Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Baie ervaar méér stres sedert pandemie

Al hoe meer mense keer terug werk toe, maar is hulle geestelik sterker of swakker as voor die pandemie? ’n Nuwe peiling laat dit nie so lyk nie.

 

depressie, angs
Die mense wat die grootste risiko loop om nou meer angs of depressie te beleef, sluit in bejaardes, gesondheidswerkers, tieners, vroue en mense met bestaande geestesiektes. Foto: Pexel.com

As jy die afgelope paar maande meer stres ervaar, is jy nie alleen nie, toon ’n peiling deur die farmaseutiese maatskappy Pharma Dynamics.

Meer as 1 200 volwassenes in die land het aan die peiling deelgeneem.

Abdurahman Kenny, portefeuljebestuurder van geestesgesondheid van die maatskappy, sê weens die spanning van die pandemie sukkel mense wat voorheen hul stres kon bestuur om dit te doen.

Volgens hom het mense met bestaande geestesiektes ’n agteruitgang in hul simptome ervaar.

“Om die spanning van die pandemie te hanteer, het baie hulle gewend tot gemorskos, alkohol, rook en ander verslawende middels, wat niks goeds vir hul fisieke of emosionele welstand inhou nie.”

Resultate van die peiling
  • 53% van die deelnemers het hul werk verloor, moes ’n salarisverlaging aanvaar of is gedwing om hul onderneming te sluit;
  • 56% het hoër vlakke van sielkundige en emosionele probleme as voor die pandemie ondervind;
  • 81% het hulle tot ongesonde kos gewend om die spanning van die afgelope paar maande te hanteer, 20% tot alkohol, 18% tot sigarette, 6% tot dagga en 22% tot antidepressante of middels teen angs;
  • 65% erken hulle het hul gesondheid afgeskeep;
  • 52% sukkel om te slaap;
  • 20% van paartjies stry meer as voorheen;
  • Mishandeling deur lewensmaats het met 5% gestyg;
  • 68% is bekommerd oor die effek van die pandemie op die samelewing en die ekonomie;
  • 44% sukkel om te ontspan; en
  • 49% voel angstig, 48% voel gefrustreerd, 31% voel depressief en ’n wesenlike 6% het al selfdood oorweeg.


Volgens hom gaan die uitwerking van die pandemie op mense se daaglikse lewens in die komende maande duidelik word. Hy sê die bedryf wat met geestesgesondheidsprobleme werk, moet hulle voorberei op ’n toename in dwelmmisbruik.

Baie van die respondente het Covid-19 ook persoonlik in hul lewens ervaar, wat die angs vererger het.

In die peiling is bevind dat 6% die virus opgedoen het, terwyl 27% ’n familielid gehad het by wie dit gediagnoseer is. 50% het iemand geken wat aan die virus oorlede is.

Simptome wat tipies met depressie en angs geassosieer word, is ook by die respondente aangetref.

Kenny sê gegewe die ingrypende emosionele en finansiële gevolge van die pandemie, is dit belangrik dat aandag gegee word aan die geestesgesondheid van die bevolking, aangesien dit langtermyngevolge kan hê.

“Die onderbreking van roetine en ekonomiese aktiwiteit wat die pandemie veroorsaak het, het ’n vernietigende uitwerking op mense se geestesgesondheid gehad.

qlfs1904, werkloos, ongelykheid, armoede
Die onderbreking van roetine en ekonomiese aktiwiteit wat die pandemie veroorsaak het, het ’n vernietigende uitwerking op mense se geestesgesondheid gehad. Foto: William Horne

“Rekordhoë werkloosheidsvlakke, ekonomiese onsekerheid, die sosiale afstande wat gehandhaaf moet word en ons wat onsself moet afsonder, die bykomende verantwoordelikhede van tuisonderrig terwyl mense nog moes werk, en die voortdurende vrees om die virus op te doen is alles faktore wat angs en spanning verhoog.

