Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Covid-inenting: Jou baas kan dit wel van jou vereis

Werkgewers kan dit verpligtend maak dat hul werknemers teen die koronavirus ingeënt word.

Jy kan afgedank word indien jy weier om die entstof vir die koronavirus te ontvang as jou werkgewer dit verpligtend gemaak het. Foto: Unsplash

Regskenners meen ontslag is jou voorland as jou werkgewer dit verplig en jy weier om ’n inenting te kry.

Jan Truter, arbeidsregkenner van Labourwise, meen dit is ’n werklikheid dat werknemers dit verpligtend kan maak as voorwaarde dat hul werknemers kan voortgaan om vir die maatskappy te werk.

“Die ontwikkeling van ’n entstof vir Covid-19 is ’n relatief onlangse verwikkeling wat nog nie sy weg na die werkplek gevind het nie. Dit sal natuurlik geredelik beskikbaar moet wees voordat dié vraag ter sprake sal kom.

“Daar bestaan geen twyfel nie dat die werkplek veiliger sal wees indien alle werknemers ’n Covid-19-inenting ontvang het.”

Koste

Truter sê indien die entstof wyd beskikbaar is en ’n werkgewer dit as belangrik ag dat sy werkmag immuun moet wees teen die koronavirus, en inenting dan dienooreenkomstig verpligtend maak, sal die werkgewer egter daarvoor moet betaal.

Werknemers sal dus nie self verantwoordelik wees om die koste te dra van die inenting indien dit wel verplig word nie.

Billikheid

“Dit is heel denkbaar dat werkgewers dit in ’n stadium as ’n voorvereiste gaan stel. Dis in pas met ’n wêreldwye tendens op verskeie gebiede, soos sekere lugrederye en lande wat inenting as ’n voorvereiste begin stel om onderskeidelik passasiers en landsburgers te beveilig.”

Maar die omstandighede in werkplekke verskil.

“In sommiges is daar ’n groter risiko van infeksie as in ander. Die aard van die werk kan ook ’n invloed hê op hoe belangrik dit is dat werknemers immuun is.

’n Voor die hand liggende voorbeeld is gesondheidswerkers – ’n mens het begrip dat inenting vir hulle ’n redelike voorvereiste sal wees; dieselfde geld ander werknemers wat in gereelde, noue aanraking met medewerknemers en die publiek is,” sê Truter.

“Dit sal dalk ’n ander saak wees indien iemand ’n veldwerker in die bosboubedryf is wat met geen siel in aanraking kom nie. Kortom, al die relevante omstandighede moet in ag geneem word.”

As jy weier

Indien dit redelik is om van werknemers te verlang om ingeënt te wees voordat hulle terugkeer werk toe, wat gebeur as ’n mens sou weier?

“Na my mening behoort dit nie as wangedrag beskou te word nie. Dit sou meer gepas wees om dit as ‘ongeskiktheid’ te beskou, dus die werknemer voldoen nie aan ’n redelike operasionele vereiste wat betref veiligheid en gesondheid in die werkplek nie.”

Truter vergelyk dit met die fisieke gesondheid van ’n werker waar daar ’n bepaalde standaard is, soos in die geval van vlieëniers wie se sig op ’n sekere vlak moet wees, of ondergrondse mynwerkers, wat ’n sekere hittetoleransie moet hê.

Dit behoort moontlik te wees om die werknemer se diens met ’n kennistyd te beëindig indien hulle dan sou weier om ingeënt te word.

“Uit ’n prosedurele oogpunt is dit belangrik dat werknemers ’n geleentheid gegun word om hul saak te stel voordat so ’n besluit geneem word.”

Kan daar grondige redes, soos kultuur of geloof, wees om ’n inenting te weier?

Truter meen dat die werkgewer self sal moet bepaal wat ’n grondige beswaar sou wees en of die werknemer nie net op ’n “missie van sy eie” is (soos mense wat in beginsel teen inentings gekant is) nie.

“Hier moet die werkgewer bereid wees om geduld en buigsaamheid aan die dag te lê wees, want, hoewel daar nie noodwendig objektiewe mediese of ander grondige redes vir beswaar is nie, mag dit vir die werknemer ’n ernstige saak wees – byvoorbeeld ’n daadwerklike, hetsy irrasionele, vrees dat sy lewe in gevaar gestel sal word of dat hy van sy geloofsgemeenskap vervreem sal word.”

Truter sê in dié geval sal ontslag ’n laaste uitweg wees.

Werk van huis af?

Hy meen egter dat die werkgewer sal moet oorweging skenk aan alternatiewe, soos dat die werknemer byvoorbeeld van die huis af mag werk.

Hugo Pienaar, arbeidskenner van Cliffe Dekker Hofmeyr, het ’n ander mening in dié geval.

Pienaar het vandeesweek op Moneyweb se radiosending op RSG met Ryk van Niekerk daaroor gesels.

Volgens Pienaar is ’n presedent gestel deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om mense se “reg om van die huis af te werk” te weier.

Hy sê die KVBA het onlangs bevind dat werknemers nie ’n reg het om van die huis af te werk indien die werkgewer vereis dat die werknemer eintlik op kantoor moet wees nie.

’n Werkgewer wat dus sy werkmag op kantoor wil hê, kan dus wel vereis dat sy werknemers terugkeer kantoor toe en ook dus dat hulle ingeënt word ten einde dit te kan doen.

Om probleme oor mense se grondwetlike reg tot hul liggaam te omseil, kan werkgewers ook bloot die inenting deel van sy diensvoorwaardes maak, sê sowel Truter as Pienaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.