Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
DA: Hoe hanteer fonds vir werkbeserings dié storm?
Die DA is bekommerd oor of die Vergoedingsfonds al die eise gaan kan hanteer wat hy na verwagting weens Covid-19 gaan kry. Foto: Pixabay

Hoe gaan die Vergoedingsfonds duisende eise weens Covid-19 verwerk en uitbetaal as hy nie eens voor die uitbreking van die pandemie kop bo water kon hou nie?

Dit is wat die DA se Michael Cardo en Michael Bagraim wil weet in reaksie op ’n verklaring Donderdag deur die departement van arbeid wat sê dat dié fonds reeds 1 435 eise ontvang het van mense wat die koronavirus by hul werk opgedoen het.

Luidens die verklaring het die fonds tot dusver R202 172,35 aan mediese uitgawes betaal.

LEES OOK: 82% wat Covid-19 by werk opdoen, is vroue

Die Vergoedingsfonds, wat deur die ongevalle-kommissaris se kantoor behartig word, moet die eise van mediese diensverskaffers uitbetaal vir die behandeling van werknemers wat aan diens beseer is.

Cardo sê sedert die einde van 2019 toe die kantoor van die kommissaris van die uMehluko-stelsel na Compeasy oorgeskakel het, was daar groot probleme selfs om net eise geregistreer te kry.

“Die nuwe stelsel was veronderstel om dit maklik te maak om eise in te dien en te verwerk. Dit lyk nie of dit die geval is nie,” het hy Vrydag in ’n aanlyn gesprek met die media gesê.

Hy sê selfs nog voor die staat van inperking het verskaffers gekla dat hulle nie eise gelaai kry nie.

Cardo sê die syfers wat die DA het, is dat net 3% van eise wel op die stelsel gelaai kon word, terwyl net 1% verwerk en betaal is.

Die VF Plus het reeds in Februarie gesê eise kan nie op die stelsel gelaai word nie.

LEES OOK: VF Plus sê oor probleme met Vergoedingsfonds

Cardo sê die departement van arbeid boesem die afgelope maande nie enige vertroue in nie.

Hy verwys na die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) wat sukkel om eise te verwerk wat ingevolge die Covid-19-Ters-skema betaal moet word.

“Die Vergoedingsfonds is baie sieker as die WVF. Hoe gaan hulle ’n groot stormloop van eise kan hanteer?” vra hy.

Bagraim sê hy wil ook weet hoe die fonds besluit watter eise om te betaal en watter nie.

Hy sê hy weet van talle gevalle waar daar geen twyfel bestaan daaroor dat ’n besering by die werk opgedoen is nie, en tog het dit weke, maande en selfs jare geneem om ’n eis te verwerk.

“Hoe gaan beslis word of iemand die virus by die werk opgedoen het, en of dit by die huis was?”

Cardo sê daar is ook groot twyfel oor of die fonds genoeg geld gaan hê om eise uit te betaal.

“Ons weet dat die fonds Compsol meer as R700 miljoen skuld,” sê hy.

Compsol is ’n maatskappy wat eise namens werkgewers hanteer.

Dié maatskappy het glo tans 34 aktiewe regsaksies teen die fonds, waarin R229 miljoen geëis word.

Cardo en Bagraim sê hulle gaan ’n beroep op Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, doen om die hele proses om eise weens Covid-19 by die fonds in te dien, via ’n private diensteverskaffer te hanteer.

“Kry ’n mediesefonds of versekeraar om te help,” is hul raad.

Cardo sê hulle beoog om dringend ’n skriftelike versoek hieroor aan Nxesi te stuur.

K

Meer oor:  Vergoedingsfonds  |  Da  |  Departement Van Arbeid  |  Thulas Nxesi  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.