Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Gier of realiteit? Werk terwyl jy vakansie hou

Verbeel jou jy sit op ’n wit strand onder palmbome met jou skootrekenaar oop terwyl jy met jou baas oor Teams gesels.

werkvakansies
Mense wil al hoe meer in beheer wees van waar hulle werk, en baie werkendes gryp geleenthede aan in lande wat visums aanbied wat jou toelaat om jou virtuele kantoor daar vir lang periodes oop te maak. Foto: Unsplash

Dit is nie vergesog nie en klaar deel van vele internasionale werkendes se werklikheid wat nie meer op kantoor hoef te sit om ’n salaris te verdien nie.

Die reisbedryf beskou dit as ’n nuwe gier en dit staan as “slow travel” of “workvations” bekend.

Dit is reisigers wat lang tye op een plek bly, terwyl hulle tyd maak om die inwoners en die plaaslike kultuur, musiek en kos te leer ken – en tussendeur te werk.

Op dié wyse word werk met plesier gekombineer en mense kan dus langer vakansie hou terwyl hulle steeds werk.

Volgens GlobalData het meer as 70% van die deelnemers aan ’n studie aangedui dat hulle nie meer op kantoor werk nie. Hoewel dit al geruime tyd deur baie mense gedoen word, het die Covid-19-pandemie dit gewilder gemaak en het die nomadiese digitale arbeidmag al hoe meer op die voorgrond getree.

GlobalData het bevind 22% van die reisigers verkies om langer as tien dae op ’n plek te bly, terwyl net 10% een dag wil reis en 14% korter periodes wil reis.

Die koste en moeite om by verskillende lande se Covid-19-regulasies in te val, is veral een van die redes waarom mense langer wil bly wanneer hulle wel besluit om te reis.

Estland reik werkvisums uit wat buitelanders in staat stel om vir 12 maande in dié land te werk. Hierdie besoekers kry dan gratis internettoegang en die lewenskoste in Estland is bekostigbaar.
Lee-Ann Hosking, bestuurder van Kaapstad Toerisme

Kaapstad het verlede week rolspelers in die toerismebedryf byeengebring om maniere te vind hoe om uit dié nuwe gier munt te slaan.

Volgens die Stad Kaapstad wys ’n studie, Growmotely, dat 97% van werkers en eienaars van ondernemings wêreldwyd deesdae verkies om baie buigsamer te wees met waar en hoe hulle werk.

“Die opkoms van die digitale nomades beteken die rolspelers in die toerismebedryf, die regering en die private sektor moet hul fokus skuif na hierdie mark wat werk en vakansie kombineer,” sê James Vos, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur.

Hy sê dié tipe reisigers kan Suid-Afrika en Kaapstad se ekonomieë ’n hupstoot gee as hulle hier kom werk en vakansie hou.

Lisa-Ann Hosking, bestuurder van Kaapstad Toerisme, sê interessante internasionale samewerking en vennootskappe is gevorm om voordeel uit die nuwe gier te trek. Estland in Europa staan tans uit as die voorste land van waar mense afstandwerk wil doen.

“Estland reik werkvisums uit wat buitelanders in staat stel om vir 12 maande in dié land te werk. Hierdie besoekers kry dan gratis internettoegang en die lewenskoste in Estland is bekostigbaar,” sê Hosking.

Sy meen Kaapstad, wat nr. 42 op die lys van 50 beste plekke vir afstandwerk in 2021 is, kan sy posisie aansienlik opskuif.

Andrae Smith, stigter van Work Wanderers, sê ’n gemeenskap is baie belangrik vir nomadiese digitale werkers en baie verkies om werkruimtes met ander te deel en te bly saam met ander wat soos hulle werk.

Kaapstad vra nou dat Suid-Afrika ook visums instel vir mense wat hier wil kom werk en vakansie hou.

Volgens Vos bly dié reisigers gewoonlik langer as 90 dae in ’n land, en daarom versoek Kaapstad die regering om visums vir langer as drie maande in te stel.

Meer oor:  James Vos  |  Toerismebedryf  |  Afstandswerk  |  Reisbedryf  |  Visums  |  Werk Van Huis Af
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.