Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Swendelaars kry só Hummer, Jaguar in ruil vir pak vleis

'n Onderneming wat as ’n stokvel bemark is, maar na bewering ’n piramideskema bedryf het, het R18 miljoen van beleggers se geld aangewend om onder meer drie luukse voertuie – ’n Audi TT, ’n Hummer H3 en Jaguar XKR-koepee te koop.

Só lyk die luukse voertuie waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf
Só lyk die luukse voertuie waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

Adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging en hoof van die batebeslagleggingseenheid (AFU) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê sowat 230 000 mense is met die skema ingeloop.

Rabaji-Rasethaba het Dinsdag op ’n mediakonferensie van die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) die media ingelig oor die ondersoek na ’n piramideskema genaamd Up Money.

Up Money bemark homself op sy webtuiste  as ’n stokvel, maar volgens die NVK is dit nie as een geregistreer nie en ook nêrens as ’n finansiëlediensteverskaffer of by die Reserwebank geregistreer nie. 

Die NVK het kragte met die AFU en die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) in die ondersoek saamgesnoer. Dit het tot die bevriesing van bankrekeninge en beslagleggings op bates gelei, waaronder die drie luukse motors.

Piramideskemas is ingevolge art. 43 (2) van die Wet op Verbruikersbeskerming onwettig.

Up Money het die Covid-19-pandemie en kommer oor voedselsekerheid wederregtelik uitgebuit om verbruikers te oortuig om aan die Up Money-skema deel te neem.

Die hooggeregshof in Johannesburg het ’n bevel aan die AFU toegestaan om die bankrekeninge waarheen die geld gevloei het te bevries. Daar is R18 miljoen gevind en daar is ook op die voertuie beslag gelê.

Die bankrekeninge behoort aan die ondernemings Up Money en Unnitco wat na bewering aan Jade Matsemela en Sipho Martin Mdlhuli verbind word. Hulle is onderskeidelik die direkteur en ’n voormalige direkteur van die ondernemings Up Money en Uniitco.

Die drie motors is direk met geld uit Uniitco se bankrekening gekoop.

Die swendelaars het hoofsaaklik sosiale media gebruik om nuwe lede te werf. Nuwe deelnemers moes R180 betaal om aan te sluit en dan het hulle ’n pak vleis gekry. Die nuwe lede moes dan weer vyf ander mense werf om deel te neem. Die oorspronklike lid sou sy nuwe lede help om nog vyf mense te werf en kon dan van vlak een tot vlak twee beweeg. Die voordele wat dan ontvang is, is ’n pak vleis, kruideniersware en R500. Op vlak 3 is al die voordele van vlak twee plus R3 000 ontvang.

Hoewel die skema R42,7 miljoen tussen 4 Mei en 2 Julie ontvang het, is meer as R12,5 miljoen aan die luukse motors bestee, asook vir aankope by verskillende kleinhandelaars.

Die NVK is deur ’n klaer van Oos-Londen van die skema verwittig.

Rabaji-Rasethaba sê die bewaringsbevel is die afgelope twee weke gekry en daar is op R18,3 miljoen beslag gelê in ’n FNB-bankrekening van Up Money en R205 586 in ’n bankrekening by dieselfde bank van Uniitco.

Rabaji-Rasethaba sê die samewerking tussen die eenhede het tot die sukses met die ondersoek gelei. Daarsonder sou dit nie moontlik gewees het nie.

Sy het bevestig die individue wat betrokke is, gaan strafregtelik vervolg word en die klagte kan bedrog en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad insluit.

Volgens Rabaji-Rasethaba is ’n strafsaak geopen en die strafregtelike ondersoek duur voort.

Meer oor:  Up Money  |  Nvg  |  Nvk  |  Fic  |  Bedrog  |  Beslaglegging  |  Piramideskema  |  Swendelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.