Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
As jy nie veilig voel, hoef jy nie te werk
Jy hoef (nog nie) terug te keer werk toe as jy nie veilig voel nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Werknemers wat nie veilig voel in hul werkplek nie, mag weier om te werk. Dit is as hulle “redelikerwys” glo dat die nodige voorsorg teen oordrag van die Covid-19-virussiekte nie in werking gestel is nie.

Daarby moet werkplekke wat op vlak 3 van die inperking wil heropen, eers ’n risiko-assessering doen en ’n plan vir die personeel se terugkeer na die werk saam met vakbonde en veiligheids- en gesondheidsbeamptes opstel. Hulle moet ook ’n Covid-19-voldoeningsbeampte aanstel.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het Vrydagmiddag op ’n nuuskonferensie nie gesê of dié maatreëls net vir groot werkgewers of alle werkgewers geld nie.

Hy het ook bekend gemaak dat die kantore van die departement van arbeid eers op 8 Junie ten volle sal open omdat die werknemers eers opgelei moet word om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Alle staatsdepartemente mag op vlak 3 hul werk hervat.

Nxesi het beklemtoon dat werknemers wat ouer as 60 jaar is, sowel as mense met bestaande gesondheidsprobleme beskerm moet word en so ver as moontlik van hul huise af moet werk.

Hy het ook gesê enige werknemer wat in kontak was met iemand by wie Covid-19 gediagnoseer is, moet op 14 dae betaalde siekverlof gaan. Hy het herhaal: betaalde siekverlof.

Almal moet twee maskers by hul werkgewer kry en dit in die werkplek dra. Die vereiste dat maskers by die werk gewas word, is ná terugvoering deur vakbonde geskrap.

Die koste van voorsorgmaatreëls teen Covid-19 mag nie van die werknemers se salarisse verhaal word nie.

LEES OOK: Terug werk toe: Dit is die reëls

Inspeksies

Nxesi het te velde getrek teen die lae koers van voldoening van die werkplekke wat die departement geïnspekteer het.

“Werkgewers in sowel die private sektor as die staat moet meer doen om te verseker dat hul werkplekke veilig is.”

Die departement het Maandag inspeksies gaan doen by 72 werkplekke en 44 het nie aan die maatreëls voldoen nie.

“Die boodskap is nie in die onderbewussyn van baie werkgewers vasgelê nie.”

Altesaam 332 verbod-kennisgewings (wat beteken maatskappye moet hul deure sluit totdat die maatreëls nagekom is) is van 30 Maart tot 29 Mei aan ondernemings uitgereik. Dit kom op sowat 9 per dag neer. Uit altesame 3 844 inspeksies het 1 724 nie aan al die maatreëls voldoen nie.

Nxesi sê hy verwag dat “alle werkgewers die geleentheid sal aangryp om hul ondernemings te red deur hul belangrikste bate – hul werknemers – te beskerm”.

’n Aantal inspekteurs van die departement is in self-isolasie nadat een inspekteur positief getoets is. Nog ’n werknemer het gesterf.

“Weer eens is die les duidelik: Nie een van ons is immuun teen die virus nie en alle pogings moet aangewend word om die gesondheid en veiligheid in alle werkplekke te verseker.”

WVF

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het al meer as R15 miljard se Covid-19-voordele aan 3 miljoen werknemers uitbetaal.

“Elkeen van die 3 miljoen ontvangers het gesinne en afhanklikes, wat die reikwydte van die Covid19Ters-voordeelskema vergroot.”

Die departement behartig steeds navrae oor April se uitbetalings en aansoeke vir Mei is nou weer oop nadat die departement se veselkabel vroeër die week gebreek het.

Nxesi sê die finansiële las op die WVF behoort op vlak 3 effens ligter te wees soos wat meer mense terugkeer werk toe.

Hy sê die fonds se primêre verantwoordelikheid om gewone WVF-uitbetalings te doen, is nie onderbreek nie en sowat R2 miljard is aan 280 000 mense uitbetaal. “Ons verwag dat gewone eise sal toeneem soos wat werkloosheid in die nadraai van die pandemie toeneem. Die WVF berei hom hierop voor.”

Nxesi sê “ernstige besprekings” sal met die oog op die toekoms by die bedingingsliggaam Nedlac moet plaasvind om ’n omvattende raamwerk vir maatskaplike sekerheid en aftreehervorming te finaliseer. Dié omstrede plan gaan onder meer oor die skep van ’n gesamentlike pot aftreegeld vir alle Suid-Afrikaners.

Vergoedingsfonds

Die Vergoedingskommissie het al 116 eise ontvang van mense wat Covid-19 by die werk opgedoen het. Daarvan is 108 reeds goedgekeur. Vroue verteenwoordig 91% van die eise. 54% van die eise kom uit KwaZulu-Natal, 28% uit die Wes-Kaap en 16% uit Gauteng. Die meerderheid van die eise behels gesondheidswerkers (83%).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.