Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Strenger regulasies vir kripto-handelaars beplan
Plaaslike verhandelingsplatforms van digitale geld soos bitcoin sal eersdaags dalk as verskaffers van finansiële dienste moet registreer. Foto: Unsplash

Verhandelingsplatforms van digitale geldeenhede soos bitcoin gaan dalk aan dieselfde reëls en regulasies onderworpe wees as ander verskaffers van finansiële dienste.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het onlangs ’n voorstel uitgereik dat bestaande wetgewing gewysig word om kriptogeld in te sluit by die definisie van “finansiële produkte”.

Indien die wetgewing deurgevoer word, sal verhandelingsplatforms soos Luno aan dieselfde wetgewing moet voldoen as byvoorbeeld banke en versekeraars wat albei as verskaffers van finansiële dienste beskou word.

Luno verwelkom die voorstel deur die FSCA, sê Marius Reitz, hoof van Luno in Afrika.

“Die belangrike rol van kriptogeld in die toekoms van geld, word al hoe duideliker.”

Luno is ook ten gunste van regulering vir die bedryf.

“Dit gaan nou makliker word vir die publiek om te onderskei tussen ’n gelisensieerde en ’n ongelisensieerde verhandelingsplatform,” sê hy.

Dit sal dus die besluit vergemaklik oor watter platforms veiliger is om te gebruik as ander, meen Reitz.

Dit verhoog ook die kans dat meer Suid-Afrikaners in kriptogeld sal belê.

“Regulering sal ook die standaard verhoog waaraan nuwe verhandelingsplatforms moet voldoen en so slegte rolspelers met ’n lae aansien en vermoë uit die weg ruim.”

Dit sal uiteindelik help om beleggers se geld te beskerm.

“Duidelike riglyne in Suid-Afrika (en wêreldwyd) sal die aanvaarding van digitale geld aanhelp, wat stabiliteit en vertroue sal verhoog.”

Indien die FSCA verhandelingsplatforms van kriptogeld tot verskaffers van finansiële dienste verklaar, sal elkeen by die owerheid moet registreer voordat hulle in digitale geld mag verhandel.

Geregistreerde platforms sal dus ook aan finansiële wetgewing moet voldoen soortgelyk aan banke.

Bestaande verhandelingsplatforms sal vier maande gegun word om by die FSCA te registreer as finansiëlediensteverskaffer vanaf die dag waarop die voorgestelde regulasies ingestel word.

Luno voldoen reeds op ’n vrywillige grondslag aan ’n verskeidenheid regulatoriese vereistes, sê Reitz.

Hy is reeds geregistreer by die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) en voldoen aan dieselfde reëls en regulasies as “tradisionele” instellings soos banke.

Dit beteken nuwe beleggers by Luno moet ook Fica-dokumentasie inhandig. Verdagte transaksies word ook deurgaans gemonitor om moontlike gevalle van geldwassery uit die weg te ruim.

Volgens Reitz is Luno ook by verskeie ander finansiële owerhede geregistreer in die ander lande waarin hy sake doen.

Die publiek en rolspelers in die bedryf kan tot einde Januarie kommentaar lewer op die voorgestelde verandering aan die FSCA se regulering van finansiële dienste in Suid-Afrika.

Bitcoin-prys styg skerp

Die prys van een bitcoin het in die laaste maand met meer as 30% tot R302 300 toegeneem.

Dit is die hoogste vlak in drie jaar.

Die bitcoinprys het sedert die begin van die jaar reeds met bykans 160% gestyg.

In dollarwaarde het bitcoin Woensdag teen $19 139 verhandel. Dit is net effens minder as sy hoogste vlak in Desember 2017 toe een bitcoin $19 783 gekos het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.