jou besluitneming beduiwel.

“Daar is bevind dat die aandelemark op reënerige dae daal, en styg op die dag nadat ’n land se span ’n wêreldbekerwedstryd gewen het,” lag sy.

“Poker leer jou om jou emosies te identifiseer en te beheer, sodat jy nie onwillekeurig op jou eerste instink reageer nie. Wanneer jy ’n goeie stel kaarte kry, kan jou opgewondenheid vinnig oorverhit tot vreesloosheid.

“Dan raak jy roekeloos – en dan word jy op jou plek gesit.

“Ek het geleer om die temperatuur van die tafel te bepaal, en te kyk wat die spelers doen. Is hulle te wild, of te konserwatief?

“Dan vra ek myself af: ‘Hoe kan ek voordeel trek uit die foute van die strategie wat hulle volg? Moet ek meer waag, of rustiger raak?’

“Die probleem is – en dit geld beleggings ook – dit is ongemaklik om teen die stroom in te gaan. Maar uiteindelik is dit juis dít wat jou help om te maksimaliseer.”

Nog ’n belangrike vaardigheid is om aan te pas by ’n omgewing wat verander. Aan die begin van ’n spel kan jou stel kaarte baie belowend lyk, maar met elke nuwe kaart op die tafel kan dinge agteruitgaan.

Wanneer jy ’n goeie stel kaarte kry, kan jou opgewondenheid vinnig oorverhit tot vreesloosheid. Dan raak jy roekeloos – en dan word jy op jou plek gesit.
Maria Konnikova

Jy moet soms jou trots sluk en erken dat dinge verander het, en die impuls van die ego weerstaan wat wil voorgee dat alles nog is soos op die tydstip toe jy jou besluit geneem het.

Die vraag is: “Hoe neem ek die beste besluit wat ek kan, met die inligting wat op die oomblik tot my beskikking is? Ek weet dat ek nie seker kan wees nie, want net die dood is seker.

“Wat ek moet doen, is om keer op keer die uitkoms met die hoogste moontlike waarde te kies. As ek dit doen, en die mark doen iets mals, wat niemand voorsien het nie, kan ek sê, ‘Goed, ek het geld verloor, maar my besluit was rasioneel en ek sou weer tot daardie gevolgtrekking kom as ek oor moes kies.

“Jy moet ook besef daar gaan jare wees dat jy gaan verloor, selfs al is jy goed met wat jy doen. Dit is nie omdat jy skielik sleg is nie, maar omdat die waarskynlikhede voortdurend teen jou is. As jy die besluit bly neem wat jou met ’n waarskynlikheid van 65% sal laat wen, en die 35% hou aan gebeur, is dit in die haak. Dit gebeur. Dit is veronderstel om 35% van die tyd te gebeur!

“Solank jou besluitnemingproses beredeneerd is, jy jou opsies geweeg het en die beste besluit geneem het met die inligting wat jy het, het jy jou werk gedoen.

“Dan is die res buite jou beheer en jy kan jou nie daaroor bekommer nie.

“Onthou net, moet nooit bo jou vermoë speel en meer geld instoot as wat jy kan bekostig nie. Anders gaan jy nie op lang termyn oorleef nie.”

Meer oor:  Poker  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2166,42 (6537)
  • Top 40 50873,9 (-92763)
  • All Share 56895,23 (-95867)
  • Resource 10 44008,16 (-31170)
  • Financial and Industrial 30 77574,91 (-167298)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.