Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: Speel jy Russiese roulette met jou geld?

Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief is verlede naweek gepubliseer. Soos gewoonlik was dit vol pitkos vir beleggers en, tesame met die nuusbrief van Bill en Melinda Gates wat jaarliks middel Februarie gepubliseer word, gee dit jou ’n prentjie van hoe van die wêreld se suksesvolste sakemense se koppe werk!

Theo Vorster

Twee elemente uit Buffett se nuusbrief wat my vanjaar opgeval het, is sy gebruik van die term vennoot-aandeelhouer en die Russiese roulette-alternatief.

Sover ek kan onthou, is dit die eerste keer dat ek sien iemand verwys nie net na aandeelhouers, hetsy mense wat in Berkshire Hathaway belê of in ander maatskappye waarin hulle self belê nie, maar telkens eerder na die begrip vennoot-aandeelhouer.

Buffett verduidelik dan dat ’n aandeelhouer eintlik ’n vennoot in ’n besigheid is en dat maatskappye hul aandeelhouers as vennote moet respekteer.

Indien jy aandele in ’n maatskappy besit, is dit nie net ’n naam op ’n staat of in die nuus nie, maar ’n sakeonderneming waarin jy ’n vennoot is. As jy reageer op daaglikse mediaberigte oor pryse wat op- en afgaan, is jy mos nie ’n vennoot-aandeelhouer nie, maar bloot ’n spekulant en gaan jy nie deel in die langtermynsukses van die besigheid waarin jy ’n vennoot-aandeelhouer is nie.

Soos ek dit sien, is die groot verskil dat vennoot-aandeelhouers se doelwit is om te deel in die langtermynsukses van die besigheid waarvan hulle ’n deel besit, terwyl ’n spekulant probeer munt slaan uit die korttermyn-wisselvalligheid van markpryse.

Wat die gebruik van die Russiese roulette-alternatief betref, is dit ’n geval van neem ’n risiko “waar jy die meeste van die tyd gaan wen – maar as jy verloor, is jy dood”.

In die huidige omgewing van lae opbrengskoerse en beleggingsportefeuljes wat reeds die afgelope vier jaar vrot presteer, begin ek al hoe meer mense teëkom wat die Russiese roulette-alternatief as ’n rasionele besluit probeer inkleur.

“As ek my geld by hierdie of daardie instelling belê, verdien ek ’n baie beter en gewaarborgde opbrengs.”

As jy verseker is dat dié hoër rentebetalings op so ’n belegging volhoubaar is, is jy heeltemal reg. Die probleem is egter as die rentebetaling die dag opdroog, dan tref die noodlottige koeël jou kapitaal en saam met die skoot wat klap, kom alles meteens tot stilstand!

Enige belegging wat hoë opbrengste belowe, hou ’n risiko in. As dit te goed klink om waar te wees, is die risiko waarskynlik baie hoër as wat regtig aan jou erken word.

Die groot probleem is wanneer dinge skeefloop, gaan die gesprek nooit oor daardie 2% of 4% wat jy meer wou verdien nie – dit gaan oor of jy 5c of 10c uit elke rand gaan terugkry, of dalk niks nie?

Kom gesels saam op Stellenbosch

Tydens die Sake & Sauvignon-aanbiedings op die Woordfees vanaf Woensdag, gaan ek saam met Allan Gray se Lise-Mari Crafford en Verso Wealth se Wessel Oosthuizen probeer om van die toepaslikste onderwerpe waarmee beleggers worstel, te bespreek.

Woensdag (6 Maart) se onderwerp is: “Wanneer het ek genoeg geld om net van my kapitaal te kan lewe?” Wat is die wiskunde daaragter en wat is die grootste en duurste foute wat mense maak op pad na finansiële onafhanklikheid?

Die vraag oor wanneer, word baie mooi geïllustreer deur ’n storie wat Kurt Vonnegut van sy mede-outeur Joseph Heller vertel. Hy vertel dat hulle by ’n miljardêr se partytjie was op Shelter-eiland, waar Vonnegut vir Heller gevra het hoe hy daaroor voel dat die gasheer meer geld in een dag maak as wat hy ooit met sy ikoniese suksesvolle boek Catch-22 sal maak?

Heller het geantwoord dat hy iets het wat die gasheer nooit sal kan hê nie: “Die wete dat ek genoeg het”.

Net soos Heller dit geweet het, gaan genoeg nie oor ’n bedrag nie, maar eerder oor ’n verhouding tussen jou bates en jou lewenstyl. Ons gaan op ’n praktiese wyse die berekeninge uitlig, maar ook wys waarom jy jou eie grootste vyand is as dit kom by finansiële onafhanklikheid en gemoedsrus.

Donderdag (7 Maart) gaan ons fokus op die enigste “gratis ete” (om nou ’n liederlike anglisisme vulgêr te gebruik) in die wêreld van belegging: diversifikasie. Ons gaan ’n bietjie stilstaan by verskillende bateklasse, die samestelling van ’n gebalanseerde portefeulje, met spesifieke klem op buitelandse blootstelling. Om blootstelling in die buiteland te hê, is ’n moet – ons bespreek die verskillende maniere om dit reg te kry, tydsberekening wanneer jy geld moet uitneem en dan ook hoeveel van jou beleggings behoort na die buiteland gediversifiseer te word.

Vrydag (8 Maart) gaan ons gesels oor die beginsels wanneer jy welvaart aan die volgende generasie wil oorlaat. Hoewel kapitaal ’n groot deel van so ’n nalatenskap uitmaak, of dit nou R50 000 of R50 miljoen is, is daar meer elemente wat oordeelkundig aangepak behoort te word.

Ons gaan gesels oor die oordrag van kennis en ervaring, die strukturering van die kapitaal, die gebruik van regsvoertuie soos trusts en hoe goeie bedoelings kan platval.

  • Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n spreker oor beleggings, landbou en politiek-ekonomiese vraagstukke. Dié rubriek was deel van die weeklikse nuusbrief Sakegesprek, wat Woensdae aan intekenare wat dit wil ontvang, gestuur word. Gaan na jou Netwerk24-profiel of klik op die skakel op MuntSlim as jy ook die nuusbrief in jou e-posmandjie wil ontvang.
Meer oor:  Theo Vorster  |  Beleggings  |  Sakegesprek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1354,48 (1676)
  • Top 40 49551,15 (-53002)
  • All Share 55616,97 (-56624)
  • Resource 10 43866,91 (-37045)
  • Financial and Industrial 30 74281,51 (-88164)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.