Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Afgelê oor Covid-19? Hier is raad

Duisende mense is al in 2020 afgelê. Afleggings was reeds vóór die eerste Covid-19-geval in Suid-Afrika aan die orde van die dag weens die druk van die resessie op ondernemings.

As jy afgelê is, moet jy so gou as moontlik goeie finansiële raad inwin. Illustrasie: iStock

Standard Bank, MultiChoice, ArcelorMittal Suid-Afrika, Ellies, Telkom en Comair het almal afleggings aangekondig of afgehandel nog voordat die staat van inperking afgekondig is. Die inperking het egter talle maatskappye op hul knieë gedwing omdat hulle nie mag sake doen nie.

Die volle omvang van afleggings sal dalk eers in Junie bekend word wanneer Statistieke Suid-Afrika die werkloosheidsyfers vir die eerste kwartaal uitreik.

Sherwin Govender, bestuurder van sakeontwikkeling van Glacier van Sanlam, bied aan mense wat geraak word, die volgende wenke indien hulle dié stres moet deurgaan te midde van die inperking.

Wenk #1: Moet dit nie persoonlik opneem nie

Dis dalk makliker gesê as gedaan, maar Govender sê hoe gouer jy aanvaar dat die aflegging nie jou fout is nie, hoe makliker kan jy aanbeweeg na nuwe moontlikhede wat dalk vir jou wag.

Wenk #2: Werk jou CV dadelik by en kry dit uit in die mark

Dis dalk voor die hand liggend, maar hoe gouer jy jou CV aan werwingsagente gee of regstreeks vir poste aansoek doen, hoe gouer kan jy weer werk kry. Om ’n nuwe werk te kry is tydrowend en jy sal baie hare op jou tande nodig hê.

Govender stel voor jou beginpunt is om te praat met die mensehulpbronbestuurder wat jou aflegging behartig. As jy in ’n groot onderneming werk, is daar dalk geleenthede vir herontplooiing of heraanstelling waaraan hulle nie gedink het sonder dat hulle jou CV met kennis en vaardighede gelees het nie.

In jou CV en dekbrief vir ’n werkaansoek moet jy klem lê op die vaardighede en kennis waaroor jy beskik wat van toepassing is op daardie spesifieke pos. Govender waarsku dat jy nie jou vaardighede of ervaring moet oordryf of selfs vervals nie – laasgenoemde is ’n misdaad.

Wenk #3: Skep ’n nuwe identiteit vir jouself en jou loopbaan

Aflegging is ’n gulde geleentheid om te dink wat jy anders kan of wil doen met jou lewe, maar Govender maan dat jy realisties moet wees.

“ ’n Nuwe onderneming – of selfs om ’n bestaande een te koop wat op papier winsgewend lyk – kan jou finansieel dreineer.”

Daar is te veel verhale van mense wat hul skeidingspakket of selfs aftreegeld verloor het in ’n onderneming wat misluk het – en juis nou, met die inperking, is dit ’n waagstuk wat versigtig benader moet word.

Mense wat wel ’n onderneming begin, moet ’n goeie sakeplan opstel, verkieslik met die hulp van ’n kenner. “Nou is nie die tyd om onberekende risiko’s te neem nie,” sê Govender.

Wenk #4: Snoei jou huishoudelike begroting

Jou salaris droog op, maar nie jou rekeninge nie. Govender sê jy moet my ’n fyn kam deur jou begroting gaan en alles moontlik sny.

“Jy moet streng en klinies wees oor uitgawes wat onvermybaar is (soos jou huispaaiement of jou kinders se skoolgeld) en dít wat luukses is en opgeskort kan word totdat jy weer ’n gereelde inkomste het.”

Wenk #5: Stel ’n finansiële beplanner aan

Dit klink dalk na teenstrydige raad – om geld te betaal om geld wat opdroog te bestuur, maar Govender sê nou is die beste tyd om ’n finansiële beplanner te gaan sien.

“Daar is groot, belangrike besluite wat geneem moet word. Byvoorbeeld, as jy al ’n paar jaar vir dieselfde maatskappy werk, het jy dalk al ’n groterige pensioenfonds opgebou. Daar is beleggingsbesluite wat jy oor die toekoms van dié geld met neem. Jy wil nie foute maak nie. Ook, as jy deur jou maatskappy aan ’n mediese fonds behoort het, sal jy moet besluit wat jou te doen staan wanneer dié voordeel wegval.”

Wenk #6: Los jou pensioenfonds uit

Om jou volle pensioenfonds te laat uitbetaal, sal Jan Taks breed laat glimlag en jou dalk op kort termyn help. Op lang termyn is dit “finansieel die skadelikste besluit wat jy kán neem”, waarsku Govender.

“Die versoeking is dalk groot om dit te laat uitbetaal en jou pensioenfonds te bestee asof jy pas die Lotto gewen het, maar moenie vergeet waarom jy in die eerste plek die geld gespaar het nie. As jy die hele pot laat uitbetaal, besteel jy jou 60-jarige self – dis so eenvoudig soos dit.”

Bloot die som oor hoeveel belasting jy gaan opdok, behoort jou twee keer te laat dink. Die eerste R500 000 kan wel belastingvry onttrek word.

Govender beveel aan dat jy die geld na ’n bewaringsfonds oordra. Jy kan wel later daaruit onttrek, maar intussen verdien dit vir jou opbrengs.

Wenk #7: Doen die somme

Voordat jy dit oorweeg om van jou pensioenfonds se geld te gebruik, bereken hoe jy kan leef – met jou erg ingekorte begroting – totdat jy weer ’n vaste inkomste verdien.

Govender stel voor jy werk uit (laat mensehulpbronne jou help):

  • Wat is die skeidingspakket wat jy van jou maatskappy ontvang?
  • Hoe lank sal jy dit kan rek?
  • Watter ander spaargeld of beleggings het jy?

Wenk #8: Kyk watter dekking jy teen afleggings het

As jy meubels op skuld gekoop het, het jy heel waarskynlik kredietversekering wat jou skuld kan aflos as jy werkloos word. Net so betaal baie mense onwetend kredietversekering op hul kredietkaart en selfs op hul motor- of huislening. Vra jou bank daaroor uit of lees die kontrakte. As jy dalk ’n inkomstebeskermingspolis uitgeneem het, het jy ’n ekstra beskermingslagie.

Wenk #9: Onderhandel met jou krediteure

Moenie verleë voel om met jou bank te praat nie, sê Govender. Onderhandel vir ’n beter rentekoers, verminderde terugbetalings of selfs betalingsvakansies. Banke bied nou juis verligting aan vir mense wie se inkomste deur die Covid-19-inperking geraak word. Mense moet egter besef ’n betalingsvakansie beteken nie die geld wat hulle skuld, word net afgeskryf nie – dit moet wel êrens langs die pad terugbetaal word.

Govender waarsku dat mense nie net agterstallig moet raak met hul skuld nie. As regstappe eers gedoen moet word, kan ’n mens baie meer verloor. Praat eerder vroegtydig met jou bank.

“Onthou, jou kredietgeskiedenis word in ag geneem wanneer jy vir ’n werk aansoek doen, so jy wil dit so skoon as moontlik hou.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Salarisse  |  Afleggings  |  Beroepe  |  Inperking  |  Loopbane  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.