Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
G’n verhoging? Dis oor jou baas nog onrus vrees

Suid-Afrika se groot maatskappye is bang die land het nog nie die einde van die onluste gesien nie en werknemers betaal nou die prys daarvoor.

Die onluste kan dalk terugkeer, dink Suid-Afrika se groot maatskappye – en werkers se salarisverhogings is in die gedrang by ondernemings wat die onsekerheid aan hul sak voel. Foto: Gallo Images

Waar die meeste maatskappye nog in April verwag het om voort te gaan met salarisverhogings vir die jaar soos beplan, het amper ’n derde nou gesê die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng beteken hulle kan nie daarmee voortgaan nie.

Dit is volgens die jongste navorsing van die maatskappy Remchannel en Old Mutual wat Donderdag ’n verslag oor verwagte salarisverhogings in korporatiewe Suid-Afrika vir die jaar bekend gestel het.

Altesame 14,995 miljoen Suid-Afrikaners het werk, volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die eerste kwartaal van 2021. Van hulle werk sowat 10,574 miljoen mense in die formele sektor. 

Dié mense se salaris ondersteun regstreeks en onregstreeks die res van die land se sowat 60,14 miljoen mense.

Volgens Malusi Ndlovu, direkteur van groot ondernemingsmarkte van Old Mutual, het die onlangse onluste nie net regstreeks tot verliese vir talle van die land se groot maatskappye gelei nie, dit het ook kommer gewek onder die res wat nie seker is oor die toekoms van sake en handel in die land nie.

“Daar kan ’n stadige brand van onluste voortduur wat sake in die wiele sal ry,” sê Ndlovu.

Hy verduidelik al het ’n maatskappy nie regstreekse verliese gely nie, het die onluste soveel skade aangerig dat dit die ekonomie ’n lang tyd sal neem om te herstel. Maatskappye was tot en met April nog besig om sakevertroue op te bou ná maande van inperkings en die verwoesting van die Covid-19-pandemie.

Remchannel se navorsing wys dat maatskappye in April hul vooruitsigte heelwat verbeter het teenoor Oktober 2020 se laaste peiling. Waar slegs 10% van maatskappye in Oktober aangedui het salarisverhogings sou soos beplan voortgaan, het 30% teen April aangedui dit sou gebeur. Boonop het die getal maatskappye wat beplan het om salarisse te besnoei, ook tussen Oktober en April van 26% tot slegs 19% verminder.

Maar toe kom die onluste en die derde vlaag van infeksies en gepaardgaande streng inperkings.

In ’n blitspeiling in Julie het Remchannel bevind 32% van maatskappye sê die onluste sal nou hul beplande salarisverhogings raak.

Van hierdie ondernemings dui 80% aan dat salarisverhogings dienooreenkomstig verminder sal moet word, terwyl 15% verhogings uitgestel het. ’n Volle 5% van die geraakte maatskappye sê verhogings vir die jaar is geheel en al weens die onluste geskrap.

Vakbonde

Remchannel is egter steeds optimisties oor die jaar se salarisverhogings met die algehele tendens van verbeterende sakevertroue.

Sy navorsing wys dat vakbonde ’n enorme uitwerking op die vlak van salarisverhogings in korporatiewe Suid-Afrika het. Gemiddeld kry vakbondlede die hoogste verhogings van enige soort werknemer in groot maatskappye – die uitvoerende bestuur inkluis. Vir basiese salarisse was die gemiddelde verhoging tussen April 2020 en April 2021 vir vakbondlede 6,06% terwyl die uitvoerende bestuurslui slegs verhogings van 4,46% gekry het.

Die grootste verhogings was in die kleinhandelsbedryf te sien, terwyl die vervaardigingsektor met gemiddelde salarisverhogings van 4,57% die swaarste gekry het.

Meer oor:  Old Mutual  |  Plundery En Geweld  |  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Salarisse  |  Onluste  |  Sakevertroue  |  Verhogings  |  Beroepe  |  Loopbane  |  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.