Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Hoe werk Jan Taks met Jan Tuisbly?

Suid-Afrikaners wat sedert die inperking met Jan Tuisbly se karretjie ry, kan die onkoste vir tuiswerk in sekere omstandighede terugeis wanneer hulle hul jaarlikse belastingopgawe indien.

As jy ’n spesiale ruimte in jou huis ingerig het vir ’n tuiskantoor, mag jy ’n eis by Jan Taks indien.

Maar hokaai as jy gedink het jou eetkamertafel of kombuistoonbank deug as ’n tuiskantoor. Die vergunning is aan streng voorwaardes gekoppel. ’n Spesiale ruimte moet in jou huis ingerig wees wat uitsluitlik vir tuiswerk gebruik word.

“Die SAID (Suid-Afrikaanse Inkomstediens) is baie spesifiek hieroor,” sê Yolandi Esterhuizen, ’n geregistreerde belastingpraktisyn en voldoeningsbestuurder by Sage vir Afrika en die Midde-Ooste.

Die vertrek waar jy werk, kan nie veeldoelig wees nie. As jy dus nie ’n afsonderlike vertrek soos ’n studeerkamer het nie en jy moet jou kombuistoonbank of eetkamertafel as ’n werkruimte gebruik, is die belastingverligting jou nie beskore nie.

Die belastingvoordeel geld normaalweg vir vryskut- of kontrakwerkers of voltydse werkers wat meer as 50% van hul gemiddelde werkure van die huis af werk. Sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het, het kantoorwerkers hul dagtake al hoe meer van die huis af begin verrig, selfs nog voordat ’n algehele inperking aangekondig is. Dit beteken meer mense sal in aanmerking kom vir belastingverligting.

Joon Chong, ’n belastingkundige en vennoot by Webber Wentzel, sê belastingbetalers kan eise wat verband hou met tuiswerk indien vir die belastingjaar tot 28 Februarie 2021. Sy sê stawende dokumente vir sulke eise moet minstens vyf jaar lank gebêre word.

Dit sluit in fakture vir uitgawes en ’n ontledingstaat van die getal dae wat jy tuis gewerk het, asook briefwisseling tussen jou en jou werkgewer waarin jy aangesê word om van die huis af te werk.

As jy wel kwalifiseer, bepaal die oppervlakte van jou tuiskantoor die persentasie van die uitgawes wat jy kan terugeis. Met ander woorde, as die vertrek 20% van jou huisoppervlakte beslaan, kan jy 20% van die lopende uitgawes eis.

Daar is egter ook ’n slaggat wanneer jy belasting terugeis vir tuiswerk. Die dag as jy jou huis verkoop, maak die deel wat jy as kantoor gebruik het nie deel uit van die vrystelling van die R2 miljoen waarop jy byvoorbeeld nie kapitaalwinsbelasting sou betaal het nie.

Esterhuizen verduidelik: “Gestel my huis is 100 m² en my tuiskantoorruimte was 30 m² – dan het my kantoor 30% van my huis beslaan. Voorts het ek vir een jaar belasting teruggeëis omdat ek van die huis af werk. As ek my primêre woning byvoorbeeld ná vyf jaar verkoop waarop ek ’n wins van R2,1 miljoen gemaak het, sal die kapitaalwins wat op die tuiskantoor betrekking het, neerkom op R126 000 (R2 100 000 x 30% x 12/60 maande). 40% van die kapitaalwins is dan belasbaar volgens die marginale belastingkoers van die individu.”

Esterhuizen raai mense aan om eers die somme te maak voordat hulle sonder meer ’n eis vir tuiswerk indien. “Weeg op wat die voordeligste is: As jy nou geld gaan terugeis, kan jy nie die volle voordeel kry as jy jou huis verkoop nie, en andersom.”

Reistoelaag kan kom byt

Daar is ook ’n ander haakplek namate meer Suid-Afrikaners tuis werk. As jy byvoorbeeld ’n reistoelaag van jou werkgewer kry en nie die volle bedrag vir werksverwante ritte gebruik nie, is jy aanspreeklik vir hierdie belasting.

Gestel jy kry maandeliks ’n reistoelaag van R3 000 en jou werkgewer belas 20% daarvan vir lopende inkomstebelastingbetaling (PAYE), sal die belastingpligtige verantwoordelik wees vir die belasting op die 80% van die oorblywende reistoelaag as dit nie vir werk-spesifieke doeleindes gebruik is nie.

Esterhuizen raai mense aan om saam met hul werkgewer die reistoelaagvoordeel te bespreek en óf te vra dat die werkgewer die toelaag verminder óf bykomende PAYE terughou om vir die groter belastingaanspreeklikheid voorsiening te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.