Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Inenting: Mag jy huiswerker afdank as sy weier?

Hoe oorreed jy iemand wat in jou huis werk om ingeënt te word as sy op geloofsgronde daarteen gekant is?

huiswerkers
As daar bejaardes of siek mense in jou huis is, maak dit sin om te vereis dat jou huiswerker ingeënt word.

Die probleem is dat die reg – wat jou wel onder sekere omstandighede sou toelaat om jou huiswerker af te dank as sy inenting weier – nie antwoorde gee op dié baie werklike menslike dilemma nie.

Verpligte inenting is op die oomblik in die nuus nadat die chemiese reus Sasol in ’n brief aan werknemers gesê het mense wat in September instandhoudingswerk by sy Secunda-aanleg kom doen, moet ingeënt wees óf moet elke sewe dae in die maand lange projek bewys van ’n negatiewe Covid-toets lewer.

Sasol het intussen gesê hy sal vir die Covid-toetse betaal.

LEES OOK: Virustoetse kan Sasol R11,2 m. kos

Die Menseregtekommissie het ook al 40 klagtes gekry van mense wat sê hulle word met afdanking gedreig omdat hulle weier om ingeënt te word.

LEES OOK: Talle kla by MRK oor verpligte inenting by werk

Die direktief van die departement van arbeid en indiensneming oor verpligte inenting is redelik duidelik. Werkgewers moet eers ’n risikobepaling doen voordat hulle inentings mag verplig.

As dié bepaling bevind dat dit ter wille van almal se veiligheid nodig is, moet alternatiewe poste so ver as moontlik gevind word vir werknemers wat nie ingeënt wil word nie.

Eers as geen ander opsie beskikbaar is nie, mag werknemers afgedank word.

Grondwetlike regte is nie absoluut nie. In sommige gevalle moet dié regte vir die regte van ander mense plek maak.
Jan Truter van Labourwise

Volgens Jan Truter, arbeidsregkenner van Labourwise, geld dieselfde regulasies ook huiswerkers. Veral mense wat bejaardes of mense met bestaande siektetoestande soos diabetes in die huis het, sal maklik kan regverdig dat hul huiswerker ingeënt moet word. Sy sou dus afgedank kon word indien sy weier.

In gevalle waar die risiko’s laer is, moet mense eers oorweeg of die dra van ’n N95-masker nie genoeg beskerming teen oordrag sal bied nie, ingevolge die regulasies.

Mag jy huiswerker afdank?

Voordat enigiemand afgedank mag word omdat hulle nie ingeënt wil of kan word nie, moet alternatiewe oorweeg word. Die regulasies sluit die volgende in, waar die eerste twee nie haalbaar sou wees vir huiswerkers nie:

  • Werk elders;
  • Werk van die huis af;
  • Werk in isolasie by die werkplek;
  • Werk buite normale kantoorure; en
  • Werk met ’n N95-masker.

“As die alternatiewe nie werkbaar is nie en ’n werkgewer dit oorweeg om ’n werknemer af te dank wat weier om ingeënt te word, adviseer ons teen dissiplinêre stappe. Na gelang van die omstandighede sal dit meer toepaslik wees om die probleem te behartig as een van bedryfsvereistes of ongeskiktheid (waarskynlik laasgenoemde).”

Truter sê ongeag die grootte of aard van die onderneming, is dit voor die hand liggend dat die regte proses met afdanking gevolg moet word.

Hoe mense oor inenting voel

Vir baie mense is dit ’n emosionele probleem wanneer huiswerkers wat dalk baie geliefd is en al jare amper lid van die gesin is, nie ingeënt wil word nie.

’n Leser skryf haar huiswerker is diep gelowig en is deur lekepredikers “gebreinspoel dat die inentings die gif van Satan is”.

“Haar geloof is haar alles; dít wat haar deur soveel krisisse en swaarkry gedra het. Dit sou onmenslik wees om haar kennis te gee.”

Minder as 2% van Suid-Afrikaners het geloofsbesware teen inentings.

In ’n peiling wat SweepSouth onlangs gedoen het, is bevind dat die meerderheid (57%) van huiswerkers is óf al ingeënt óf wil ingeënt word, terwyl 26% onseker is en 17% teen inenting gekant is.

In ’n studie wat onlangs as deel van die Nids-Cram-navorsing gedoen is, is bevind dat 76% van alle Suid-Afrikaners nou ten gunste van inenting is of reeds ingeënt is, 14% is sterk daarteen gekant en 6% is matig gekant daarteen, en 4% is onseker.

Die navorsers het bevind mense is meestal bekommerd oor die veiligheid van inentings – minder as 2% hang samesweringsteorieë of fopnuus aan, en minder as 2% het ’n sterk godsdienstige oortuiging daarteen om ingeënt te word.

Die navorsers se gevolgtrekking is dat die meeste mense oorreed kan word om ingeënt te word indien hulle meer inligting kry.

LEES OOK: Afrikaanses minder skepties oor inentings

Truter antwoord al die vrae oor verpligte inenting in besonderhede ’n artikel op Labourwise se webwerf.

Hy waarsku werknemers wat inenting verpligtend wil maak, moet verskeie administratiewe struikelblokke oorkom – soos die doen van ’n risikobepaling, die identifisering van werknemers wat ingeënt moet word en die opstel van ’n inentingsplan.

Truter reken verpligte inenting sal waarskynlik geregverdig kan word vir werknemers wat aan lede van die publiek blootgestel is of wat naby ander kollegas moet werk, insluitend:

  • verkoopspersoneel;
  • kelners;
  • fabriekswerkers wat na aan mekaar moet werk;
  • huiswerkers wat bejaardes of siek mense moet versorg; en
  • werknemers wat moet reis na lande met streng vereistes oor inenting.

Faktore wat volgens die departement van arbeid en indiensneming in ag geneem moet word, sluit in hoe hoog die risiko vir oordrag is en wat die risiko vir ernstige siekte of sterfte is gegrond op werknemers se ouderdom en gesondheid.

As verpligte inenting deurgevoer word, moet vervoer na die inentingsplek so ver as moontlik deur die werkgewer verskaf word. Werknemers moet spesiale betaalde verlof vir hul inentingsafspraak kry.

Werknemers wat newe-effekte van die inenting beleef, moet betaalde siekteverlof kry, ongeag of hul siekteverlof al op is.

LEES OOK: Jy moet betaalde verlof vir inenting kry

Die departement het ’n streng sperdatum gestel vir werkgewers om ’n risikobepaling te doen. Dit het op 2 Julie ten einde geloop. Truter sê dis glad nie duidelik waarom so ’n sperdatum gestel is nie en ook nie wat die implikasies is as mense nié ’n risikobepaling gedoen het nie

Truter sê hoewel werknemers op mediese en grondwetlike gronde (wat hul reg op vryheid van godsdiens, geloof of mening waarborg) mag weier om ingeënt te word, is veral die grondwetlike gronde omstrede.

“Grondwetlike regte is nie absoluut nie. In sommige gevalle moet dié regte vir die regte van ander mense plek maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.