
Huiswerkers kan nou ook van die staat se Vergoedingsfonds eis as hulle seerkry of siek word by die werk. Foto: Unsplash
Huiswerkers wat by die werk seerkry of siek word, kan nou ook van die staat se Vergoedingsfonds eis daarvoor.
Sou hulle doodgaan, kan hul naasbestaandes dan ook van die fonds eis.
Dit volg nadat die konstitusionele hof beslis het dat hulle ook geregtig is om ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -Siektes van dié fonds te eis.
Die departement van arbeid het Sondag in ’n verklaring gesê hy verwelkom die uitspraak.
Die hofbevel om huiswerkers by die wet in te sluit, is terugwerkend tot 27 April 1994.
Thobile Lamati, direkteur-generaal van die departement, sê in die verklaring dat hulle dit verwag het. Daar word reeds gekyk hoe die departement die bevel kan toepas.
Lamati sê die departement steun lank reeds ingrypings om die lewe van huiswerkers te verbeter.
Vir huiswerkers om van die fonds te eis, moet hul werkgewers hulle daarvoor registreer en ’n bydrae betaal.