Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Beroepslui kook makliker oor tydens inperking

Byna 39% van Suid-Afrika se beroepswerkers het te midde van Covid-19 veel meer negatiewe gedagtes as voor die inperking gehad en 14% was baie meer humeurig as voorheen.

Stresvlakke op kantoor was dalk minder as tydens werk van die huis af. Foto: iStock

Nog 3,5% van respondente in die mediese fonds Profmed se jaarlikse stres-opname onder sy lede het gesê weens die hoër stres wat hulle ervaar, het hulle meer alkohol verbruik.

Craig Comrie, uitvoerende hoof van Profmed met sowat 74 000 lede en begunstigdes, sê volgens die 2020-indeks is 45% van beroepsmense besorg oor werksekerheid tydens en ná die pandemie.

Sowat 36% van die 1 331 gegradueerde beroepslui wat aan die opname deelgeneem het, was dokters, spesialiste en ander gesondheidswerkers.

Omdat baie elektiewe prosedures uitgestel is en minder mense ook mediese sentrums vir ander siektetoestande besoek het, het 29% van respondente dit aan hul sakke gevoel met laer inkomste.

Die ander groot vrees is dat hulle iemand na aan hulle weens Covid-19 sal verloor.

In 2018 en 2019 was finansies die grootste bron van stres vir beroepslui.

Volgens Comrie was respondente veel minder gestres voor Covid-19.

Net minder as 50% het gesê hulle ervaar gemiddelde stresvlakke, en vir sowat 16% was dit hoog.

Midde-in die pandemie het laasgenoemde persentasie tot 37,2% opgeskiet.

Byna die helfte van respondente het gesê die stres wat hulle ervaar, het ’n fisieke en emosionele uitwerking.

Maar ongelukkig blyk dit 50% respondente se werkgewer of hul eie ondernemings stel geestesgesondheid nie as ’n prioriteit nie.

Comrie sê 73% van mense met hoë stres het nie na enigeen uitgereik om te gesels of hulp te kry nie.

Dit is kommerwekkend, veral ook omdat Profmed in die laaste drie jaar ’n toename van meer as 10% gesien het in die korttermynopnames van professionele mense of hul begunstigdes in geriewe waar hulle sielkundige hulp moes kry.

Beroepslui het gesê hulle weet hul stres is erger as voorheen weens slapeloosheid, omdat hulle skielik kort van draad is of gewig optel.

Die laaste drie jaar het al meer beroepsmense geoefen om hul stres te verminder en heelwat verkies wegbreeknaweke of vakansies, maar dit is alles aan bande gelê tydens die streng vlak 5-inperkings.

Dit kan deels wees waarom stresvlakke vanjaar in die algemeen hoër is onder beroepslui, sê Comrie.

Ander maniere om hul stres te verlig, sluit in om met familie, vriende en ander beroepslui daaroor te praat.

Dr. Wilhelmina Erasmus, ’n kliniese psigiater en lid van Profmed, het die afgelope paar maande baie met gesondheidswerkers in die voorste linie teen Covid-19 gewerk.

Sy het gevind gesondheidswerkers in die openbare sektor het te kampe met ’n swaarder werkslas en boonop moet hulle veel meer voorkomende maat­reëls nakom.

Daarenteen is private dokters en spesialiste se stres opgejaag omdat hulle minder pasiënte gesien het, wat tot finansiële verlies gelei het.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Stres  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Beroepe  |  Inperking  |  Loopbane  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.