Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Wêreldmarkte: Wat jy nou wil weet

Die laaste 18 maande was uitsonderlik wisselvallig in die geskiedenis van die internasionale aandeelmarkte.

Dawid Botha

Met die uitbreek van Covid-19 en die gevolglike inperkings het die MSCI All Country World Index (ACWI) binne een maand, van 20 Februarie tot 23 Maart 2020, met 33% getuimel.

Die ongekende steun deur owerhede in dié tydperk waarin ekonomiese aktiwiteite drasties ingeperk is, het egter daartoe bygedra dat die ACWI binne vyf maande herstel het tot sy vorige vlakke.

Die aanvanklike herstel is grootliks gedryf deur maatskappye wat minder geraak is deur die inperkings, of selfs daaruit voordeel getrek het, soos Apple, Microsoft, Amazon, Alphabet (Google) en Facebook.

Met die onsekerheid oor die Amerikaanse presidentsverkiesing in November 2020 het die markte tussen Augustus en November redelik water getrap.

’n Week ná die verkiesing, op 9 November, is die bevinding gepubliseer dat Pfizer en BioNTech se entstofkandidaat 90% effektief is in die voorkoming van Covid-19. Ander suksesvolle enstofkandidate en die uitrol van inentingsprogramme gesteun deur owerhede en ekonomieë wat deurlopend heropen is, het beteken dat die breër aandeelmark intussen ook sterk herstel het.

Die styging in die markte sedert November 2020 is veral gedryf deur sikliese aandele wat tipies beter vaar wanneer ekonomieë herstel.

Die ACWI was teen 30 Junie 12% hoër vir die jaar.

k

Julie 2021

Die volgende relevante gebeure het gedurende Julie plaasgevind wat ’n impak op markte gehad het.

  • Streng optrede deur Chinese owerhede

Die 100-jarige viering van die regerende Chinese Kommunistiese Party op 1 Julie is gevolg deur breedvoerige nuwe maatreëls met betrekking tot data-sekuriteit en teenmededingende gedrag.

Tencent en gevolglik Naspers en Prosus se aandeelpryse is negatief geraak deur dié nuwe maatreëls wat veral gemik is op tegnologiemaatskappye.

  • Delta-variant

Die hernude toename in infeksies met die koronavirus het weer onsekerheid in die markte veroorsaak. Aanvanklik het markte negatief gereageer hierop, maar intussen herstel. Markte antisipeer tans steeds die herstel in ekonomieë, veral weens vordering met inentingsprogramme.

  • Skoon energie

Die Europese Unie het in Julie ’n omvattende plan bekend gestel om koolstofvrystellings op ’n netto basis na nul te verminder. Skoon energie en inprop- elektriese voertuie is kerngebiede vir dié doelwit.

Elektriese voertuie se lae markaandeel van ongeveer 20% in Europa, 10% in China en minder as 5% in die VSA, is aanduidend van die ruimte vir groei in dié sektor vorentoe.

  • Sterk verdienstesyfers in die VSA
Met dié dat ons hele lewe aanlyn gestalte vind, vaar die aandeelprys van tegnologiereuse uitstekend. Foto: Unsplash

Verdienstesyfers oor die tweede kwartaal van maatskappye in die VSA is meestal positief en oortref die konsensusverwagtinge. Die “groot vyf” – Apple, Microsoft, Amazon, Alphabet en Facebook – het almal die afgelope week syfers uitgereik. In aanloop tot verwagte goeie nuus het hul aandeelpryse reeds sterk gestyg.

Apple, Microsoft en Alphabet is in sterk strategiese posisies wat hul produkte en dienste betref en handelstoestande bly positief. Apple het egter aangedui dat sy tempo van groei waarskynlik laer gaan wees in die derde kwartaal weens ’n tekort aan sekere mikroskyfies en ’n boverwagte vraag. Dit kan die beskikbaarheid van iPhones en iPads in die komende kwartaal beperk.

Facebook en Amazon het ten tyde van die skrywe nog nie gerapporteer nie, maar ek raak dit volgende maand aan.

  • Dawid Botha is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth Winelands. Stuur ’n e-pos aan dawid.botha@psg.co.za. Dié rubriek, wat voortaan maandeliks gepubliseer word, is ’n algemene oorsig oor veral wêreldaandele en nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie.
Meer oor:  Dawid Botha  |  Oorsese Beleggings  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.