Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Covid-19-positief? Jy beter nie werk toe kom nie

As jy dit nou nog nie geweet het nie, het ’n hof dit nou weer bevestig: Jy kán afgedank word as jy kom werk nadat jy positief vir die koronavirus getoets is.

k
Mense moet maskers op kantoor dra - dis wet. Foto: Pixabay

Die arbeidshof het in ’n onlangse uitspraak ’n beroep op werkgewers gedoen om seker te maak hul werknemers voldoen aan regulasies wat daarop gemik is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Dit help nie ’n werkplek het Covid-19-protokolle op papier, maar niemand steur hulle daaraan nie, waarsku die regsfirma Webber Wentzel.

Dis een van die vele nuwe arbeidsvraagstukke wat die Covid-19-pandemie laat ontstaan het. Regskenners het al voorheen gewaarsku mense wat hul simptome vir werkgewers wegsteek, kan diep in die sop beland. Daarby is daar ook nou die vraag of mense gedwing kan word om ingeënt te word – en die antwoord is ja, met sekere voorbehoude.

LEES OOK: Covid-inenting: Jou baas kan dit wel van jou vereis

Die saak het gegaan oor Stuurman Mogotsi, ’n voormalige assistent-slaghuisbestuurder by die kouevleisprodusent Eskort.

Mogotsi was in ’n betreklik senior pos. Hy was deel van die koronavirus-perseelkomitee en dus terdeë bewus van die maatskappy se Covid-19-protokolle. Dit sluit in dat hy geweet het werknemers moet hulself isoleer indien hulle in verbinding was met iemand wat die virussiekte onder lede het.

Die kollega saam met wie Mogotsi elke dag werk toe ry, het op 1 Julie 2020 begin siek word. Hy is egter eers op 20 Julie positief vir Covid-19 getoets.

Mogotsi het ook in Julie simptome begin toon, insluitend ’n hoes. Hy is gevra om tuis te bly, maar het aangehou werk toe kom.

Mogotsi het eers op 5 Augustus ’n Covid-19-toets laat doen en het op 9 Augustus gehoor hy is wel positief. Hy het egter aanhou werk terwyl hy vir die uitslag gewag het, en ook nadat hy die uitslag gekry het, op 10 Augustus.

Videomateriaal op die perseel het later onthul Mogotsi het op dié dag ’n kollega ’n drukkie gegee. Wat dit vererger, is dat dit iemand was wat gely het aan komplikasies van hartchirurgie, dus iemand wat besonder kwesbaar sou wees indien sy Covid-19 sou opdoen.

Hy het ook sonder ’n masker in die werkplek rondgeloop.

Toe dié inligting ontdek is, is verskeie mense huis toe gestuur om hulself te isoleer. Daar is geen aanduiding in die hofstukke dat Mogotsi wel ander kollegas aangesteek het nie.

Hy is in ’n dissiplinêre verhoor aan growwe nalatigheid skuldig bevind en as straf afgedank. Dis sover bekend die eerste geval waar iemand afgedank is nadat hy werk toe gekom het, selfs al het hy geweet hy is Covid-19-positief.

Hy het hom na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gewend weens beweerde onbillike afdanking. Die KVBA het daarop gewys dat Eskort se dissiplinêre kode ’n “finale geskrewe waarskuwing” vereis vir ’n bevinding van growwe nalatigheid. Eskort is gedwing om Mogotsi weer aan te stel.

Eskort het na die arbeidshof geappelleer. Dié hof het bevind afdanking was nie ’n onvanpaste straf in die lig van die erns van die oortredings nie. Dis ongeag wat in die dissiplinêre kode as “riglyne” gestel word.

Die oortredings het ook ’n voortgesette werkverhouding moeilik gemaak, wat afdanking toepaslik gemaak het.

Webber Wentzel sê dis belangrik dat die hof ook krities was dat niemand beswaar gemaak het toe die werknemer sonder sy masker rondgeloop en mense drukkies gegee het nie.

Die hof het ’n beroep op werkgewers gedoen om seker te maak werknemers slaan werklik ag op gesondheids- en veiligheidsprotokolle.

“Die hofuitspraak is belangrik vir sowel werkgewers as werknemers, aangesien dit uitlig dat werkgewers introspeksie moet doen oor of bestaande protokolle in die werkplek nagekom word.”

Webber Wentzel wys ook daarop dat werkplekke moet voldoen aan die regulasies oor Covid-19 wat ingevolge die Wet op Rampbestuur afgekondig is.

Dit sluit in dat dit ’n misdaad is om nie ’n masker in die openbaar te dra nie.

Daar is ook baie spesifieke regulasies waaraan die eienaars en huurders van kantore moet voldoen, soos om sosiale distansiëring te handhaaf en mense se simptome te monitor voordat hulle by ’n werkplek ingaan.

Strawwe boetes kan aan maatskappye opgelê word wat nie die regulasies afdwing nie.

Netwerk24 het vantevore berig mense kan ook afgedank word indien hulle in hul private lewe roekeloos is en byvoorbeeld sonder ’n masker in die openbaar is of in groot groepe partytjie hou.

Die regulasies beperk byeenkomste tot 500 mense buite en 250 mense binnenshuis, mits dit nie 50% van ’n lokaal se kapasiteit oorskry nie.

LEES OOK: Partytjiefoto sonder masker kan tot afdanking lei

Webber Wentzel waarsku ook as daar nog werkgewers is wat nié hul dissiplinêre kodes aangepas het om Covid-19 in te sluit nie, moet hulle gou spring.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Entstof  |  Vlak 2  |  Covax  |  Beroepe  |  Inperking  |  Loopbane  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.