Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
GRAFIKA: Só lyk topbestuur van SA nou
k

Die topbestuur van Suid-Afrikaanse ondernemings weerspieël 26 jaar ná demokratisering nog nie naastenby die samestelling van die land se bevolking nie. En ondanks besware teen volgehoue regstellende aksie is dit steeds wit mense, veral mans, wat die hef in die hand het.

Wit mense verteenwoordig slegs 8,7% van Suid-Afrika se ekonomies aktiewe bevolking (EAB), maar het in 2019 65,6% van topbestuursposte beklee. Die persentasie wit topbestuurders het die afgelope drie jaar minimaal gedaal: van 67,7% in 2017 en 66,5% in 2018.

lessenaar, maatskappye
Daardie spreekwoordelike hoekkantoor in die meeste maatskappye word nog deur wit mense gevul. Foto: Unsplash

’n Mens moet byna twee dekades teruggaan om enige werklike vordering met regstellende aksie te sien: In 2001 het wit mense 87% van alle topbestuursposte beklee.

Die Kommissie vir Diensbillikheid sê in sy 2019-jaarverslag daar blyk ’n “volgehoue voorkeur vir die aanstelling, bevordering en ontwikkeling” van wit mense en Indiërs te wees, veral op die boonste twee bestuursvlakke.

Die kommissie vergelyk indiensneming op verskillende posvlakke met bevolkingsgroepe, geslagte en mense met gestremdhede se verteenwoordiging in die EAB. Die EAB sluit mense van 15 tot 64 jaar in wat werk of werk soek.

Tabea Kabinde, voorsitter van die kommissie, sê die verslag bekommer haar, “want dit suggereer dat die pas van transformasie en verteenwoordiging baie traag is en dit lank sal duur voordat verteenwoordiging die land se ekonomies aktiewe bevolking sal weerspieël”.

“Die punt van die saak is dat daar geen wil is om transformasie deur te voer nie.”

Sy sê dis waar van sowel ras- as geslagsgegronde transformasie.

Kabinde verwag dat die Covid-19-krisis transformasie ’n knou toegedien het omdat maatskappye afgeskaal het. Vir baie ondernemings was die fokus op oorlewing, en langertermyn- strategiese oorwegings soos transformasie het bes moontlik agterweë gebly. Dit sal egter eers volgende jaar in die jaarverslag oor 2020 gemeet word.

k

Swart mense

Anders as moontlik verwag sou word, styg die indiensneming van swart mense in topbestuursposte nie besonder vinnig nie. Swart mense verteenwoordig nou 15,2% van die topbestuurders teenoor 15,1% in 2018. Dis teenoor die 78,9% van die EAB wat swart is.

Om die waarheid te sê boer swart mans agteruit – hulle het in 2019 9,9% van die bestuursposte verteenwoordig teenoor 10% in 2018.

Die punt van die saak is dat daar geen wil is om transformasie deur te voer nie.
Tabea Kabinde van die Kommissie vir Diensbillikheid

  

Vroue

Die verslag wys dat vordering met geslagsgelykheid ewe traag geskied. Vroue van alle rasse verteenwoordig nou 45,4% van die EAB, maar mans beklee steeds 75,6% van alle topbestuursposte.

Vroue se verteenwoordig in 2019 was dus 26,4%, ’n baie trae verbetering sedert 2017 se 22,9% en 2018 se 23,5%.

Swart vroue, wat 36,2% van die EAB uitmaak, beklee slegs 5,4% van die topbestuursposte. Wit vroue, wat 3,8% van die EAB verteenwoordig, beklee 13,2% van topbestuursposte, dus buite verhouding baie.

Bruin mense

Bruin mense, wat 9,7% van die arbeidsmag uitmaak, word met bykans die helfte onderverteenwoordig, met slegs 5,6% van die bestuursposte.

Bruin mans se verteenwoordiging het onveranderd gebly op 3,4% en dié van bruin vroue het net effens gestyg, van 2% in 2018 tot 2,1% in 2019 (afronding is by die syfers betrokke).

Buitelanders

Die persentasie buitelanders wat topposte vul, verteenwoordig 3,3% teenoor 3,4% in 2018. Die kommissie sê die feit dat dié syfer nou al jare lank baie konstant bly, suggereer dat geen vaardigheidsoordrag op dié vlak plaasvind nie, luidens die verslag.

Gestremdes

Mense met gestremdhede verteenwoordig nou 1,5% van topbestuurders, teenoor 1,3% in sowel 2017 as 2018.

Ongeskoolde werkers

Swart mense word oorverteenwoordig in die kategorie vir ongeskoolde werkers. Hulle verteenwoordig 82,9% van dié groep, teenoor die 78,9% van die EAB wat swart is.

Die verslag wys dat al hoe meer buitelanders as ongeskoolde en halfgeskoolde werkers aangestel word, en Kabinde sê dit ontneem Suid-Afrikaners van ekonomiese geleenthede. Hul verteenwoordiging het van 3,5% in 2017 tot 3,9% in 2019 gestyg.

Nuwe wetgewing

Die kommissie se frustrasie met die trae pas van transformasie het uiteindelik neerslag gevind in die wysigingswetsontwerp van die Wet op Diensbillikheid wat op 20 Julie in die parlement ter tafel gelê is. Dit is nou onderhewig aan die proses van openbare deelname voordat dit van krag word.

Een van die belangrikste aspekte van die wysigings is dat dit die minister van indiensneming en arbeid die mag sal gee om transformasieteikens vir spesifieke sektore op te stel. Die teikens sal na verwagting volgende jaar gefinaliseer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.