Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Aansporing om jonges werk te gee, wys dividende

Die belastingaansporing vir indiensneming van jong werkers is die goedkoopste vorm van werkskepping in die land, selfs al skep dit nie miljoene poste nie, sê prof. Haroon Bhorat van die Universiteit van Kaapstad (UK).

Werknemers wat mense in diens neem, sal voortaan in kontrakte moet spesifiseer wat die posbeskrywing is, waar die werksplek is en hoe lank werksure is. Foto: Natal Witness

Die regering het die belastingaansporing vir indiensneming (ETI) amptelik in 2014 bekend gestel as ’n soort loonsubsidie vir maatskappye wat jong mense tussen die ouderdomme van 18 en 29 in diens neem. Om te kwalifiseer moet die jong werkers ’n salaris van tussen R2 000 en R6 500 per maand verdien en ’n geldige Suid-Afrikaanse ID hê.

Buitelandse werkers moet óf ’n asielsoekers-permit óf ’n buitelandse identiteitsdokument ingevolge die wetgewing oor vlugtelinge kan toon.

Navorsing wat Bhorat en sy kollegas by die UK se eenheid vir beleidsontwikkeling gedoen het, toon dat die ETI tussen 2013 en 2016 35 333 poste gered het in ’n tweejaartydperk waarin werkskepping beduidend afgeneem het.

“Die loonsubsidie het dus veel groter potensiële werksverliese verhoed,” het Bhorat aan Rapport gesê.

Hul navorsing het ook getoon dat die aansporing nié gelei het tot die afdanking van werkers ouer as 29 nie.

Die aansporing vir indiensneming is die enigste van sy soort wat die regering vir die private sektor beskikbaar maak – en dit is veel goedkoper as die regering se openbarewerke-program (EPWP).

Die randwaarde van die bedrae wat maatskappye van belasting teruggeëis het, kom neer op R323 per pos in 2013-’14, R2 575 in 2014-’15 en R3 639 per pos in 2015-’16.

Die regering se EPWP waardeur tydelike poste geskep word soos die aanlê van kabels en die bou van paaie, kos drie keer soveel per pos, het Bhorat en sy navorsingspan bevind.

Prof. Haroon Bhorat van die Universiteit van Kaapstad. Foto: Universiteit van Kaapstad

In die 2021-’22-begroting is R33,4 miljard opsy gesit vir werkskepping van die staat. Dit sluit geld vir die EPWP, gemeenskap-werkskeppingsinisiatiewe en die werknemerfonds in.

In die Nasionale Ontwikkelingsplan word die private sektor ook beskou as die voorkeur-werkskepper vir blywende poste. “Die doelwit is dat die private sektor 90% van die werkgeleenthede in die land skep. Klein- en middelslagondernemings sal waarskynlik die meeste (daarvan) skep,” luidens die plan.

Daar is kommer omdat sommige werknemers glo die skema misbruik, het die nasionale tesourie in sy begrotingsoorsig vir die 2021-’22-belastingjaar gesê. Sommige belastingbetalers het glo sekere opleidingsinstansies op die been gebring wat hulle dan as ’n rookskerm gebruik om die ETI van die fiskus te eis, sê die tesourie.

Om die skuiwergat toe te stop, het die regering die wetgewing op die basiese voorwaardes vir indiensneming verander met ’n baie enger definisie vir “werknemer”.

Jerome Brink, direkteur by Cliffe Dekker Hofmeyr se afdeling vir belasting en valutabeheer, skryf dat die woord “werknemer” volgens die wysiging in die wetgewing uitstippel dat werk verrig moet word ingevolge ’n kontrak waar die posbeskrywing, werksplek, werksure, verlof en kennistydperk vir bedanking deeglik uiteengesit moet word.

Meer oor:  Werkloosheid  |  Ongelykheid  |  Armoede  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.