Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: Is jou beleggings bom-bestand?
Theo Vorster

In die Tweede Wêreldoorlog was bomwerpers ’n kerndeel van die Geallieerdes se strategie om Duitsland te verswak. Die uitdaging was dat dié groot, stadige vliegtuie maklike teikens was en gereeld deur die Duitse lugafweerkanonne raakgeskiet is.

Om die bomwerpers met bykomende staal te beskerm, sou hierdie vliegtuie nóg swaarder, stadiger en minder beweeglik maak. Dus moes enige ekstra staal tot die absolute minimum beperk word en baie strategies geplaas word om die maksimum beskerming aan die bomwerpers te kon bied.

Die Amerikaanse lugmag het prof. Abraham Wald, ’n Hongaarse Jood wat tydens die oorlog ’n professor in statistiek in New York was, getaak om te kyk na koeëlgate – presies waar die lugafweerkanonne die bomwerpers wat wel ná hul aanvalle teruggekom het, getref het.

Wald het die data gebruik om te besluit waar addisionele staalversterking die doeltreffendste sou wees.

Sake en Sauvignon

Theo Vorster bied van 3-6 Oktober beleggingslypskole by Aardklop aan. Sake en Sauvignon is gratis en word van 14:00-15:00 by die NWU Besigheidskool aangebied.

Klik hier vir die onderwerpe en meer inligting.

Wald merk toe op dat die meerderheid van die koeëlgate in die neus, vlerke en stert van die vliegtuie was en dat daar baie minder koeëlgate onder die enjin was.

Tradisionele logika sou dikteer (en dit is presies wat die lugmag wou doen) dat ’n mens daardie dele waar die meeste koeëlgate was, ekstra beskerming moet gee, maar Wald het die teenoorgestelde bevind: Die vliegtuie met koeëlgate in die neus, vlerke en stert het weer die basis gehaal, terwyl die vliegtuie wat onder die enjin getref is, dit eenvoudig nie gemaak het nie.

Wald se logika was om die vliegtuie te versterk waar die minste koeëlgate was, maar waar die meeste skade aanrig kon word. Dié metodiek word vandag steeds in die Amerikaanse lugmag gebruik!

In beleggingsmarkte is die eenvoudige afleiding gewoonlik juis die verkeerde afleiding. Eers as jy dieper kyk, maak jy die regte afleidings.

Die grootste fout wat beleggers maak, is om na ooglopende data te kyk en dan aan te neem dat dit ’n rasionele grondslag vorm om langtermynbesluite te neem. Van die grootste denkfoute wat ek tans sien:

  • Beleggers kyk na die korttermynprestasie en neem langtermynbesluite op grond van die korttermyn-markbewegings. Langtermynprestasie word deur die regte bateklassamestelling en nie deur dag-tot-dag-, maand-tot-maand- of selfs jaar-tot-jaar-prestasie bepaal nie. Die feit dat kontant ander groeibates die afgelope 12 maande uitpresteer het, is nie volhoubaar nie en kan nie die grondslag van ’n langtermynportefeulje wees nie!
  • In tye van onsekerheid gaan rasionaliteit by die venster uit en mense val vir allerhande duur waarborge wat op die vrese van beleggers staatmaak om hul produkte te smous. Die geskiedenis wys dat die groot wenners uit waarborge in die meeste gevalle die waarborgverkoper is wat wegstap met die wins en dat die koper van die waarborg uiteindelik eindig met waardevolle ervaring!
  • Mense verwag meer aktiewe verhandeling en begin staatmaak op hul of hul adviseurs se vermoë om die toekoms reg te raai. Aktiewe verhandeling, gegrond op die wanopvatting dat mense die toekoms reg kan voorspel en/of vooraf weet wanneer markte op/af gaan verhandel, werk eenvoudig nie as dit kom by die bou van ’n langtermyn-kapitaalbate nie.
  • Mense verstaan nie risiko vs. opbrengs nie. Alle beleggings gaan oor ’n risiko-opbrengs-verhouding – jy moet albei faktore wat die potensiële opbrengs moet lewer en die risiko’s wat jy neem om dit te behaal, deeglik verstaan. ’n Buitelandse belegging gaan meer op die bestuur van jou risiko as oor die najaag van die maksimum opbrengs – veral as jy geld uit jou eie besigheid of boerdery wil onttrek om oorsee te belê.

So van afleidings gepraat – het jy al ooit in die reën op ’n droë pad gery en die afleiding gemaak dat nat paaie veroorsaak dat dit reën? Sulke logika is in dieselfde klas as van die eenvoudige beleggingsafleidings wat ek deesdae al hoe meer hoor.

  • Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n spreker oor beleggings, landbou en politiek-ekonomiese vraagstukke. Dié rubriek was deel van die weeklikse nuusbrief Sakegesprek, wat Woensdae aan intekenare wat dit wil ontvang, gestuur word. Gaan na jou Netwerk24-profiel of klik op die skakel op MuntSlim as jy ook die nuusbrief in jou e-posmandjie wil ontvang.
Meer oor:  Theo Vorster  |  Beleggings  |  Opbrengs  |  Risiko-Aptyt  |  Risiko
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1336,18 (4050)
  • Top 40 51713,37 (26298)
  • All Share 58163,56 (28697)
  • Resource 10 36359,93 (41582)
  • Financial and Industrial 30 82077,08 (29044)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.