Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: Fokus op wat jy kan beheer

Mark Twain het gereken Oktober is spesifiek ’n gevaarlike maand om in die markte te spekuleer.

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Volgens Twain is van die ander gevaarlike maande Julie, Januarie, September, April, November, Mei, Maart, Junie, Desember, Augustus en Februarie!

Die volgende vier weke gaan inderdaad interessant wees en wees baie versigtig om oor die uitkomste van hierdie gebeure te spekuleer – dit kan Mark Twain dalk net reg bewys.

Daar is veral drie datums wat die ekonomiese en politieke trajek kan beïnvloed.

  • Op 16 Oktober maak pres. Cyril Ramaphosa meer besonderhede van sy langverwagte ekonomiese groeiplan bekend.
  • Die minister van finansies lê op 21 Oktober die tesourie se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aan die parlement voor.
  • Op 3 November kies die Amerikaners hul president wat van 12:00 die middag van 20 Januarie 2021 vir vier jaar aan die hoof van die wêreld se grootste ekonomie gaan staan.

Die kern van Suid-Afrika se ekonomiese, en grootliks ook maatskaplike, probleem is die feit dat die ekonomie nie aan die groei kom nie. Indien ons ekonomiese groei kan bewerkstellig, raak die meeste van ons ander probleme skielik meer hanteerbaar.

Sonder ekonomiese groei staar ’n sekere ekonomiese inploffing ons in die gesig.

Ramaphosa se planne wentel dan juis rondom planne om ekonomiese aktiwiteit, deur ’n reeks ambisieuse projekte, aan die gang te kry.

Met die staat wat basies platsak is, vertrou ’n mens dat hierdie projekte so gestruktureer gaan word dat private kapitaal op kommersiële terme en binne ’n gesonde bestuursraamwerk betrek word.

Om beleggings en pensioenfondse te probeer verplig om deel van die projekte te word, hou eenvoudig net te veel risiko in – veral gemeet aan die patetiese prestasie en gebrek aan kundigheid binne die staat as dit by die bestuur van groot kapitaalprojekte kom.

Die MTBR wat Tito Mboweni bekend maak, gaan vir Suid-Afrikaners uitstippel hoe diep in die moeilikheid ons nou eintlik is. Mboweni het reeds gewaarsku dit gaan nie goeie nuus wees nie, maar ook dat Suid-Afrika drastiese stappe moet doen, anders gaan die staatsfinansies inplof.

Met so ’n pap ekonomie gaan die inkomstekant onder beduidende druk wees en die opsie om belastings te verhoog gaan die reeds struikelende belastingbetaler plattrek.

Op watter planeet kan ons bevoorregte staatsamptenary kwansuis nou nog verhogings te wagte wees?

Die enigste alternatief sal moet wees om staatsuitgawes, en meer spesifiek die salarisrekening, in toom te bring. Moreel is dit nou die kans om die staatamptenare terug te druk – sover ek weet, was nie een van die meer as twee miljoen werkverliese die afgelope maande in die staatsdiensgeledere nie.

Op watter planeet kan ons bevoorregte staatsamptenary kwansuis nou nog verhogings te wagte wees?

Die Amerikaners gaan elke skrikkeljaar op die eerste Dinsdag in November na die stembus om onder meer ’n president te kies.

Wat vanjaar uniek maak, is die mate waarin die Amerikaners verdeeld is – jy is óf teen Trump en reken hy is niks meer as ’n bullebak uitsluitlik gefokus op sy eie ego nie, óf jy reken hy is die beste president wat die wêreld tot dusver gehad het en die enigste leier wat tussen die mensdom en anargie staan.

Ongelukkig vertroebel hierdie vooropgestelde sienings enige kanse op rasionele debatte en daarmee saam het die media tot so ’n mate kamp opgeslaan dat alle rapportering tragies voorspelbaar geraak het – ongeag die feite.

In hierdie stadium wys die meningspeilings dat Trump die verkiesing gaan verloor, maar dan weet ons ook hoe verkeerd die peilings en voorspellings in 2016 was.

Die Britse weekblad The Economist hou ’n daaglikse berekening by, waarvolgens hy alle meningspeilings wiskundig bywerk en daarvolgens ’n persentasie waarskynlikheid toeken aan albei kandidate se kanse om te wen. Tans reken The Economist se model dat Joe Biden ’n 92%-kans het om te wen, terwyl Donald Trump net ’n 8%-kans het om vir ’n tweede termyn herkies te word.

Tydens die Brexit-stem in Brittanje, wat die meningspeilings ook verkeerd voorspel het, het die beroepswedders die uitslag wel reggekry.

Die wenkans wat aan elke kandidaat gegee word, word bereken na gelang van die bedrag geld wat op ’n gunstige uitkoms vir daardie kandidaat verwed word.

As jy vandag $1 000 op Trump wed om te wen, en hy wen, kry jy $1 875 terug, terwyl as jy $1 000 op Biden wed en hý wen, kry jy net $1 400 terug.

Dit is duidelik in watter rigting die geld tans loop, maar soos die perde telkemale wys – die gunsteling wen nie altyd nie!

As jy ’n belegger is en kyk na hierdie groot gebeurtenisse, wys dit net weer hoe moeilik dit is om beleggingsbesluite te neem op grond van voorspellings en dan om te probeer voorspel hoe die markte op daardie uitslag gaan reageer.

Gooi dan nog Covid-19 en die nuutgevonde energie van die vervolgingsowerhede in die pot, dan wil ek eerder fokus op daardie dinge wat ek kan bestuur en beleggings so struktureer dat ek eerder die koms van die lente kan geniet – en wat hierdie groot datums betref, wil ek niks meer as ’n waarnemer wees nie!

  • Theo Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital.
Meer oor:  Theo Vorster  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.