Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Fonds dek redelike koste vir begrafnis weens virus

As iemand Covid-19 by die werk opdoen en daaraan sterf, sal die Vergoedingsfonds vir “redelike begrafniskoste” opdok, sê die departement van arbeid en indiensneming.

Benewens vir die sterftevoordele, word die tydelike totale ongeskiktheid weens infeksie met die Covid-19-virus betaal van die datum van diagnose tot ’n maksimum van 30 dae.

Die departement het werkers op 2 Januarie op sy Twitter-rekening daarop gewys.

Dit hou verband met die hersiene riglyne oor vergoeding vir Covid-19 wat in die werkplek opgedoen word wat einde Junie uitgereik is en op 23 Julie in werking getree het.

Kate Collier, Shane Johnson, Mbali Nkosi en Tsholofelo Mo­fokeng van Webber Wentzel sê in ’n verklaring oor die riglyne: “As ’n kwalifiserende werknemer sterf weens Covid-19-komplikasies, sal die fonds redelike begrafniskoste dek en, waar van toepassing, sal die pensioen van die weduwee of wewenaar en afhanklike betaalbaar wees.”

Webber Wentzel sê ingevolge art. 45 van die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes is die Vergoedingsfonds verplig om alle eise wat vir vergoeding ingedien word, te oorweeg en dit te beoordeel om aanspreeklikheid te bepaal.

“Die fonds sal alle inligting wat ingedien is, in ag neem, insluitend die blootstelling wat die persoon gehad het, sy mediese geskiedenis en die inherente risiko wat verskillende kategorieë werk en beroepe inhou.”

Volgens Webber Wentzel verskaf die riglyne besonderhede oor die vereistes en die proses om vergoedingseise in te dien.

“Die riglyne erken dit dat ’n werker Covid-19 kan opdoen deur direkte blootstelling in die werkplek of deur sakereise na hoërisikogebiede of -lande.

“Die riglyne reguleer Covid-19 wat in die werkplek opgedoen is wat voortspruit uit werkverwante blootstelling.”

Hierdie bewyse is nodig

Om te bewys die virussiekte is by die werkplek opgedoen, sal die Vergoedingsfonds sekere faktore oorweeg:

  • Die inherente risiko wat verskillende kategorieë van werk en beroepe inhou;
  • Die blootstelling aan ’n bekende geval van Covid-19 by die werkplek;
  • Of dit opgedoen is op ’n goedgekeurde amptelike sakereis vir werkdoeleindes;
  • Of ’n betroubare diagnose van Covid-19 volgens die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie verskaf is; en
  • ’n Chronologiese verloop van die blootstelling by die werkplek en die ontwikkeling van simptome.

Om die inherente risiko te beoordeel­ is beroepe wat ’n risiko inhou, in kategorieë opgedeel van baie hoë blootstelling (gesondheidswerkers en lykhuispersoneel) tot lae blootstelling.

Mediumrisiko-blootstelling word geag mense in beroepe wat gereelde nabye kontak het met mense wat moontlik die virus kan hê, maar dit nie bekend is nie (soos werkers in skole, hawepersoneel en sekere kleinhandelwerkers). Dit is in areas waar die virus nog deur die gemeenskap versprei of waar die personeel gereelde kontak het met reisigers van internasionale bestemmings met wydverspreide Covid-19-oordrag.

Laeblootstelling-beroepe is diegene van wie kontak met mense wat Covid-19 het, nie vereis word nie of nie gereeld nabye kontak (minder as 1,5 m) met die publiek het nie.

“Die kategorieë is wel net ’n riglyn. Elke werker, ongeag sy beroep, kan ’n eis vir vergoeding instel as Covid-19 in die werkplek opgedoen is.”

Die Vergoedingsfonds sal slegs vergoeding gee vir bevestigde gevalle waar die fonds aanspreeklikheid aanvaar het. Dit bied geen vergoeding vir onbevestigde gevalle wat nog ondersoek word nie. Vir selfisolasie of selfkwarantyn moet die werkgewer aansoek doen ingevolge die Werkloosheidsversekeringsfonds se tydelike hulpverleningskema vir werkgewers en werknemers (Covid-19-Ters) of die prosedures vir verlof volg wat die departement in sy riglyne oor gesondheid en veiligheid in die werkplek gestel het.

Wat word betaal?

Benewens vir die sterftevoordele, word die tydelike totale ongeskiktheid weens infeksie met die Covid-19-virus betaal van die datum van diagnose tot ’n maksimum van 30 dae.

“As daar mediese komplikasies is, het die Vergoedingskommissaris die reg om elke saak na verdienste te beoordeel. As daar permanente ongeskiktheid is, sal dit drie maande ná die datum van diagnose beoordeel word en wanneer die maksimum mediese verbetering bereik is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.