“Ons sal waarskynlik baie hoër persentasies van geestesiektes by Suid-Afrikaners sien weens die pandemie, en ons moet psigososiale ondersteuningspogings verhoog.”

   

Toegang tot terapie

Kenny sê die feit dat byna die helfte (49%) van die respondente tydens die pandemie terapie wou kry, maar nie toegang daartoe gehad het of dit kon bekostig nie, toon die dekades se verwaarlosing en onderinvestering in geestesgesondheidsdienste in die land.

“Weens die groot omvang van die probleem kry die meeste geestesgesondheidsbehoeftes nie aandag nie. Baie meer moet gedoen word om diegene wat toenemende geestelike druk ervaar te beskerm.”

Die mense wat die grootste risiko loop, sluit in bejaardes, gesondheidswerkers, tieners, vroue en mense met bestaande geestesiektes.

Baie meer moet gedoen word om diegene wat toenemende geestelike druk ervaar te beskerm.

Hy meen dit is bemoedigend dat 33% van die deelnemers sê dat hulle troos by familie en vriende gesoek het en daaglikse oefening ’n prioriteit gemaak om negatiewe gedagtes af te weer.

Dr. Sandile Mhlongo, besturende direkteur van die psigiatriese hospitaalgroep Akeso, meen ook die pandemie het weens talle faktore soos isolasie, angs en die vrees vir siekte en dood, asook die werklike of potensiële verlies aan inkomste tot ’n toename in die vraag na geestesgesondheidsdienste gelei.

“Dit het in baie gevalle bestaande toestande vererger terwyl dit in ander nuwe probleme veroorsaak het.”

Hy sê selfsorg-oefeninge vir geestesgesondheid help in sulke stresvolle tye en kan voorkomend wees en is normaalweg genoegsaam om goeie geestesgesondheid te bevorder.

“Ander mense ervaar meer komplekse probleme wat professionele sorg vereis.”

Akeso het ’n aanlyn veldtog begin om ’n begrip vir geestesgesondheid te bevorder.

Monique Elliott, hoof van bemarking van CompariSure, sê die negatiewe sielkundige effek van die pandemie is byna net so erg soos die finansiële druk op huishoudings.

Dit is in hierdie stadium duidelik dat hoewel maatreëls soos sosiale afstand en inperking die infeksies help verminder het, het die onsekere tye bygedra tot die isolasie, depressie en angs wat mense ervaar.

Volgens haar het hulle met meer as 450 000 Suid-Afrikaners op Facebook Messenger gesels om ’n duideliker prentjie te kry van die invloed wat dit op huishoudings se finansiële en geestesgesondheid het.

CompariSure het tegnologie wat finansiëledienstegroepe aan verbruikers verbind.

Sowat 20% van die deelnemers het aangedui dat geestesgesondheid hul grootste uitdaging tydens die inperking was.

Altesaam 53% het finansiële druk ervaar en 41% het gesê een of meer lede van die huishouding is werkloos gelaat.

“Dit is welbekend dat finansiële druk en werkloosheid bykomende druk op die geestesgesondheid van mense plaas.”

Die groep vir depressie en angs (Sadag) het ’n ruk gelede bekend gemaak dat die daaglikse oproepe van mense wat angs en stres ervaar, het sedert die begin van die inperking meer as verdubbel.

“Dit is in hierdie stadium duidelik dat hoewel maatreëls soos sosiale afstand en inperking die infeksies help verminder het, het die onsekere tye bygedra tot die isolasie, depressie en angs wat mense ervaar.”

CompariSure se peiling toon die verhoogde geestelike en emosionele druk wat baie Suid-Afrikaners ervaar, gaan waarskynlik bly selfs al is die inperking verslap.

“Op die oomblik glo ongeveer 26% van die deelnemers dat die toestande in Suid-Afrika nooit weer dieselfde sal wees nie.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Selfdood  |  Koronavirus  |  Depressie  |  Sosiale Distansiëring  |  Beroepe  |  Inperking  |  Angs  |  Loopbane  |  Covid-19  |  Geestesgesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.