Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Het ekspat-taks impak gehad op oorsese werk?

Dis moeilik om te bepaal of die veelbesproke ekspat-belasting verlede jaar ’n groot impak gehad het op Suid-Afrikaners se besluit om oorsee te gaan werk – of wáár.

Suid-Afrikaners wat vir tye oorsee werk, kry belastingverligting op die eerste R1,25 miljoen wat hulle verdien. Foto: iStock

Die nuwe belastingregulasies is in werking gestel net toe die Covid-19-pandemie toegeslaan het, wat oorsese werk, nes oorsese vakansies, in 2020 bemoeilik het.

Nietemin, ’n jaar sedert dit nie meer ’n belastingvrye bestemming is nie, het die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), wat Dubai insluit, eintlik effens gewilder geword as voorkeur-bestemming vir Suid-Afrikaners wat oorsee wil gaan werk. Dit was in 2020 die sesde gewildste keuse, teenoor sewende in 2018.

Al die lande bo die VAE is lande waar Suid-Afrikaners in elk geval belasting sou betaal, soos Amerika, Brittanje en Australië, hoewel waarskynlik teen ’n laer persentasie. Volgens die nuwe regulasies moet hulle nou die verskil in belastingkoerse aan Suid-Afrika se Jan Taks oordra.

Die ranglys kom uit ’n peiling oor of mense oorsee sal gaan werk en, indien wel, waar, wat Donderdag deur die konsultantefirma BCG uitgereik is.

LEES OOK: Byna 2 uit 3 in SA sal oorsee gaan werk

Dit weerspieël dus gewilligheid, en nie die werklike syfers van mense wat oorsee gaan werk het nie.

Vanaf 1 Maart 2020 word mense wat minstens 183 dae (sien nota hieronder) oorsee werk, maar nie geëmigreer het nie, in Suid-Afrika belas vir hul oorsese inkomste. Hulle betaal net die verskil tussen belasting wat oorsee betaal is en wat hulle in Suid-Afrika op daardie inkomste sou betaal het. Die eerste R1,25 miljoen se inkomste is wel belastingvry.

Nota oor die 183 dae

Weens internasionale inperkings is ’n toegewing op die 183-dae-vereiste gemaak vir die pas afgelope belastingjaar. As mense nie na hul oorsese werkgewer kon terugkeer nie, mag die 66 dae van 27 Maart tot 31 Mei afgetrek word van die 183 dae wat mense in die buiteland moes wees om vir die belastingvergunning in aanmerking te kom.

Iemand wat in die VAE gaan werk, sou vantevore geen belasting in Suid-Afrika betaal het nie, maar sou in 2020 tot 45% belasting moes betaal vir inkomste bo R1,5 miljoen per jaar (dis vir die belastingjaar tot einde Februarie 2020), nadat die vergunning van R1,25 miljoen afgetrek is. (Die bedrag vir die topbelastingkoers is pas verhoog tot meer as R1 656 600, vir die belastingjaar wat op 1 Maart 2021 begin het.)

Aneria Bouwer, vennoot by die regsfirma Bowmans, sê mense wat oorsee wil gaan werk, kon op verskillende maniere op die ekspat-belasting gereageer het.

Eerstens sou dit emigrasie dalk aangemoedig het, pleks daarvan dat mense net vir ’n jaar of twee oorsee gaan werk. “Dis baie sleg vir Suid-Afrika, nie net vir die belasting wat verlore gaan nie, maar ook vir die verlies aan geld wat die belastingbetaler andersins in Suid-Afrika sou bestee het (byvoorbeeld as hulle met vakansies huis toe kom, en hul huis en selfs gesin hier onderhou).”

Jonty Leon en Jean du Toit, advokate van Tax Consulting SA, het in Februarie 2020 gesê die opheffing van die belastingvergunning was die laaste strooi wat honderde mense wat oorsee werk, oorreed het om finaal te emigreer.

Sharon Machutchon, ’n belastingkonsultant by Mazars, het beaam daar was ’n “vlaag” mense wat in die buiteland werk wat wou emigreer voor 1 Maart 2020.

Bouwer meen as iemand kan kies tussen twee poste met soortgelyke betaling, sou hulle dalk in die afwesigheid van belastingverligting eerder in Suid-Afrika bly, maar veel groter salarisse is juis waarom baie mense oorsee gaan werk. “Ek sou verbaas wees as baie belastingbetalers ’n soortgelyke posisie vir soortgelyke vergoeding in Suid-Afrika kon kry.”

Topbelastingkoerse

As jy vanjaar R1 656 601 of meer verdien, betaal jy in Suid-Afrika 45% belasting op die bedrag bo R1 656 600.

Gegrond op vandag se wisselkoers, lyk die topbelastingkoerse wat iemand met daardie selfde salaris vanjaar in Amerika, Brittanje en Australië sou betaal, as volg:

  • Brittanje: 40% of 45%. Die topkoers is vir mense wat meer as nagenoeg R3,2 miljoen verdien.
  • VSA: 24% tot 37%. Die topkoers is vir mense wat meer as R7,9 miljoen verdien.
  • Australië: 37% tot 45%. Die topkoers is vir mense wat meer as R10,2 miljoen verdien.
Meer oor:  Ekspats  |  Inkomstebelasting  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.