Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: SA banke dalk nou ’n koopkans?

Sedert die begin van die Covid-19-pandemie, en veral weens die gevolge van die staat van inperking op die ekonomie, het die JSE se indeks van alle aandele aanvanklik met meer as 30% gedaal, net om te herstel na die vlakke wat ons voor Covid-19 ervaar het.

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Een van die sektore wat nog nie herstel het nie, is die Suid-Afrikaanse banksektor. Suid-Afrika het ’n uitstekend gereguleerde bankstelsel met gesonde banke as ons na die kapitaalstrukture en kapitaalvereistes kyk. Die vraag is dus of die banke goeie waarde bied en of die banke een van die sektore is wat baie langer as die res van die ekonomie gaan neem om te herstel.

Byna ses maande ná die Covid-19-dalings laat in Maart, is die banke steeds tussen 30% (FirstRand) en 50% (Nedbank) laer.

Beleggers is in die gelukkige posisie dat al vier ons groot banke binne enkele weke oor hul resultate verslag doen. Dan sal ’n mens ’n baie goeie idee kry van die kerntemas en wat uit die resultate kom.

Die een goue draad in die resultate is dat die banke hul voorsienings vir oninvorderbare skuld beduidend verhoog het. Onthou, dit is nie skuld wat afgeskryf is nie, maar eerder ’n voorsiening vir skuld wat moontlik in die toekoms nie verhaal kan word nie. As die ekonomie sou verbeter en die vooruitsigte daarmee saam, kan baie van die voorsienings weer teruggeskryf word.

As ek die voorsienings van die vier groot banke bymekaar tel, kom ek op ’n syfer van bykans R50 miljard uit – die vraag is of hierdie R50 miljard konserwatief is en of dit dalk selfs verder aangepas sal moet word?

banke
b

’n Ander punt wat beleggers moet onthou, is dat die Reserwebank vroeg in April banke versoek het om daarop te fokus om hul kapitaalbasis te versterk eerder as om dividende aan gewone aandeelhouers en bonusse aan topbestuur te betaal. Ons sien deur die bank dat banke daaraan gehoor gee, wat beteken dat gewone aandeelhouers nie dividende ontvang nie.

Die vraag wat beleggers hulself moet afvra, is of dit ’n koopgeleentheid is of gaan banke langer as die res van die mark sukkel om te herstel?

Die persoon in Suid-Afrika wat hierdie vraag die beste kan antwoord, is Kokkie Kooyman, ’n wêreldkenner as dit by beleggings in banke kom.

Hier is sy ontleding van die sektor:

Kooyman herinner ons daaraan dat juis tye van groot onsekerheid die beste beleggingsgeleenthede skep. Die banksektor is nou aan die einde van so ’n tydperk van onsekerheid. Die res van die wêreld beleef reeds ’n opswaai en dalende werkloosheid, maar volle sekerheid oor die volhoubaarheid van die opswaai sal ons eers hê ná die beëindiging van die staatshulppakkette.

Tradisioneel is banke se waardasies juis in dié tydperk op hul laagtepunt (in Suid-Afrika die laagste sedert die 1980’s) omdat vrese oor moontlike slegte skulde beleggers weghou.

Maar as Suid-Afrika die res van die wêreld in ’n opswaai volg, sal banke se inkomste oor die volgende 12 maande dramaties verbeter (groei in rente en tariefinkomste weens die vraag na krediet wat die nuwe groei finansier).

Maar die winssyfers sal nog sterker groei as inkomste omdat verdere voorsienings vir slegte skulde nie meer sal nodig wees nie en hierdie uitgawe-item in die inkomstestaat kan halveer en aanhou daal vir ’n paar jaar.

Hierdie “venster van onsekerheid” bied beleggers die geleentheid om “in die groeifase in te koop” teen lae (en dus veilige) waardasies.

Hierdie verskynsel het al verskeie kere in die geskiedenis voorgekom – 1982, 1990, 2002, 2009.

Die 2020-resessie is wêreldwyd, en tans vind ons dan ook wêreldwyd sulke koopgeleenthede (bv. ’n supersterk bank soos JP Morgan verhandel nog teen boekwaarde terwyl ING (een van die mees gevorderde banke in Europa ten opsigte van hul digitalisasie-strategie) steeds teen ’n diskonto van sowat 60% teen boekwaarde verhandel.

Boonop eindig die moratorium op dividende binnekort en is die verwagting dat banke weer dividende sal kan betaal in 2021: In Suid-Afrika kan die dividendkoers in 2021 so hoog as 7% wees.

Die groot bonus sal hoër inflasie in Amerika en Europa wees (die waarskynlikheid hiervan is heelwat hoër vanweë die rekord stimuluspakkette). Die vrese daarvoor sal langtermynrentekoerse opstoot en dus banke se rentemarges in Amerika en Europa verder verbeter.

In Suid-Afrika beperk die rekordhoë staatskuld en begrotingstekort ons groei en dus sal die opswaai moontlik nie so sterk of so volhoubaar wees soos in baie ander lande nie. Die Reserwebank het wel rentekoerse verlaag, wat die pyn verlig en die landbousektor sal help. Maar vir Suid-Afrika sal faktore soos hoe vinnig ’n entstof teen Covid-19 gevind word, hoe vinnig ons regering weer buitelandse toeriste toelaat en of die regering daadwerklike veranderings in ekonomiese beleid (en filosofie) aankondig (om broodnodige groeikapitaal weer na Suid-Afrika te lok), die opswaai bepaal.

Kooyman se slotopmerking: “Die Suid-Afrikaanse banksektor is baie aantreklik gewaardeer. Ons navorsing wys dat die voorsienings wat gemaak is, voldoende behoort te wees, maar die tydperk waaroor hierdie waardasie sal ontsluit, sal afhang van bogenoemde faktore.”

As daar nou een bankontleder is vir wie ek die wêreld se tyd het, is dit Kokkie Kooyman (dankie Kokkie, hy het hierdie uit die Satara-ruskamp in die Krugerwildtuin gestuur) en ek gaan veel eerder met sy ontleding en aanbeveling as met enige braaivleisvuurstorie!

• Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital en skryf maandeliks ’n beleggingsnuusbrief aan Netwerk24-intekenare.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.