Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
As ons kon, sou ons 5 dae van die huis af werk

Sowat 44% van Suid-Afrikaners wil heeltyd van die huis af werk selfs nadat die Covid-19-pandemie oor is en nóg 53% wil tussen een en vier dae per week van die huis af werk.

Nie almal het dalk dié uitsig vanuit hul tuiskantoor nie, maar met ’n skootrekenaar en goeie dataverbinding is afstandswerk al hoe aanlokliker.

Dis baie meer as die wêreldwye gemiddelde van 24% van mense wat vyf dae per week van die huis af wil werk, het Boston Consulting Group (BCG) en The Network in ’n nuwe peiling bevind.

Net mense in die Filippyne se aptyt vir heeltyd van die huis af werk, is hoër as Suid-Afrikaners s’n, op 48%.

Die peiling is onder 208 807 mense in 190 lande gedoen. CareerJunction het die Suid-Afrikaanse peiling onder 1 421 mense gedoen. Dis die tweede peiling wat BCG publiseer.

LEES OOK: Byna 2 uit 3 van SA sal oorsee gaan werk

Voor die pandemie het net 7% van mense slegs van die huis af gewerk en 24% soms, dus in totaal 31%. Dit het tot 19% heeltyd en 32% soms (dus altesame 51%) tydens die pandemie opgespring.

Die grootste persentasie Suid-Afrikaners, 53%, wil een tot vier dae per week van die huis af werk. Minder as 4% wil slegs op kantoor werk. (Die syfers is afgerond.)

Dis selfs al het vorige studies bevind mense werk langer ure van die huis af, en die einste peiling het bevind Suid-Afrikaners voel hul werk-lewe-balans het agteruitgegaan sedert hulle meer van die huis af werk.

LEES OOK: Ons werk langer ure tuis, maar wil nie kantoor toe

Wêreldwyd wil ’n hele 89% van mense soms van die huis af werk selfs nadat die pandemie verby is. Die wêreldwye voorkeur is om drie dae van die huis af te werk, met 25% van mense wat dit verkies en 11% wil slegs op kantoor werk.

werk van huis af

“Die pandemie het die manier waarop mense oor hul werk- en mobiliteitsvoorkeure dink, aansienlik verander omdat baie basies oornag na afstandswerk moes oorgaan,” sê Rudi van Blerk, hoof en werwingsdirekteur van BCG in Johannesburg. “Werknemers en bestuurders het gesien dat buigsame werkmodelle moontlik is en in werklikheid wenslik is.”

Die persentasie mense wat net van die huis af wil werk, is selfs hoër onder sekere beroepe. Mense in inligtingstegnologie, van wie 77% reeds minstens deels van die huis af werk, wil 95% dit in die toekoms doen.

Selfs in beroepe waar hantering van fisieke goedere of kontak met kliënte ter sprake is, was daar ’n hoë persentasie mense wat minstens sommige dae van die huis af wil werk. Tans werk net 19% van mense in vervaardiging soms van die huis af, maar 70% wil dit graag doen. In gesondheidsorg doen 29% dit, maar 79% wil in die toekoms soms van die huis af werk.

Werkure

61% van Suid-Afrikaners wil nou buigsamer werkure hê, teenoor die wêreldwye gemiddelde van 64%.

Impak van afstandswerk

Die impak van afstandswerk was nie enorm nie, met min of meer ewe mense wat positief of negatief gevoel het oor die meeste aspekte. Die grootste voordeel was dat mense se gebruik van digitale gereedskap verbeter het, en die grootste nadeel die feit dat werknemers voel daar word minder na hul welstand omgesien.

Wêreldwyd glo mense hul werkslewe het in drie opsigte verbeter:

  • Hul gebruik van digitale gereedskap;
  • Buigsaamheid; en
  • Spanwerk.

Wêreldwyd het vier aspekte van werk verswak:

  • Welstand van werknemers;
  • Gehalte en styl van leiding;
  • Werk-lewe-balans; en
  • Doeltreffendheid.

Van Blerk sê Suid-Afrikaanse respondente reken amper alle aspekte van werk hierbo genoem, het verbeter. “Die enigste uitsondering was balans tussen werk en private lewe, waar die impak wat aangemeld is, negatief was.”

’n Studie wat Microsoft onlangs gepubliseer het, toon een van die nadele van afstandswerk is dat jong mense afgesny voel omdat hulle nie genoeg mentorskap kry nie.

LEES OOK: Gen Z dalk geknak deur werk van die huis af

Wat waardeer jy van jou werk?

Tydens die pandemie het mense meer op korttermynvoordele begin fokus.

In 2018 het respondente in ’n wêreldwye peiling gesê die belangrikste van hul werk was goeie verhoudinge met kollegas en bestuurders en ’n goeie balans tussen werk en hul private lewe.

Dit bly boaan die lys, maar salaris word nou vierde belangrikste (van nr. 8 in 2018).

Langtermynvoordele soos loopbaanontwikkeling en vaardigheidsopleiding het vir mense afgeskuif op die ranglys, van nr. 4 en 5 in 2018 tot nr. 8 en 9.

Suid-Afrikaners het dieselfde basiese lys, maar vir hulle was die waardes van hul onderneming vanjaar heel bo, waar dit in 2018 nr. 5 was.

“Suid-Afrika was een van die enigste lande waar maatskappywaardes die hoogste posisie behaal het, en dit het van die vyfde plek in 2018 na die eerste plek gegaan,” sê Wiebka Cooper, bedryfsbestuurder van CareerJunction.

“Dis interessant dat finansiële stabiliteit en salaris nie vir Suid-Afrikaanse respondente so belangrik was nie, wat verskil van die wêreldwye neiging. Suid-Afrikaanse werkers blyk baie meer gemotiveerd te wees deur sagter faktore oor waardes, kultuur en ’n goeie balans tussen werk en hul private lewe as harde faktore soos betaling.

“Werkgewers moet sorg dat daar selfs in virtuele werkinstellings aan dié sagter behoeftes voldoen word.”

Suid-Afrikaanse respondente gee ook meer om as die wêreldgemiddelde oor omgewingsverantwoordelikheid en diversiteit: 79% van Suid-Afrikaners het gesê dat omgewingsverantwoordelikheid die afgelope jaar belangriker geword het, en vir 82% het diversiteit en inklusiwiteit die afgelope jaar belangriker geword. Die wêreldgemiddelde is onderskeidelik 70% en 69%.

Meer oor:  Bcg  |  Careerjunction  |  Boston Consulting Group  |  Gen X  |  Werk Van Huis Af  |  Beroepe  |  Gen Z  |  Loopbane  |  Afstandswerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.