Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Kaapstad gretig vir e-visums aan digitale nomade

Die Kaapse stadsraad oefen druk uit op die nasionale regering om ’n afstandwerk-visum aan buitelanders beskikbaar te stel wat op werkvakansies na die Moederstad wil kom.

Kaapstad is ideaal vir digitale nomade omdat die bestemming luuks en die wisselkoers gunstig is. Foto: City Press

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, het aan Rapport gesê die stad is ideaal vir sogenaamde digitale nomade – mense wat nie kantoorgebonde is nie en hul werk oor ’n afstand kan doen.

Kaapstad is onlangs aangewys as nommer 42 op ’n ranglys van die beste stede vir afstandwerk naas stede in lande soos Indonesië, Duitsland en Argentinië. “Ons meen Kaapstad kan sy posisie verbeter en ons teiken spesifiek digitale nomade as deel van ons internasionale bemarkingstrategie,” sê Vos.

Die departement van buitelandse sake is egter die stok in die wiel en Vos, sowel as die Wes-Kaapse regering en Wesgro se briewe aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van buitelandse sake, het sover op niks uitgeloop nie.

Die departement van binnelandse sake het teen druktyd nie op Rapport se navrae gereageer oor Kaapstad se versoeke vir ’n spesiale werkvisum nie.

Vos sê dit sal ideaal wees as voornemende digitale nomade aanlyn kan aansoek doen vir so ’n visum. “Dit het tyd geword dat die e-visumaansoekproses in werking gestel word.”

’n Elektroniese visumstelsel is reeds die afgelope twee jaar in wording, maar dit is vertraag met die uitbreking van die Covid-19-pandemie.

’n E-visumaansoekstelsel is een van die teikens van die regering se Operasie Vulindlela en is veronderstel om vanjaar nog in bedryf te wees.

Dit behels dat ’n goedgekeurde e-visum toegestaan word wat elektronies met ’n reisiger se paspoort verbind word.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika, het egter aan Cape Talk gesê die ontwikkeling van ’n e-visumstelsel neem te lank. Volgens hom moes die regering eerder ’n bewese stelsel in werking gestel het wat suksesvol is in ander lande as om sy eie weergawe te ontwikkel. “Daar is nog niks konkreet wat ons (aan buitelandse toeriste) kan bemark nie,” het Tshivhengwa gesê.

Die gesloer met die voorgenome e-visumstelsel kan veroorsaak dat Suid-Afrika geleenthede misloop om buitelandse toeriste te lok wanneer internasionale reise hervat word.

Vos sê hy hoop steeds die stelsel sal binnekort ingestel word sodat Kaapstad kan munt slaan uit die somerseisoen later vanjaar.

“Vir eers wil ons fokus op lande waar mense nie visums nodig het om na Suid-Afrika te reis nie, soos Duitsland, Brittanje, Frankryk en die VSA waarvandaan ons ook die meeste toeriste kry.”

Die werkvisum sal ook nie plaaslike werkgeleenthede verdring nie, omdat digitale nomade steeds deur hul eie lande in diens geneem word en hul inkomste daar verdien. “Die wisselkoers maak Kaapstad ’n bekostigbare dog luukse bestemming vir internasionale werkers,” sê Vos.

’n E-visumaansoekproses sal beteken besoekers van meer as 100 lande kan aanlyn aansoek doen sonder om self by hul ambassades of konsulate te wees. Verblyf sal kan wissel tussen drie maande en ’n jaar vir mense wat bewyse kan toon van die inkomstes wat hulle van buitelandse werkgewers verdien vir die duur van hul verblyf in Suid-Afrika.

Volgens Vos sal so ’n werkvisum voordelig wees vir die hele land. “Of die digitale nomade nou in Limpopo of KwaZulu-Natal is – elke deel van ons land bied die ideale geleentheid vir mense wat werksvakansies wil vat. Hulle kan geld in die ekonomie instoot met verblyf in gastehuise, die gebruik van taxi’s en eet in restaurante.”

Meer oor:  Verblyfpermit  |  Toerisme  |  Visums  |  Werk Van Huis Af  |  Beroepe  |  Werkpermit  |  E-Visums  |  Loopbane  |  Afstandswerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.