Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Byna 2 uit 3 van SA sal oorsee gaan werk

Die Covid-19-pandemie het Suid-Afrikaners in 2020 minder gretig gemaak om oorsee te gaan werk as voorheen. Tog is byna twee uit drie steeds bereid om dié groot stap te doen.

vlag
Wêreldwyd is Kanada nou die gunsteling-bestemming vir mense wat oorsee wil gaan werk, maar in Suid-Afrika bly die VSA steeds boaan die lys. Foto: Pixabay

Volgens ’n peiling deur Boston Consulting Group (BCG) en The Network het die pandemie ’n geweldige invloed gehad op mense se houding om oorsee te werk. In verreweg die meeste lande stel minder mense daarin belang om oorsee te gaan werk, en dié wat belang stel, kyk na lande waar die pandemie beter in bedwang gebring is.

In dié studie, Decoding Global Talent, Onsite and Virtual, is 208 807 mense in 190 lande, onder wie 1 421 Suid-Afrikaners, ondervra. Die 2020-studie word vergelyk met die syfers van ’n soortgelyke peiling wat in 2018 gedoen is.

In 2020 was 59% van Suid-Afrikaners bereid om vir werk na ’n ander land te trek. Dit is heelwat minder as in 2018, toe 72% bereid was om dit te doen.

Wêreldwyd is 50,4% van mense nou bereid om oorsee te gaan werk, teenoor 57,1% in 2018 en 63,8% in 2014, toe die studie die eerste keer gedoen is.

Hoe aanloklik is SA vir buitelanders?

Suid-Afrika was in 2020 minder gewild as ’n bestemming vir oorsese werknemers as in 2018. Dit het van nr. 40 op die ranglys tot nr. 45 gedaal.

Die land bly egter onder die gewildste bestemmings vir mense van ander Afrika-lande, insluitend Zambië, Angola en Gabon, en ook van Nederland en Brittanje.

As die statistieke verder ontleed word, wys dit dat 56% van Suid-Afrikaners jonger as 30 jaar, en 61% van mense met meesters- of doktorsgrade bereid is om te hervestig.

Rudi van Blerk, ’n prinsipaal en werwingsdirekteur van BCG in Johannesburg, sê die Suid-Afrikaanse bevindings is in pas met wêreldwye tendense. Benewens die pandemie is daar nou strenger immigrasiebeleide in baie lande wat voorheen topbestemmings vir Suid-Afrikaners was.

Mense wat werk in beroepe wat wêreldwyd gesog is, is steeds baie mobiel en gewillig om oorsee te gaan werk. Dit sluit in mense wat werk in die veld van digitalisering en outomatisering, van wie 85% oorsee sal gaan werk as hulle die kans kry, wetenskap en navorsing (78%), die regte (76%) en informasietegnologie (74%).

“Dit kan dui op die risiko van ’n breinkwyn in dié velde, waar werkgewers dikwels sukkel om poste te vul.”

Gewildste bestemmings vir Suid-Afrikaners

Die gewildste land onder mense wat oorsee sal gaan werk, bly die VSA, maar ander lande op die lys het effens verander.

China – waar die Covid-19-pandemie ontstaan het – het uitgeval in die top-tien, maar ook Switserland.

Nuwe lande op die top-tien-lys is Nederland en Botswana.

Hier is die tien gewildste bestemmings:

1. VSA

2. Brittanje

3. Australië

4. Kanada

5. Nieu-Seeland

6. Verenigde Arabiese Emirate

7. Duitsland

8. Nederland

9. Botswana

10. Frankryk

Aanlyn werk

Werk van die huis af is nie net ’n tendens vir mense met Suid-Afrikaanse kantore nie – al hoe meer mense werk ook van hul vaderland vir maatskappye in ander lande.

’n Groot persentasie Suid-Afrikaners (73%) is bereid om vir ’n buitelandse maatskappy te werk as hulle dit vanuit Suid-Afrika kan doen. Dis teenoor die wêreldgemiddeld van 56,9%.

Wiebka Cooper, bedryfshoof van CareerJunction, sê die pandemie het dié tendens beslis versterk en bied goeie loopbaangeleenthede aan Suid-Afrikaners sonder dat hulle hoef te verhuis. CareerJunction het gehelp om die peiling in Suid-Afrika te doen.

Maatskappye in dieselfde drie lande waarheen mense sou verhuis, is die voorkeurbestemmings, naamlik die VSA, Brittanje en Australië.

Van Blerk sê hoewel dit wonderlike geleenthede skep vir mense om wêreldwyd ervaring op te doen en aan hul loopbane te bou terwyl hulle beter salarisse verdien, kom dit ook neer op ’n “virtuele breinkwyn” vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Onder die uitdagings vir maatskappye met ’n virtuele, wêreldwye arbeidsmag is die probleem van kultuurintegrasie, tydsones wat verskil, regsaspekte en hoe om ’n vergoedingstrategie te bepaal.

Wêreldwye tendense

Kanada het die VSA vir die eerste keer verplaas as die gewildste bestemming vir alle mense wat aan die peiling oor werk oorsee deelgeneem het.

BCG skryf dit toe aan die swak bestuur van die pandemie, nasionalisme en maatskaplike onrus, insluitend ’n toename in rasgegronde betogings en aanvalle in die VSA.

brittanje
Londen is die stad waar die meeste mense graag sal wil werk. Foto: Pixabay

Die VSA is wel nog in die tweede plek wêreldwyd, net ’n aks voor Australië.

As mense vanuit hul vaderland vir ’n oorsese firma kan werk, spring die VSA weer op na die topbestemming.

As mense spesifiek gevra word in watter stad hulle wil gaan werk, is die top-vyf soos volg:

1. Londen, Brittanje

2. Amsterdam, Nederland

3. Dubai, Verenigde Arabiese Emirate

4. Berlyn, Duitsland

5. Abu Dhabi, Verenigde Arabiese Emirate

New York, wat voorheen nr. 2 was, het tot nr. 8 geval. Dié stad was een van die stede wat die ergste deur die eerste en tweede vlaag van die pandemie getref is en baie kultuurbestemmings in die stad is steeds gesluit, wat volgens BCG ’n groot rol speel om die stad minder gewild te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.