Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: Hou kop as jy geld landuit vat

Dit is van tyd tot tyd belangrik om dinge so ’n bietjie in perspektief te plaas.

Theo Vorster

As ’n mens kyk na die relatiewe grootte van beleggingsmarkte, is die totale waarde van die maatskappye wat op die JSE genoteer is, relatief klein teen van die groter internasionale maatskappye.

Die markwaarde van Apple, Microsoft en Amazon saam is byna so groot soos die hele Londense Aandelebeurs, en

2,5 keer groter as die waarde van ál die JSE-genoteerde maatskappye saamgetel.

Die totale markwaarde van die JSE is nagenoeg $1 100 miljard, teenoor die drie tegnologiereuse se markwaarde van $2 600 miljard.

Amerikaanse aandelebeurse se markwaarde is gesamentlik meer as $24 000 miljard, wat beteken die waarde van die Amerikaanse mark is basies 22 keer groter as die totale waarde van alle Suid-Afrikaans genoteerde maatskappye!

My punt met dié syfers is dat ’n mens eenvoudig blootstelling aan internasionale maatskappye in jou portefeulje móét hê om te deel in die sukses van dié wêreldklas-ondernemings.

Vandag se Suid-Afrika is in ’n beter plek as die Suid-Afrika van die afgelope vyf jaar. Maar moenie verwag dat die verbetering in ’n reguit lyn opwaarts gaan plaasvind nie.
Theo Vorster

Een van die grootste vrae is juis wanneer om jou geld oorsee te neem, en dit is hier waar die gesprek gewoonlik emosioneel raak en waar rasionele denkprosesse by die venster uitvlieg soos die waarde van die rand wipplank ry.

Daar word tans baie gemaak van die verswakking in die waarde van die rand die afgelope maande. Die opmerking word gemaak dat die rand nou terug is by die waarde wat ons onder oudpres. Jacob Zuma se wanadministrasie gesien het.

Tegnies is dit heeltemal korrek – die rand verhandel weer by vlakke wat ons in die tyd van Zuma en sy kabaal gesien het.

As ons na die rand kyk, kom ’n mens altyd tot die slotsom politiek is slegs een van ’n paar faktore wat die beweging van die waarde van ’n geldeenheid bepaal. Om die waarheid te sê, die ekonomiese faktore agter die vloei van kapitaal speel ’n groter rol en die impak van politieke beleid word eers belangrik wanneer dit die onderliggende ekonomiese kragte begin beïnvloed.

Sedert die begin van die jaar is die rand sowat 10% swakker teenoor die Amerikaanse dollar. Daarteenoor is die Argentynse peso amper 50% swakker, die Turkse lire 20% swakker, die Russiese roebel ook sowat 10% swakker en dan is die Sweedse kroon, die Hongaarse forint en die Australiese dollar almal so tussen 8% en 9% swakker teenoor die dollar.

Die mees onlangse swakheid het baie meer te doen met sterker eerstewêreld-geldeenhede en ’n skuif van kapitaal uit opkomende geldeenhede terug na laerrisiko-eerstewêreld-geldeenhede as enigiets wat plaaslike politici aanvang!

Ons vergeet baie gou, maar in Junie 2017, met die rand op vlakke van R13 teenoor die dollar, het die eerste Gupta-e-posse begin uitlek, wat eers deur alle partye as snert afgemaak is.

Bell Pottinger was nog volstoom besig om al wat ’n Zuma-lakei is te beskerm en aggressief te velde te trek teen enige teenstander van die patronaatskapstruktuur. Vandag word dié kriminele aktiwiteite aktief ondersoek en behoort die eerste rampokkers in die afsienbare toekoms hul buiging in oranje uniforms te begin maak.

Neem ons die rand-dollar-wisselkoers oor die afgelope tien jaar en gebruik die verswakking in die koopkrag (dus die verskil tussen ons inflasiekoers en die Amerikaanse inflasiekoers) met ’n standaardafwyking as hulpmiddel, gee dit ’n mens ’n baie goeie prentjie van wanneer die rand uit koers met die onderliggende langtermyn- ekonomiese kragte beweeg.

Ek beveel sterk aan dat ’n mens moet sorg dat jou portefeulje goed gediversifiseerd is.

Wat my egter pla, is dat dieselfde mense wat nie hul geld so ’n paar maande gelede teen ’n wisselkoers van nader aan R12 teenoor die dollar landuit wou neem nie, nou skielik geld teen vlakke van amper R14 wil uitneem?

My advies is om te besluit presies watter deel van jou portefeulje in die buiteland moet wees en om dan rasioneel op die proses te besluit van hoe en wanneer dié diversifikasie in werking gestel gaan word.

Verkieslik moet jy jou geld in fases in die buiteland belê, byvoorbeeld kwartaalliks oor ’n tydperk van 12 of 18 maande. Begin onmiddellik met iets soos 25% van die beplande bedrag wat jy oorsee wil belê, om ’n voet in die deur te kry, en dan die saldo in pas met die plan met die mikpunt om ’n groot deel uit te neem wanneer die wisselkoers sterker as so R13,50 teenoor die dollar is.

Vandag se Suid-Afrika is in ’n beter plek as die Suid-Afrika van die afgelope vyf jaar. Maar moenie verwag dat die verbetering in ’n reguit lyn opwaarts gaan plaasvind nie en moet ook nie verwag dat ons die voordele sonder lekker wisselvalligheid, met die gepaardgaande geleenthede wat wisselvalligheid bied, gaan ervaar nie!

Geniet die vreugde opgesluit in onsekerheid – soos ’n eerstejaarstudent op pad universiteit toe of ’n toeskouer op pad na ’n toetswedstryd!

  • Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n spreker oor beleggings, landbou en politiek-ekonomiese vraagstukke. Hy skryf dié rubriek maandeliks vir die MuntSlim-nuusbrief, wat Woensdae aan intekenare wat dit wil ontvang, gestuur word. Gaan na jou Netwerk24-profiel of klik op die skakel op MuntSlim as jy ook die nuusbrief in jou e-posmandjie wil ontvang.
Meer oor:  Theo Vorster  |  Beleggings  |  Aandele  |  Wisselkoers  |  Rand  |  Buitelandse Beleggings  |  Oorsese Beleggings  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.