Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: As jy dít verstaan, is jou kop deur
Theo Vorster

Tydens die afgelope twee weke se Sake & Sauvignon-aanbiedings by die Innibos-fees in Nelspruit en die Vryfees in Bloemfontein het ek weer tot die besef gekom hoe moeilik dit is om saamgestelde groei te verstaan.

En tog is dit sekerlik een van die magtigste instrumente tot enige belegger se beskikking.

Om dié krag te verduidelik, het ek ’n paar haalbare en eenvoudige aannames gemaak en dit op verskillende tydshorisonne toegepas. In die voorbeeld gebruik ek die huidige raamwerk waarbinne belastingvrye spaarprodukte verpak word. In kort:

  • Alle beleggers mag R33 000 per jaar belê met ’n maksimum plafon van R500 000 oor hul leeftyd.
  • Ná die 15 jaar word die belegging net so gelaat totdat beleggers die ouderdom van 65 jaar bereik.
  • Let dat hierdie opbrengste en onttrekkings belastingvry is en daarom laat ek enige spesifieke belastingstrukturering uit alle berekeninge.
  • Om die effek van inflasie uit te laat (anders raak die somme mal met hope nulle!), gebruik ek ’n reële opbrengs van 4% per jaar (dus gemiddeld 4% bo inflasie per jaar) – in pas met langtermynopbrengskoerse, mits die belegging genoeg blootstellings aan groeibates het wat wel binne belastingvrye produkte beskikbaar is.

  • Die groeibates bestaan hoofsaaklik uit genoteerde kommersiële eiendom en aandele, met ’n gesonde verspreiding tussen plaaslike en internasionale bates, soos dit enige langtermynbelegging betaam.

Die grafiek hierby wys die krag van saamgestelde groei – beleggers se eie bydraes en dan die kapitaal wat vir beleggers werk. Soos die tyd aanloop, raak die groei op groei beduidend meer as die bydraes wat gemaak is.

opbrengs, beleggings

Hoewel beleggers vir die eerste 15 jaar bydraes gemaak het (totdat die maksimum van R500 000 bereik is) en daarna opgehou bydraes maak het, gaan die groei op groei die bydraes verby 25 jaar en word die groei op groei ’n al hoe groter deel van die belegging soos die krag van saamgestelde groei in die guns van beleggers werk.

Om die effek verder te neem: As iemand by geboorte die R33 000 per jaar tot ’n maksimum van R500 000 ná 15 jaar belê, sal daardie persoon in vandag se geld (onthou ek moduleer die effek van inflasie uit al die berekeninge om die beginsel meer verstaanbaar te maak) nagenoeg R5 miljoen se beleggings hê op ouderdom 65.

Van dié R5 miljoen is sowat 10% eie bydraes en 90% groei op groei – die wonder van saamgestelde opbrengste. Dié R5 miljoen kan aan beleggers ’n maandelikse inkomste van sowat R18 000 (in vandag se geld!) lewer wat elke jaar met inflasie verhoog en sal hou totdat die belegger ten minste 100 jaar oud is!

’n Belegger wat byvoorbeeld op die ouderdom van 25 jaar begin en vir 15 jaar die R33 000 per jaar belê totdat die maksimum van R500 000 op ouderdom 40 bereik is en dan die kapitaal laat tot ouderdom 65, gaan dan ’n bedrag van net minder as R2 miljoen hê waarvan sowat 25% eie bydraes was en amper 75% groei op groei sal wees. Dié R2 miljoen op ouderdom 65 behoort aan die belegger ’n maandelikse inkomste van R6 000 te gee, wat jaarliks met inflasie verhoog en sal hou tot ouderdom 100.

As dit kom by dinge soos opvolgbeplanning by familie-ondernemings of boerderye, is dít die ideale instrument en berekeninge om vroegtydig kapitaal te bou om te sorg dat generasies onafhanklik uit die besigheid of boerdery kan tree of vir grootouers om die krag van saamgestelde groei te gebruik om kleinkinders op hul oudag finansieel onafhanklik te laat.

Geen wonder nie dat Laurie Dippenaar (medestigter van die FNB-groep) meen: “Mense wat saamgestelde rente (of groei) verstaan, verdien dit en mense wat dit nie verstaan nie, betaal dit.”

Hoewel ek in dié voorbeeld belastingvrye produkte gebruik het, is die berekeninge net so toepaslik op ander beleggingsprodukte. Beleggers moet altyd in gedagte hou dat belastingstrukturering net so belangrik is wanneer belê word (bydraes gemaak word) as wanneer daar van die kapitaal gelewe moet word.

Net soos wat niemand ’n plaas koop omdat hy dink dit gaan volgende maand of jaar reën nie, net so moet jy ’n tien- of 20-jaarsiening neem as dit by langtermynbeleggings en saamgestelde groei kom, om hierdie krag aan jou kant te kry!

  • Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n spreker oor beleggings, landbou en politiek-ekonomiese vraagstukke. Dié rubriek was deel van die weeklikse nuusbrief Sakegesprek, wat Dinsdae aan intekenare wat dit wil ontvang, gestuur word. Gaan na jou Netwerk24-profiel as jy ook die nuusbrief in jou e-posmandjie wil ontvang.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2484,77 (9054)
  • Top 40 48545,62 (-10133)
  • All Share 54280,79 (-10551)
  • Resource 10 42993,1 (-27592)
  • Financial and Industrial 30 73252,99 (-2724)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.