Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
124% méér onderwysers sterf in pandemie

Hoewel meer as dubbeld soveel onderwysers gedurende die Covid-19-pandemie as in ’n gewone jaar gesterf het, is die onderwys nie in dié tyd gevaarliker as enige ander beroep nie.

Die sluiting van skole het nie sterftes onder onderwysers voorkom nie, maar dit het kinders se leerwerk skade berokken. Illustrasie: iStock

Nuwe navorsing toon daar is geen verband tussen die heropening of sluiting van skole en sterfgevalle onder onderwysers nie.

Die gevolgtrekking van die betrokke navorsers is dat dit geen sin maak om skole te sluit nie.

Die sterftes onder onderwysers het heeltemal in ooreenstemming met die nasionale Covid-19-sterftesyfers in die eerste en tweede vlaag gestyg en gedaal.

Dit maak die groot aantal sterftes van leerkragte egter nie minder tragies nie, want van Maart 2020 tot Februarie 2021 het 124% méér onderwysers gesterf as wat in ’n normale jaar verwag sou word.

Altesame is 3 032 leerkragte is in dié tyd dood, maar gegrond op vorige jare se syfers sou verwag word dat net 1 354 in dié tyd sou sterf. Daar is nie ’n amptelike syfer van hoeveel mense in elke beroep aan Covid-19 gesterf het nie.

Die verskil tussen die 3 032 en die verwagte 1 354, oftewel 1 678, verteenwoordig die oormaat sterftes. Navorsers wêreldwyd beskou oormaat sterftes as waarskynlike Covid-19-gevalle.

Volgens die Mediese Navorsingsraad was daar landwyd 125 744 oormaat sterftes in Suid-Afrika.

Volgens navorsers steun hul data die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en ander internasionale organisasies se opvatting dat die sluiting of die gedeeltelike sluiting van skole geen uitwerking op die Covid-19-pandemie het nie.

Die navorsing wys ook daarop dat daar geen aanduiding is dat hoërskoolonderwysers kwesbaarder as laerskoolonderwysers is nie.

Die syfers maak deel uit van die navorsing van die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram), wat Woensdag uitgereik is. Dis gegrond op landwye peilings wat onder meer as 7 000 Suid-Afrikaners gedoen is.

LEES OOK: Afrikaanse mense meer skepties oor inentings

Skoolwerk raak agter

Die navorsers het rede om bekommerd te wees oor die sluiting van skole of die rotasie van leerlinge om die getalle laag te hou. Dit veroorsaak dat leerlinge nie met hul skoolwerk vorder soos hulle moet nie.

In 2020 het kinders in arm skole so min as ’n kwart van die werk gedoen wat hulle in ’n normale jaar sou doen.

In twee groot onafhanklike studies in skole wat nie skoolgeld hef nie, is bevind dat tussen 50% en 75% minder werk in verskillende vakke gedoen is. Meer as 70% van die land se skole hef geen skoolgeld nie, wat beteken dat dié leerverliese baie algemeen is.

Gr. 4-leerlinge in dié skole het 79% se leerwerk in hul eerste taal verloor en 52% in Engels as eerste addisionele taal.

Gr. 2-leerlinge het tussen 53% en 68% se leerwerk verloor.

Een toets oor hoeveel letters per minuut leerlinge reg kon lees, wys dat leerlinge weens die pandemie nie gevorder het soos hulle moes nie.

Die gr. 1-klas van 2019 het begin met gemiddeld ses letters per minuut en het gr. 2 in 2020 met 28 letters per minuut geëindig. As alles vlot verloop het, sou hulle 48 letters per minuut moes lees teen einde 2020, maar hulle kon net 36 haal.

Honger kinders

Nog ’n gevolg van die skoolsluitings was dat minder leerlinge nou as twee jaar gelede ’n gratis maaltyd by die skool kry. In Maart het net 43% van die leerlinge in die week voor die peiling ’n gratis maaltyd ontvang, teenoor 65% in 2018.

Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie  |  Beroepe  |  Inperking  |  Onderwys  |  Nids-Cram  |  Loopbane  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.