Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Verskansing: 1ste syfers vir dié fondse uit

Die verskansingsfondsbedryf het einde Desember bates onder bestuur van R73 miljard gehad, toon die eerste amptelike statistieke vir die bedryf wat deur die Vereniging van Spaar en Belegging (Asisa) uitgereik is.

Die bates onder bestuur het met R4 miljard geklim, ten spyte van beleggers wat meer geld onttrek het as wat belê is.

Hayden Reinders, sameroeper van die staande komitee oor verskansingsfondse van Asisa, sê dit is ’n gesonde groei vir bates onder bestuur gegewe die netto uitvloei van R2,4 miljard in die jaar. Hy sê dit dui daarop dat die toename in bates onder bestuur met prestasie te doen het en markverwant is.

Wat is ’n verskansingsfonds?

Dis moeilik om verskansingsfondse te definieer omdat dit ’n groot verskeidenheid beleggingstrategieë behels. Die kruks is dat dié fondse goeie opbrengs probeer oplewer ongeag wat in markte aangaan.

Effektetrustfondse mag in die tradisionele bateklasse (aandele, effekte, kontant en eiendom) belê. Verskansingsfondse mag hierin belê, maar ook alternatiewe beleggings doen, soos in afgeleide instrumente en wisselkoerse.

Effektetrustfondse belê meestal deur bates te koop en staat te maak op die groei daarin (in waarde asook deur rente, huur of dividende). Verskansingsfondse gebruik ook dinge soos kortverkope, dus as “gewed” word op bates waarvan die waarde na verwagting gaan daal.

Verskansingsfondse word as meer riskant beskou.

Beleggers in verskansingsfondse moet dikwels groot bedrae belê en hul geld vir minstens ’n jaar in die fonds hou.

Klassifikasie

Reinders sê dit is die eerste keer dat onafhanklike statistieke beskikbaar is vir die plaaslike verskansingsfondsbedryf. In die verlede is statistieke deur verskillende produkverskaffers versamel en gerapporteer.

Die insameling van die inligting is moontlik gemaak deur ’n nuwe standaard vir die indeling of klassifikasie van die fondse, wat Asisa begin 2020 in werking gestel het.

Verskansingsfondse is ingewikkelde en riskante beleggings, maar die bedryf word in Suid-Afrika streng gereguleer.

Die klassifikasie van verskansingsfondse maak dit makliker vir beleggers en hul adviseurs om die fondse te vergelyk en die regte fondse te kies wat pas by hul aptyt vir risiko en verkose beleggingsportefeuljes.

Reinders meen die verskansingsfondsbedryf kan potensieel ’n belangrike rol in die spaarbedryf speel, maar die bedryf vind nog sy voete na die oorgang na ’n gereguleerde omgewing die afgelope vyf jaar.

Suid-Afrika het in April 2015 die eerste land ter wêreld geword wat omvattende regulasie vir verskansingsfondse in plek gestel het.

LEES OOK: Verskansing: Net kwart van geld in dié fondse

Die regulasies maak voorsiening vir twee kategorieë verskansingsfondse, naamlik vir gewone beleggers en vir gekwalifiseerde beleggers.

Om aan die regulasies te voldoen, moes verskansingsfondse omskakel na die wettige strukture wat voldoen aan die bepalings van die Wet op Kollektiewe Beleggingskemas (Cisca). Dit moes dus ’n soortgelyke struktuur as effektetrustfondse kry.

Verskansingsfondse vir gekwalifiseerde beleggers benodig ’n minimum belegging van R1 miljoen van ’n belegger en is oop vir beleggers wat ’n goeie begrip het van die beleggingstrategieë wat gebruik word en die gepaardgaande risiko’s daaraan verbonde.

Kleinhandelverskansingsfondse word aan die ander kant strenger beheer ten opsigte van die beleggings wat gedoen word en die risiko wat hulle toegelaat word om te neem. Dit is oop vir enige belegger wat ’n minimum eenmalige bedrag van R50 000 kan belê.

Reinders sê ’n aantal verskansingsfondse het hul produkreekse drasties verminder toe oorgegaan is na die nuwe strukture. As gevolg hiervan het die totale aantal gereguleerde verskansingsfondse teen einde Desember tot 233 gedaal van 245.

Regulasie 28

Hy sê die konsepwysigings aan regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse bied geleenthede vir verskansingsfondse.

Voorheen het verskansingsfondse en private ekwiteit die persentasie van bates wat pensioenfondse aan hul kategorie mag toewys, naamlik 15%, gedeel. Nou kry verskansingsfondse hul eie 10% van bates wat aan hulle toegewys kan word.

Reinders sê die bewoording “gereguleerde verskansingsfonds” is ook bekendgestel in die konsepwysigings, wat beteken pensioenfondse kan net daarin belê.

Hy sê dit is nog vir gewone beleggers baie moeilik om uit te vind hoe om in verskansingsfondse te belê. Dit is ook nog baie moeilik om die beleggingskoste en prestasie te vergelyk.

Volgens hom is daar ook gesprekke in die bedryf oor hoe om dit makliker vir beleggers te maak om te belê, soos moontlik deur die gekoppelde-beleggingsplatforms (LISP’s) en om inligting oor die prestasies beskikbaar te stel, en ander inligting wat vergelykings makliker maak.

Meer oor:  Asisa  |  Beleggings  |  Effektetrustfondse  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.