Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: 3 risiko’s, 3 planne vir jou geld in 2019

Die afgelope vier jaar was nie ’n goeie tydperk vir beleggers nie, met die JSE wat steeds om vlakke verhandel wat ons vir die eerste keer in Julie 2014 gesien het. Januarie is dan ook die tyd wanneer mense weer opnuut dink aan hul voornemens vir 2019 en ook bestook word met voorspellings en raaiskote van wat die nuwe jaar gaan inhou.

Theo Vorster Foto:

In dié rubriek gaan ek drie voorspellings maak en ook drie Nuwejaarsvoornemens voorstel.

Soos lesers teen dié tyd weet, is ek baie ongemaklik om belangrike besluite te neem bloot op grond van ons vermoë om akkuraat te voorspel. Ek gaan dit tog waag om drie voorspellings te maak:

1. Beleggers gaan in die truspieël kyk

Beleggers gaan in die strik trap om die afgelope jaar (en selfs vier jaar) se markbewegings te wil ekstrapoleer en gaan in die versoeking wees om te veel klem op hierdie tydperk te plaas en daarvolgens vergeet om op langtermynbeginsels te fokus.

Dit is soos om te bestuur en jou oog op die truspieëltjie te vestig en nie op die pad voor jou nie. In baie gevalle is JSE-maatskappye van goeie gehalte 30% tot 50% goedkoper as ’n paar jaar gelede – vir seker maak dit juis nou sin om meer aandag aan dié maatskappye te gee en die dalings eerder as winskoopgeleenthede te sien.

2. Verwag die onverwagse

Daar gaan dinge gebeur wat niemand voorspel het nie, wat nie sin maak nie en waarop niemand werklik voorbereid was nie.

Die enigste manier om hierdie onvoorspelbare en onvoorsiene gebeure die hoof te bied, is om seker te maak jou beleggings en portefeulje is goed genoeg gediversifiseer sodat sowel opbrengs as risiko uit verskillende bronne genereer word, maar ook dat jy voldoende verskans is teen sowel jou kort- as langtermynrisiko’s.

3. Jy gaan raad kry

Jy gaan gekonfronteer word met mense wat met hul goeie beleggingsprestasie spog – in baie gevalle gaan hulle uitmaak asof almal dit moes geweet het en as jy maar net na hulle geluister het ...

Maak seker jy onderskei tussen kundigheid en geluk. ’n Stukkende horlosie is twee keer per dag ook reg.

Maak seker jy onderskei tussen kundigheid en geluk – onthou altyd dat as jy ’n paar keer gelukkig was om reg te raai, dit alleen geensins van jou ’n kenner maak nie!

’n Stukkende horlosie is twee keer per dag ook reg.

My drie voorgestelde Nuwejaarsvoornemens is:

1. Dink aan jou nalatenskap

Bestee ’n bietjie tyd om na te dink oor die nalatenskap wat jy graag aan jou mense wil laat.

Vergeet eers van jou testament, boedelstruktuur en kapitaal – fokus eerder op jou bedoelings, wyshede en lewenslesse, asook in watter mate jy seker is dat sowel die proses as uitkoms wel gaan gebeur soos jy dit wil hê.

Onthou altyd dat die dokumentasie (testament en boedelstrukturering) koue regsdokumente is wat bloot uitvoering aan jou bedoelings moet gee – nooit andersom nie. Deur eerder te fokus op jou nalatenskap (wat kapitaal, lewenslesse en wyshede insluit), maak jy die hele proses makliker!

2. Belê meer

As jy maandeliks bydra tot ’n belegging, hetsy ’n pensioenfonds of groeifonds, probeer jou bydraes vir die volgende drie tot ses maande verhoog – vir elke rand wat jy wegsit, kry jy baie meer waarde as enige tyd die afgelope vyf jaar!

3. Beskou jouself as ’n wêreldburger, veral wat beleggings en jou kapitaal betref.

Jy kan steeds in Suid-Afrika bly (sonder enige plan om te emigreer), maar as dit by beleggings en jou kapitaal kom, bly ons in ’n klein, oop ekonomie en boonop dan nog in ’n jong en lustelose demokrasie.

Die vraag is nie of jy kapitaal in die buiteland met hê nie – die vraag is eerder hoeveel, wanneer en in watter voertuig dit belê moet word.

Hierdie kopskuif behoort deel van jou denkpatroon en beleggingsstrategie te wees.

Tydens ’n onderhoud in 2018 maak Jannie Mouton, stigter en afgetrede voorsitter van PSG, ’n opmerking met die strekking dat Suid-Afrikaners moet lig loop om nie almal deskundiges te word oor die land se probleme nie. Ons moet eerder daarop fokus om kundiges te raak oor die geleenthede in die land.

’n Sprekende voorbeeld van dié ingesteldheid is by ons boere te sien – hulle sal lekker met jou oor die uitdagings en probleme gesels, van die weer tot die grondvraagstuk, maar as jy in die bakkie klim en deur die plaas ry, loop die gesprek oor met trots, geleenthede en nuwe planne.

Dit is juis die voorvoet-denkers en nuweplan-ouens wat onsekerheid en wisselvalligheid as geleenthede gebruik!

Alles van die beste vir 2019 – ek vertrou dit gaan ’n jaar vol lekker onverwagse verrassings wees!

  • Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n spreker oor beleggings, landbou en politiek-ekonomiese vraagstukke. 
Meer oor:  Theo Vorster  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.