Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Tye te onseker vir nuwe beleggings, sê PSG se Mouton
Piet Mouton, uitvoerende hoof van die PSG-beleggingsgroep, Donderdag gedurende die webuitsending vanuit Stellenbosch oor die resultate vir die halfjaar tot einde Augustus. Foto: Skermgreep

Tye is tans te onseker vir “PSG 3.0” om nuwe geleenthede te kry om in te belê, sê Piet Mouton, uitvoerende hoof van die beleggingsmaatskappy.

Mouton het by ’n aanbieding oor die resultate in die halfjaar tot einde Augustus die sluier gelig oor wat die volgende fase van PSG, wat hy noem “PSG 3.0”, vir beleggers gaan beteken nadat sy grootste belegging, Capitec, aan aandeelhouers ontknoop is en sy landboumaatskappy Zeder op sy beurt ook sy grootste belegging, Pioneer, verkoop het.

Hy sê die hoofdoel van PSG sedert sy pa, Jannie, dit in November 1995 gestig het, was om waarde vir aandeelhouers op ’n “per aandeel-grondslag” te skep.

“Ons is nie hier om ’n sakeryk op te bou nie, maar om ’n opbrengs vir aandeelhouers per aandeel te lewer.”

Hy sê daar is drie maniere om dit te doen. “Die eerste is om die onderliggende ondernemings te groei en ons was histories betreklik suksesvol daarmee. Nog ’n manier is om oor tyd dividende te betaal en die derde is om transaksies te doen wat waarde ontsluit, soos om wanneer die geleentheid hom voordoen beleggings te verkoop of te ontknoop of in sekere gevalle aandele terug te koop.”

Ons is nie hier om ’n sakeryk op te bou nie, maar om ’n opbrengs vir aandeelhouers per aandeel te lewer.
Piet Mouton

Suid-Afrika het egter ’n ekonomiese realiteit wat in ag geneem moet word.

“Ons het ’n verlore dekade waar staatskaping, korrupsie, wanbestuur van staatsondernemings, die verwoesting van staatsinstellings en groeiende staatskuld aan die orde van die dag was.

“Net toe ons gedink het pres. Cyril Ramaphosa gaan ons weer op die regte pad kry, het die koronaviruspandemie ons getref en dit is ’n ramp, nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die wêreld.”

Hy het verwys na die drastiese inkrimping van die BBP en 3 miljoen poste wat verloor is. Terselfdertyd raak die oorblywende inperkingsmaatreëls steeds baie ondernemings. “Dit skep wesenlike onsekerheid.”

Hy sê hulle kry baie vrae oor wat hul planne is.

“Ons weet steeds nie werklik nie. Ons het die invloed van die pandemie en die inperking op die ekonomie gesien, maar ons weet nie werklik hoe dit gaan uitspeel en hoe maatskappye gaan herstel en hoe gehard die ekonomie gaan wees nie.”

Hy sê PSG sal die onderliggende maatskappye waarin belê is aanhou ondersteun om hul balansstate so sterk moontlik te hou en vir hul toekomstige groei.

“Ons sal natuurlik kyk na nuwe geleenthede as dit aantreklik is, maar op die oomblik, gegewe die onsekerheid, is dit onwaarskynlik dat ons nog maatskappye gaan byvoeg tot die portefeulje.”

Oor die onsekerheid het PSG besluit om nie sy beleggingsfilosofie te verander nie en om likiditeit op groepvlak baie versigtig te bestuur.

Alle termynskuld, wat aflosbare voorkeuraandele insluit, is terugbetaal.

Hy het daarom ook sy dividendbeleid verander en gaan voortaan net “ad hoc”-dividende betaal word – wanneer omstandighede dit toelaat.

’n Tussentydse dividend van 164c per aandeel is betaal.

Voorheen is 100% van die vrye kontantvloei as ’n gewone dividend betaal. Die afgelope vyf jaar (voor die Reserwebank ’n kennisgewing vanjaar uitgereik het wat banke ontmoedig om dividende te betaal) het Capitec se dividend 60% van die gemiddelde dividend van die groep uitgemaak. Ná die ontknoping kry aandeelhouers dié dividend regstreeks.

Hy sê die dividendbeleid hou ook daarmee verband dat dit moeilik gaan wees om in die aandelemark kapitaal in te samel weens die reusediskonto op PSG se aandeelprys vergeleke met die waarde van sy onderliggende beleggings.

Dit is ook hoekom ’n deel van Capitec se aandele behou is om nog dié dividend te ontvang.

PSG se aandeel verhandel tans teen ’n diskonto van 43% op die waarde van sy bates.

Die aandeel het Augustus 2015, toe PSG in die top-40-indeks op die JSE ingeskuif het, teen ’n premie op die waarde van sy bates verhandel, maar ná Desember 2015 en “Nene-gate”, toe die groep uit die indeks geval het, het hy weer teen ’n diskonto begin verhandel. Die diskonto het toegeneem met die ineenstorting van Steinhoff einde 2017 en dit het sedertdien nog groter geraak. Steinhoff het ’n groot belang in PSG gehad.

“Ons is nie op die oomblik te bekommerd daaroor nie want ons glo ons het goeie strategieë. Ons sal mettertyd aan die diskonto aandag gee.”

Sy grootste belegging tans is PSG Konsult, gevolg deur die beleggingsmaatskappy PSG Alpha wat op sy beurt in onder meer die aftreeoordmaatskappy Evergreen en die opleidingsgroep Stadio belê is, en in Zeder.

Mouton wou nie veel sê oor wat Zeder se plan vorentoe is nie.

Die maatskappy het onlangs aangekondig sy uitvoerende hoof, Norman Celliers, het bedank en hy oorweeg ’n strategieverandering.

LEES OOK: Kleiner Zeder swyg nog oor pad vorentoe

Hy sê Zeder “deel PSG se DNS met die kerndoelwit om waarde te skep vir aandeelhouers”.

Ook Zeder verhandel teen ’n wesenlike diskonto tot die onderliggende waarde van sy beleggings.

Hy sê Zeder se verkoop van Pioneer Foods en Quantum Foods teen groot premies het gehelp om waarde te ontsluit aan aandeelhouers, “maar meer kan gedoen word”.

Volgens hom het die pandemie baie planne waaraan hulle gewerk het, deur die mat laat val.

“Geduld is nodig omdat daar geen korttermynoplossings is nie, want soos met PSG, moet die invloed van Covid-19 op sy beleggingsmaatskappye en die ekonomie in die algemeen eers verstaan word. Ons kan nie blindweg besluite neem nie, want dit sal swak besluite wees.

“Ons het dalk voor Covid-19 baie planne gehad, maar alles het platgeval en alle groot strategieë is wesenlik beïnvloed deur die pandemie, hetsy dit ’n groot verkoop of ’n groot koop of ’n hele herstrukturering was. Almal wil weet hoe Covid-19 uitspeel en hoe die land gaan herstel.”

Meer oor:  Psg  |  Zeder  |  Piet Mouton  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.