Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Beserings by die werk: ‘Fonds kan nie so aangaan’

Die laaste agt tot tien jaar al sukkel die staat se Vergoedingsfonds met onreëlmatige, vrugtelose en vermorste besteding, het Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, Woensdag toegegee.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid.

Hy het aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verduidelik hoe dit gekom het dat die Vergoedingsfonds nie ’n skoon oudit vir sy 2019-’20-jaarverslag ontvang het nie.

Nxesi het beloof hulle het met ’n omvattende hersiening van die fonds begin om die “onderliggende sistemiese swakhede” te pak.

Die Vergoedingsfonds is bedoel as ’n fonds om werknemers te vergoed wat beserings aan diens opgedoen het. Sy beleggingsbates word deur die Openbare Beleggingskorporasie bestuur, wat ook die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Staatsdienspensioenfonds se geld bestuur.

Nxesi en sy departement het nou 30 dae om verslag te doen oor hoe hulle ’n volskaalse forensiese ondersoek na die Vergoedingsfonds gaan aanpak.

Skoor dring aan op só ’n ondersoek.

Maar Thobile Lamati, direkteur-generaal van indiensneming en arbeid, het aan Skoor gesê ’n forensiese ondersoek is nie nodig vir die basiese gebrek aan beheer by die fonds nie. Hy het die fonds se probleme toegeskryf aan die proses om van ’n ou stelsel na ’n nuwe stelsel oor te skakel.

Wanbestuur
  • Van 2009 tot 2021 is 151 gevalle van onreëlmatige besteding en 205 gevalle van vrugtelose en vermorste besteding by die fonds aangemeld.
  • Vir 64 van die gevalle, ten bedrae van R284 miljoen, het die dokumente weggeraak, want van die gevalle dateer so ver terug as 2008 en van die betrokke amptenare werk nie meer by die fonds nie.
  • Nog R280 miljoen se gevalle van wanbesteding word ondersoek.

Lamati pak ook die skuld op die feit dat die fonds deur administratiewe wetgewing aan die departement gekoppel is, en daarom sukkel hulle om hoogs gekwalifiseerde mense in sleutelposte aan te stel.

Die fonds het tot voor 2014 alles per hand gedoen. Daar was nie behoorlike rekordhouding nie. As jy die fonds se kantore besoek vind jy hordes leggers en dokumente wat rondlê.

In die proses om van een stelsel na ’n nuwe geoutomatiseerde IT-stelsel oor te skakel, het leemtes ontstaan waar dokumente weggeraak het, en daarom kon die ouditeur-generaal nie bewyse kry vir verskillende transaksies van die fonds nie.

Die fonds word gefinansier uit bydraes van geregistreerde werkgewers op grond van hul verdienste en hoeveel mense op hul betaalstaat is, maar daar is ’n agterstand van werkgewers wat nie hul verdienste aanmeld nie. Daar is ook meer as 100 subklasse waarvolgens werkgewers geklassifiseer word en dit skep volgens Lamati ’n ernstige probleem. Talle werkgewers is geregistreer in verkeerde kategorieë en hul dokumentasie is nie opgedateer nie. Dan eis hulle terugbetalings op grond daarvan dat hulle nie korrek geklassifiseer is nie. Die subklasse is nou tot 13 vereenvoudig, wat die lewe makliker maak. Dit sal vanaf die lopende boekjaar ingestel word.

Volgens Vuyo Mafata, kommissaris van die fonds, is ’n betaalstaat-oudit-eenheid gevestig wat die afgelope 12 maande begin het om inspeksies by werkgewers te gaan doen om uit te vind hoekom hulle nie voldoen aan die reëls wat voorgeskryf word sodat werknemers vir beserings kan eis nie.

Volgens Mafata is daar van 2017 tot 2019 ’n vaardigheidsoudit van die fonds gedoen. Maar Bheki Hadebe, ANC-lid van Skoor, wou weet wat het dit te make met die probleme wat steeds vanjaar by die fonds bestaan, en waarom daar steeds vermiste dokumente is.

Hadebe het ook uitgevra oor die OG se bevindings dat die fonds selfs aan mense wat reeds dood is, voordele uitbetaal. Mafata het verduidelik dit kon gebeur dat betalings gedoen is vir eise toe die persoon nog gelewe het, en die geld word dan uitbetaal aan die weduwee of ander naasbestaandes.

Hadebe het Mafata ook gepeper oor onreëlmatige kontrakte wat die OG uitgelig het, soos ’n kontrak met Liquid Telecom vir datalyne, en met Dimension Data.

Eise
  • Die fonds ontvang gemiddeld 150 000 beseringseise per jaar.
  • 800 000 mediese rekeninge word per jaar ontvang.
  • In die vorige boekjaar is minder eise ontvang weens die invloed van die Covid-19-pandemie, en is net 99 000 beseringseise geregistreer, met 618 000 mediese rekeninge wat ontvang is.
  • Teen 17 Mei was 17 831 van die mediese rekeninge se verwerking nog uitstaande.
  • Nog 92 000 beseringseise is ingedien, maar die meegaande inligting is te gebrekkig om dit te verwerk.
  • Uit sowat R3 miljard se mediese rekeninge van die vorige boekjaar is R172 miljoen teen einde Maart nog nie betaal nie.

Mafata het verduidelik die kontrak met Liquid Telecom het verstryk en is nie hernu nie, want die departement het die verskaffing van datalyne na die staat se eie IT-agentskap, Sita, oorgedra. Tog het die kontrak voortgegaan, en die betrokke amptenaar het ’n skriftelike waarskuwing gekry.

Nog ’n kontrak waaroor skerp vrae gevra is, is dié met First Property, wat pakstoorgeriewe moes lewer vir die massiewe hope papierdokumente van die fonds wat in verskillende pakstore geberg moes word. Toe dié kontrak verstryk het, het dit van maand tot maand voortgegaan sonder ’n behoorlike kontrak, terwyl dokumente aanlyn geskuif is. Daar is nog nie teen enige amptenaar opgetree oor dié kontrak nie, het Mafata erken.

Alf Lees, DA-lid van die komitee, wou weet hoekom net sewe werknemers oor wanbestuur gewaarsku is in die 2019-’20-boekjaar terwyl daar minstens 815 werknemers by die fonds se hoofkantoor in Pretoria is. Volgens Mafata bestaan die sewe gevalle uit vier werknemers wat geskrewe waarskuwings gekry het, en drie wat afgedank is omdat hulle omkoopgeld gevra het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.