Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Stroom spaargeld slaan rekord in 2020

Die rekordbedrag spaargeld wat tydens die pandemie effektetrustfondse binnegestroom het, het selfs die bedryf verras. Een rede daarvoor is vermoedelik afleggingspakkette wat belê is.

Beleggers het altesame R213 miljard méér in effektetrustfondse belê as wat hulle onttrek het (netto invloei).

Volgens Sunette Mulder, senior beleidsadviseur van die Vereniging vir Spaar en Belegging (Asisa), is dit die grootste netto invloei wat die bedryf in sy geskiedenis van 55 jaar beleef het.

Sterk op koers na R3 000 mjd.

Die geld wat ingestroom het, het die bates onder bestuur in effektetrustfondse van net minder as R2 500 miljard (in Engels R2,5 trillion) skerp met amper 10% opgestoot tot R2 730 miljard.

Die bedryf se bates onder bestuur het die afgelope dekade amper verdriedubbel. Einde Desember 2010 was die bates minder as R1 000 miljard.

“Dis ’n verrassing, gegewe die wisselvalligheid en onsekerheid wat die pandemie veroorsaak het.”

Die rekordjaar kom danksy die hoogste netto invloei tot nog toe in die kwartaal tot einde Junie, van R88 miljard.

Mulder sê hulle vermoed dié kwartaal se sterk invloei hou verband met afleggings en mense wat van hul afleggingspakkette in effektetrustfondse belê het.

k

Minder waaghalsig

Die grootste gedeelte van die spaargeld wat ontvang is –R90,2 miljard – het na geldmarkfondse gestroom.

Dit is deel van die kategorie fondse wat in rentedraende instrumente belê is. Dié kategorie het feitlik al die geld ontvang verlede jaar omdat dit as veiliger beskou word deur beleggers.

Die totale spaarpot van beleggers in effektetrustfonste is sterk op koers na R3 000 miljard. Foto: Unsplash

Fondse wat in korttermyn- rentedraende instrumente belê, het R65 miljard ontvang en dié met ’n veranderlike termyn R28 miljard.

“Beleggers het verlede jaar klaarblyklik amper heeltemal hul aptyt vir risiko verloor en het fondse wat in rentedraende bates belê is, hul eerste keuse gemaak.”

Sy meen die geld wat ingestroom het, dui dalk daarop dat beleggers ’n buffer wou opbou, maar in fondse wou wees waar hulle weer maklik en vinnig hul geld kon onttrek.

Die geld is nie net van verbruikers afkomstig nie, maar ook van maatskappye en pensioenfondse.

Mulder sê hulle vermoed nadat die rentekoers verlede jaar met drie persentasiepunte verlaag is, is aantrekliker opsies gesoek om te spaar en daarom is beleggers na die effektetrustbedryf gelok.

Banke het egter ook baie groot spronge in deposito’s beleef.

Alan Pullinger, uitvoerende hoof van FirstRand, wat FNB besit, sê die sterk groei in deposito’s is sedert Maart beleef. “Dit is duidelik die skok van Covid-19 wat die gedrag veroorsaak het.”

Dit kan ook wees dat die inperking verbruikersbesteding op ander produkte en dienste verminder het en hulle meer los spaargeld gehad het.

k

Aandelefondse

Beleggers het vir die tweede jaar agtereenvolgens meer geld onttrek as belê in effektetrustfondse wat net in aandele belê.

Suid-Afrikaanse beleggers is tradisioneel minder waaghalsig as elders in die wêreld omdat baie minder van hul geld in suiwer aandelefondse belê is.

Beleggers het die afgelope vyf jaar stelselmatig weg van fondse geskuif wat in aandele en oor verskillende bateklasse belê is.

Vyf jaar gelede was 24% van totale geld in effektetrusts wat in rentedraende instrumente belê en nou is daar 35%.

Sy sê daar is vrae oor wat dié verskuiwing veroorsaak en of dit is vanweë die prestasie wat die bateklasse lewer, of dit maatskappye is wat hul kontant bewaar en of dit is omdat beleggers minder risiko wil neem.

“Ons glo dit kan ’n kombinasie daarvan wees.”

Beste opbrengste

Die verskuiwing na fondse wat in rentedraende instrumente belê, is dalk nie verrassend nie gegewe die opbrengs wat hulle gelewer het.

Die fondse het vir die jaar en vir die vyf jaar tot einde Desember die hoogste gemiddelde prestasie gelewer nadat beleggingskoste afgetrek is.

Geldmarkfondse het die tweede hoogste opbrengs (ná beleggingskoste) gelewer oor die jaar tot einde Desember en die derde beste prestasie oor vyf jaar tot einde Desember.

Op langer termyn (tien en 20 jaar) is dit egter ’n ander storie, want dan vaar fondse met ’n hoë blootstelling aan aandele beter.

k
k
k
Meer oor:  Asisa  |  Beleggings  |  Effektetrustfondse  |  Geldmark  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.