’n Kommerwekkende tendens steek kop uit waar al hoe meer werknemers onetiese gedrag by die werk oplet, maar al hoe minder dit aanmeld.

Skandale soos Steinhoff en KPMG wys dat etiek nie altyd seëvier nie. Foto: Pixabay
Dit is een van die bevindings van die Etiekinstituut se jongste oorsit oor sake-etiek in die land se grootste bedrywe.
Die verslag dui daarop dat Suid-Afrika se algehele etiek “aanvaarbaar” is, maar dat daar ’n paar kommerwekkende verwikkelings is.
In ’n peiling van 2 253 werknemers in 19 ondernemings is bevind 31% van respondente het oor die afgelope jaar onetiese gedrag by die werk aanskou. Dit styg nou al ’n paar jaar lank – van 14% in 2013 tot 25% in 2016.
Volgens die Etiekinstituut is dit wel moontlik dat dié tendens aan beter bewustheid van etiese riglyne of verbeterde rapportering toegeskryf kan word. Die instituut meen egter dat so ’n meer positiewe interpretasie minder waarskynlik is.
“Dié bevindinge kan aandui dat wangedrag inderdaad toeneem in korporatiewe Suid-Afrika, en ongelukkig ondersteun verskeie onlangse etiese vervalle in die private sektor so ’n interpretasie,” sê die instituut in sy verslag.
“Dié bevindinge behoort ’n waarskuwing vir organisasies te wees.”
Só lyk die prestasie van die onderskeie bedrywe se etiese kultuur:
- Toerisme en gasvryheidsbedryf: 77%
- Bankdienste: 72%
- Beleggings-, finansiële- en versekeringsdienste: 69%
- Mediese dienste: 67%
- Inligtings- en kommunikasietegnologie: 64%
- Groot- en kleinhandel: 58%
- Mynbou: 58%
Die verslag wys ook daarop dat daar ’n kloof tussen verskeie groepe binne organisasies se persepsie van onetiese gedrag is.
Uit die 2 253 respondente het dit duidelik geword dat meer senior werknemers die gedrag in hul ondernemings as baie eties aanskou, selfs al voel ondergeskiktes en die middelbestuur anders.
Só daal persepsies van onetiese gedrag volgens posisie:
- Senior bestuur: 70% neem ’n etiese kultuur waar
- Middelbestuur: 64%
- Nie-besturende werknemers: 61%
Ook volgens generasie verskil die persepsie van etiek in die werk, met ouer individue wat meer geneig is om gedrag as aanvaarbaar te evalueer.
- Baby boomers (mense van 55 jaar en ouer): 65% neem ’n etiese kultuur waar
- Generasie X (39-54 jaar): 63%
- Millenniërs (24-38 jaar): 62%
Die algehele persepsie van Suid-Afrika se korporatiewe etiese prestasie is ’n punt van 63%, en volgens die instituut dui dit op ’n taamlik etiese risiko, maar met ontwikkelende volwassenheid.
Net die helfte meld dit aan
’n Aspek wat kommer wek, is dat slegs sowat die helfte van werknemers onetiese gedrag wat hulle opgelet het, aangemeld het.
Die hoofredes hiervoor is vrees oor gevolge by die werk en ’n gevoel dat niks sal verander indien hulle wel die onetiese gedrag aanmeld nie.
Daar is ook klagtes oor die manier waarop fluitjieblasers behartig word.
“Wanneer organisasies nie ’n veilige platform aanbied om onetiese gedrag te rapporteer of hul beloftes eerbiedig om klagtes op te volg nie, sal baie onetiese gedrag ongesiens bly,” sê die instituut in sy verslag.
“Baie korporatiewe skandale wêreldwyd kon moontlik voorkom gewees het as iemand in die organisasie hul waarnemings of kennis van kollegas, eweknieë, bestuurders en ander se wangedrag net aangemeld het.”