Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Dié beroepe nou baie gesog in Suid-Afrika
Suid-Afrika beleef 'n tekort aan skaars vaardighede. Foto: Unsplash

Suid-Afrika se tekort aan noodsaaklike vaardighede in sekere sektore bly ’n remskoen vir groei.

’n Opname wat Xpatweb in 2017 oor tekorte aan noodsaaklike vaardighede gedoen het, toon tot 77% van die respondente het gesukkel om aansoekers met sekere skaars vaardighede plaaslik te werf, sê Marisa Jacobs, hoof van immigrasie en mobiliteit by Xpatweb.

“Suid-Afrika behoort die internasionale voorbeeld te volg en die vaardighede wat hy benodig in te voer, totdat die land genoeg van sy eie kundigheid in die velde het waar daar ’n tekort is.”

Dieselfde opname toon ook dat tot 76% van die deelnemers aangedui het dat hulle wel die vaardighede wat hulle nodig het internasionaal kon kry.

Maar 90% sê die proses om internasionaal aansoekers te werf, is te moeisaam.

Jacobs sê hierdie is ’n persepsie eerder as ’n werklike probleem.

“Die proses om werkvisums te kry, is tydrowend, maar dit behoort maatskappye nie te verhoed om noodsaaklike vaardighede in te voer nie.”

Waar lê die tekorte?

Die opname het bevind dat werkgewers en multinasionale maatskappye dit die moeilikste vind om ingenieurs te werf, met 22% wat aangedui het dat dit ’n skaars vaardigheid is.

Maar in sektore soos inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) (15%), finansiële spesialiste (10%) en gespesialiseerde tegniese vaardighede (9%) was dit ook moeilik om mense met die regte vaardighede te vind.

Die departement van binnelandse sake publiseer ’n lys van minstens 12 sektore waarin die land ’n behoefte aan noodsaaklike vaardighede het.

Dit sluit in landbou, argitektuur, ekonomie, IKT, ingenieurswese en die gesondheidsberoepe.

Dié lys is al sedert 2014 onveranderd, sê Jacobs.

Migrasiebeleid

Die regering se witskrif oor internasionale migrasie, wat in 2017 ter tafel gelê is om ’n breë beleidsraamwerk vir wetgewing oor migrasie en vlugtelinge te skep, sê die gebrek aan ’n samehangende strategie in die huidige internasionale migrasiebeleid dra by tot die land se vaardigheidstekort.

Dit lei daartoe dat Suid-Afrika nie die kwessie kan aanpak nie.

Die witskrif sê ook dat die huidige beleid nie gekoppel is aan die land se vaardigheids- en beleggingsprioriteite nie. Dit verhoed dat die land doeltreffend kan meeding om die skaars vaardighede wat hy benodig op ’n proaktiewe en buigsame wyse elders te werf.

“Die probleem is dat daar in tye van ekonomiese groei spesifieke vaardighede is wat dadelik benodig word,” sê Jacobs.

Daarom moet daar buigsaamheid in die immigrasiestelsel wees om internasionale werkaansoeke vinniger deur die visumproses te kry.

“As nuwe infrastruktuurprojekte byvoorbeeld reeds aan die gang is, raak die oordrag van vaardighede uiters noodsaaklik vir volgehoue ekonomiese groei in die land.”

Sy sê die noodsaaklikheid om vaardighede elders te werf totdat die land dit self kan verskaf, kan nie oorbeklemtoon word nie.

Die witskrif meld ook dat die land se migrasiebeleid ’n gebrek aan “samewerkende strategieë” het om internasionale migrante wat hoogs gekwalifiseer is en wat kapitaal het na Suid-Afrika te lok.

“Daar is ook ’n historiese blindheid jeens die behoud van internasionale studente wat hier studeer vir beroepsrigtings wat nodig is in die ekonomie,” luidens die witskrif.

Behou die vaardighede

Jacobs noem dat maatskappye wat tekorte aan IKT-spesialiste ondervind het die vaardighede wat hulle benodig in Indië gekry het, terwyl mynmaatskappye weer sukses behaal het om talent uit Australië te werf.

Statistieke uit die witskrif dui daarop dat die land tussen Junie 2014 en Januarie 2016 permanente verblyfreg aan 2 175 hoogs vaardige buitelanders toegestaan het.

Dit is maar net 7% van die totale aantal permanente verblyfpermitte wat in dié tydperk uitgereik is.

“Dis kommerwekkend, want die doel van die beleid is om ekonomiese groei te bevorder deur die toestaan van visums vir doeleindes soos sake, studie en om noodsaaklike vaardighede aan te vul,” lui die witskrif.

Jacobs beklemtoon dat werkgeleenthede nie van Suid-Afrikaners weggeneem word deur die invoer en behoud van skaars vaardighede nie.

“Hierdie vaardighede was in die eerste plek nie plaaslik beskikbaar nie, maar indien die kundige ingevoer word, help hulle om die ekonomie aan die gang te kry wat andersins sonder gespesialiseerde kennis sou stagneer.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Ikt  |  Beroepe  |  Indiensneming  |  Loopbane  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.