
Luno bied nou spaarrekeninge vir die houers van bitcoin. Foto: Unsplash
Beleggers kan nou tot 4% rente per jaar verdien op bitcoin by Luno, het die maatskappy Maandag aangekondig.
Dit geld spesifiek bitcoin wat na ’n spesiale spaarrekening oorgeplaas word.
Luno, Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatform vir digitale geld, het in Augustus reeds aangekondig hy gaan beleggers die geleentheid bied om rente op hul bitcoin te verdien.
Daarvoor het Luno ’n vennootskap met Genesis, ’n makelaarsdiens in dieselfde bedryf, aangegaan.
Genesis se sakemodel is soortgelyk aan dié van ’n tradisionele bank, maar in stede van “gewone” geld, leen hy kriptogeld uit.
Net soos ’n bank waar jy rente op ’n positiewe saldo kan verdien, bied Genesis die geleentheid om dieselfde met ’n positiewe saldo in bitcoin te doen.
Luno beskou sy beloofde rentekoers van tot 4% per jaar as mededingend vergeleke met tradisionele banke wat enigiets tussen 1% en 4% bied vir ’n gewone spaarrekening.
Baie beleggers van bitcoin verkies dit ook om hul digitale geld vir lang tye te los sodat dit groei in waarde eerder as om daaglikse transaksies daarmee te doen, sê Luno.
“Minder as 5% van Luno se Suid-Afrikaanse kliënte is van plan om hul bitcoin binne die volgende ses maande te verkoop. Trouens, die meeste beleggers beplan om meer te koop.
“So met die spaarrekening kan hierdie beleggers begin om rente te verdien deur te doen wat hulle reeds sou,” sê Marius Reitz, hoof van Luno in Afrika.
Hoewel Luno mik vir ’n opbrengs van 4% per jaar, kan hy nie die versekering gee daardie teiken gaan bereik word nie omdat die mark na digitale geld so wisselvallig is.
“Dit beteken die opbrengs kan minder as 4% wees, maar ook meer as 4%.”
Geen verantwoordelikheid vir belegging
Luno neem ook nie verantwoordelikheid vir die geld wat belê word nie.
Die bitcoin in beleggers se spaarrekeninge word aan Genesis oorhandig wat dit aan leners voorsien wat dit dan met rente moet terugbetaal. Dit is hoe die rente wat beleggers uiteindelik verdien, gegenereer word.
“Jou spaarrekening is nie ’n tradisionele bankrekening nie en rekeninge met kriptogeld word nie gedek deur versekering nie,” waarsku Luno op sy webtuiste.
Genesis neem die risiko om die geld te leen en Luno het “volle vertroue” in die platform, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir beleggers se fondse nie, sê hy.
“Hoewel ons alle voorsorg getref het in die kies van ’n vennoot, is daar ’n paar risiko’s aan verbonde,” gee hy toe.
Die spaarrekening vereis geen vaste belegging nie, en beleggers kan hul bitcoin enige tyd onttrek soos nodig.
Dit kos ook niks om die rekening te open nie en Luno hef geen maandelikse administrasiegelde nie.
Sou ’n belegger vandag 1 bitcoin in die spaarrekening belê, sal dit oor twee jaar teen ’n rentekoers van 4% tot 1,08314 bitcoin groei. Dit is ’n opbrengs van sowat R16 300 teen die huidige wisselkoers.
Luno en Genesis is albei deel van die Amerikaanse beleggingsmaatskappy Digital Currency Group (DSG).
DSG het Luno in September vanjaar vir ’n onbekende bedrag gekoop.
Naspers en RMI Holdings was voorheen twee van die grootste beleggers in Luno.