Die departement van hoër onderwys en opleiding het Donderdag sy amptelike lys van die mees gesogte vaardighede in die land vir 2020 bekend gemaak.

Sonder 'n graad kan jy steeds 'n baie gesogte werk kry in Suid-Afrika. Foto: Unsplash
Die lys word sedert 2014 elke tweede jaar saamgestel om die departement te help bepaal op watter opleiding gefokus moet word om die regte vaardighede te verseker wat die ekonomie sal ondersteun.
Netwerk24 het die lys van 345 loopbane wat in aanvraag is, nagegaan en ’n kortlys saamgestel van ’n paar van die poste wat nie ’n universiteitsgraad vereis nie en tans in Suid-Afrika gesog is.
Die departement sê in die verslag, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, dat die land voor ’n dubbele krisis staan: Nie net ’n werkloosheidskrisis nie, maar ook ’n vaardigheidskrisis.
Ten spyte daarvan dat daar meer as 12 miljoen werkloses in Suid-Afrika is, sê die departement daar is steeds ’n ongelooflike tekort aan vaardighede in die ekonomie, wat bewys word deur die enorme lys van poste wat maatskappye sukkel om te vul.
“Die verkeerde kombinasie van vaardighede, werklik en waargeneem, word algemeen beskou as beperkend op ekonomiese groei en ontwikkeling, en ’n hindernis vir maatskaplike insluiting en armoedevermindering,” lui die verslag.
Met ’n sertifikaat of diploma of selfs indiensopleiding sou jy waarskynlik maklik werk kon kry as een van die volgende:
- Plaasbestuurder
- Verkeersbeampte
- Hotelbestuurder
- Algemene kleinhandelbestuurder
- Woonwapark- of kampeerterreinbestuurder
- Reisagentskapbestuurder
- Skoenontwerper
- Voedselinspekteur
- Dansonderwyser vir private onderrig
- Sagteware-ontwikkelaar
- Webontwikkelaar
- Boekredakteur
- Tegniese tekenaar
- Vliegtuignavigator
- Boekhouer
- Versekeringsagent
- Eiendomsbestuurder
- Eiendomsagent
- Sjef
- Toergids
- Haarkapper
- Kinderoppasser
- Versorger vir bejaardes of gestremdes
- Houtkapper
- Timmerman
- Teëlaar
- Druksweiser
- Dieselwerktuigkundige
- Hyserwerktuigkundige
- Slagter
- Kleremaker
- Stoffeerder
- Duiker
- Treindrywer
- Busbestuurder
Indien jy wel ’n universiteitsgraad gaan kry of het, is die volgende tans onder die top-loopbane in die land:
- Weerkundige
- Geoloog
- Aktuaris
- Wynmaker
- Siviele Ingenieur
- Meganiese Ingenieur
- Chemiese Ingenieur
- Apteker
- Verpleegster
- Universiteitsdosent
Hier is die volledige lys.