Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: Haal die raaiwerk uit beleggings

Ek reken daar gaan nog baie films, sowel gedramatiseerde dokumentêre as suiwer stories gegrond op die afgelope week se gebeure, vervaardig word – ek praat van die gebeure in die Withuis.

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Ek voorspel dat die Oscar in vroeg 2022 toegeken gaan word aan die film The First 10 Days of November 2020 en sommer ook dat Suid-Afrika die Rugbywêreldbeker in 2023 in Frankryk gaan wen!

Op ’n ernstiger noot, as ek na die beweging van die finansiële markte die afgelope week kyk, wys dit maar weer eens hoe moeilik dit is om voorspellings te maak:

  • Die JSE se indeks van alle aandele het die afgelope week met sowat 10% gestyg.
  • Die Amerikaanse mark is die afgelope week met meer as 7% op.

Dit is egter die rand wat nogal interessant verhandel het as ’n mens na die week sou kyk. As jy met valutahandelaars gesels, is hul siening dat hierdie beweging baie nou aan die sentiment oor die Amerikaanse verkiesing gekoppel kan word – hierdie sentiment kon duidelik in die wêreld van beroepswedders waargeneem word.

k

Met die sluiting van die stembusse aan die Amerikaanse Ooskus het die beroepswedders ’n wenkans van sowat 30% aan pres. Donald Trump toegeken.

Soos wat die eerste uitslae begin inkom en Trump se kanse verstewig het met onder meer ’n vinnige wen in Florida en sterk aanduidings in van die ander state, het Trump se wen-kanse skielik bykans 80% gelyk.

En voorspellers het daaraan begin kou dat die meningspeilings weer eens hopeloos verkeerd was. By net een weddenskapagentskap, Betfair, is daar in die 24 uur ná die sluiting van die stembusse aan die Amerikaanse Ooskus meer as R2,5 miljard ($170 miljoen) op die uitslag verwed!

Namate die uitslae en projeksies meer voorspelbaar begin raak het en die onmiddellike skrik plek gemaak het vir rasionele denke, het die beroepswedders gou agtergekom dat die aanvanklike 30%-wenkans vir Trump baie nader aan die kol is en het die wisselvalligheid begin taan.

Die randdollarwisselkoers het presies dieselfde wipplankryery ervaar soos wat die sentimentpendulum Dinsdagnag en Woensdag geswaai het!

’n Mens sien duidelik op die meegaande grafiek hoe die rand aanvanklik teenoor die dollar verstewig het vanaf rondom R16,00 met die sluiting van die eerste stemlokale. En toe, net soos die beroepswedders skielik gemeen het die verwagting weereens verkeerd was, het dit verswak tot vlakke van rondom R16,40.

Maar helaas, namate die uitslae begin inkom en dit na ’n kant toe beweeg, het die rand begin herstel, net om teen die einde van die dag baie naby aan R15,50 teenoor die dollar te verhandel.

In my pas gepubliseerde boek Jou Geldsake – Hou kop in onseker tye, lig ek ons vermoë om voorspellings te maak uit as een van die gevare en bedreiging vir jou welvaart.

Net soos wat ek geen basis het om te voorspel dat daar ’n film met die titel The First 10 Days of November 2020 gemaak gaan word nie, en dan boonop dat daardie denkbeeldige film die Oscar gaan wen of dat die Springbokke in 2023 die Wêreldbeker gaan wen nie, net so min kan ek langtermynbesluite neem volgens my vermoë om ’n voorspelling te kan maak van watter week die JSE met 10% gaan klim, of hoe en wanneer die rand volgende gaan bokspring nie.

Die primêre doel met die boek is om lesers te help om hul foute te beperk en om eerder op langtermyn gesonde beginsels te fokus. Suksesvolle langtermynbeleggings is nie so moeilik nie – om daardie persoon in die spieël te bestuur, is die uitdaging!

  • Theo Vorster se boek Jou geldsake – Hou kop in onseker tye is beskikbaar by alle goeie boekwinkels teen R260 of bestel dit aanlyn by Takealot
  • Theo Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital.
  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Takealot word deur Naspers besit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.