Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Jy verbeel jou nie: Jy werk jou dood
Die lang werkure wat maatskappye van hul werknemers vereis, eis ’n tol op hul gesondheid, sê ’n Amerikaanse navorser. Foto: Bloomberg

As jy dink jy werk jou dood, het jy dalk ’n punt beet.

In ’n nuwe boek oor stres in die hedendaagse werkplek sê Jeffrey Pfeffer, ’n professor aan Stanford, dis nie net sleg vir produktiwiteit of moraal nie. Dit is ook besig om ons dood te maak.

“Ek kyk na die werkplek en ek sien stres, afleggings, langer werkure, enorme werkonsekerheid, voortdurende konflik tussen jou werk en jou gesin – dit het ’n skokkend onmenslike plek geword,” sê Pfeffer in sy boek Dying for a Paycheck, wat onlangs verskyn het.

“Dis duidelik dat die koste vir die mensdom wat betref sterftes te hoog is en dat die ekonomiese koste – soos verhoogde gesondheidsbesteding – aansienlik is,” sê Pfeffer.

Die statistieke wat hy noem, is skrikwekkend:

  • In Amerika kan tot 120 000 sterftes per jaar en rofweg 5% tot 8% van die koste van die jaarlikse gesondheidsbegroting toegeskryf word aan die wyse waarop maatskappye hul arbeidsmag bestuur.
  • In een opname het 61% van die werknemers gesê stres in die werkplek het hulle siek gemaak en 7% het aangedui dat hulle in die hospitaal beland het weens werkstres.
  • In China is bereken dat tot ’n miljoen mense per jaar sterf omdat hulle oorwerk is.
  • In Japan het die openbare uitsaaier in Oktober verlede jaar bekend gemaak dat een van sy verslaggewers dood is aan hartversaking weens die lang ure wat sy by die werk deurgebring het. Japan is bekend om sy moordende werkure.

Die Amerikaanse instituut vir stres maak daarop aanspraak dat stres werkgewers tot $300 miljard per jaar kos en dat daar meer as 2 miljoen gewelddadige voorvalle per jaar by die werkplek is.

Pfeffer sê hoewel fisieke veiligheid in die werkplek die hoogste prioriteit geniet, word die impak van stresverwante werkomstandighede nie verreken nie.

Al wat gebeur, is dat ’n toksiese werkplek geskep word en almal verloor uiteindelik.

“Ons moet ’n beter idee hiervan begin kry. As ons iets soos lugbesoedeling kan meet, kan ons die skade van die werkplek op die mense se gesondheid ook meet.”

Die werkure wat maatskappye van hul werknemers vereis, veroorsaak dat huwelike skipbreuk ly, maak van kinders grootmaak ’n yslike las en gooi in die algemeen ’n gesinslewe omver, aldus Pfeffer.

“Ek hoor die algemene voorstel dat werknemers wat gestres is ’n ander werk moet kry. Die probleem met hierdie denkwyse is dat dit ’n komplekse probleem probeer vereenvoudig.”

Uitputting is ’n ernstige kwessie wat nie aangepak word bloot deur ’n ander werk te kry nie.

“As jy liggaamlik en geestelik uitgeput is deur werkstres, hét jy nie die vermoë om ’n ander werk te gaan soek nie.”

Nog ’n kwessie is dat baie maatskappye werknemers op ’n subtiele wyse probeer oortuig om net vas te byt deur die persepsie te skep dat hulle ’n elite-organisasie is en net ’n uitgesoekte groep aan die standaarde voldoen om daar te werk.

Prof. Jeffrey Pfeffer, skrywer van die boek Dying for a Paycheck. Foto: Stanford-Universiteit

“Wie sal dan wil erken hulle is nie goed genoeg nie?” vra Pfeffer.

In sy boek sê hy reguit mense gaan letterlik dood vir ’n salaristjek en dit moet einde kry.

“Dit maak ook organisasies seer: Mense raak minder betrokke by die werk en daar is voldoende bewyse dat dit nie winsgewendheid óf produktiwiteit verhoog nie – al wat gebeur, is dat ’n toksiese werkplek geskep word en almal verloor uiteindelik.”

Hy pleit in die boek ook dat menslike volhoubaarheid net so belangrik geag moet word as goeie bestuur van die omgewing om besoedeling hok te slaan. Die omgewing waarin ons werk, behoort net so gesond te wees soos die een waarin ons leef.

“Jy hoef nie ’n fisiek gevaarlike werk te doen om jou gesondheid in die werkplek te vernietig en jou lewe in gevaar te stel nie,” sê Pfeffer.

“Vra maar die finansiële bestuurder wie se enorme werklas eens deur verskeie werknemers gedra is, en wat dikwels heelnag moet werk en alkohol of dwelms misbruik om daardeur te kom, of die mediavervaardiger wie se toewyding om die storie gedoen te kry tot ’n gewigstoename van 30 kg gelei het omdat sy nie meer tyd het om behoorlik te eet en te oefen nie, of die bemarker wat ná net ’n week in die nuwe werkplek antidepressante moes begin gebruik.”

En vergeet maar van goedvoel-oplossings soos meditasie, ’n gimnasium by die werk of ontspanningsoefeninge, sê Pfeffer.

“Dis soos om ’n pleister op die seerplek te plak – fokus liewer op bestuurspraktyke wat van die werkplek ’n ongesonde omgewing maak, en kyk dat werknemers voldoende gesondheidsversekering en ordentlike werkure het.”

Hy sê selfs die skadelike impak van iets soos mikrobestuur, waar werknemers se moed en ondernemingsgees gebreek word deur bestuurders wat elke klein aspek van hul werkdag beheer, kan gemeet word.

“Daar is geldige meetinstrumente wat werkoutonomie meet, al dekades lank. Ons vereis van maatskappye om baie dinge te meet en ons het politici wat lippediens aan die waarde van menselewens doen. Ons behoort dit ernstig op te neem en die skade te meet wat ons werkplekke aanrig.”

Bykomende bron: Stanford

Meer oor:  Stres  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.