Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Kans op werk skraal – selfs vóór virus

Minder as 8% van maatskappye in Suid-Afrika beplan om in die tweede kwartaal van 2020 mense aan te stel, terwyl meer as 5% van plan is om mense af te dank.

Dit bring die netto kans op indiensneming – die verskil tussen die maatskappye wat wil aanstel en dié wat wil afdank – ná afronding op +2% te staan. Dis onveranderd sedert die eerste kwartaal en steeds die laagste in vyf jaar.

Die landbousektor lewer ’n betekenisvolle bydrae tot werkskepping in die land. Foto: TruCape

Dis volgens die kwartaallikse peiling oor die vooruitsigte vir indiensneming wat die ManpowerGroup pas uitgereik het.

Volgens die peiling lyk dit of die kans op werk in vervaardiging (+7%) die beste is en in konstruksie (-10%) die swakste.

Dié gevolgtrekking blyk teenstrydig te wees met die kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die vierde kwartaal van 2019 wat Statistieke Suid-Afrika in Februarie uitgereik het. Daarvolgens het vervaardiging juis poste verloor – ’n hele 39 000 net in dié kwartaal, terwyl konstruksie 12 000 mense aangestel het.

Die kans op werk blyk die grootste te wees in KwaZulu-Natal (+7%) en die swakste in die Vrystaat (-4%).

Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van ManpowerGroup Suid-Afrika, sê die tweede kwartaal is gewoonlik ’n goeie kwartaal vir indiensneming in toerisme.

Die peiling is egter tussen 6 en 28 Januarie gedoen, dus voordat die impak van die Covid-19-pandemie verreken is. Toerisme is een van die bedrywe wat waarskynlik die meeste gaan ly soos mense vlugte kanselleer uit vrees dat hulle op ’n vliegtuig of lughawe die virus opdoen.

Van den Barselaar sê werkgewers se grootste kommer toe hulle vir die peiling ondervra is, was beleidsonsekerheid, hoë werkloosheid en beurtkrag. “Dié faktore maak hulle omsigtig wanneer dit by besteding en aanstellings kom.”

werkskepping

Watter bedrywe aanstel

Ondanks die druk wat beurtkrag veroorsaak, is Van den Barselaar optimisties oor vervaardiging.

“Met aansienlike internasionale investering in produksie-aanlegte in, onder meer, die motor- en elektronikabedryf, sal vervaardiging na verwagting ’n sleutelaandrywer van groei in werkgeleenthede wees.

“’n Aantal seisoenale bedrywe, soos vissery en toerisme, sal ook korttermyn-aanstellings in die kwartaal doen.

“Alternatiewe kragopwekking is ook in die kollig geplaas weens voortslepende beurtkrag. Dít, saam met verskeie groot infrastruktuurbeleggings wat gemaak is of beplan word, sal na verwagting aansienlike ekonomiese investering stimuleer, wat tot stygende indiensneming sal lei.”

Vergeleke met die eerste kwartaal is die kans op indiensneming swakker in vier uit die sewe bedrywe. Die ergste daling is in finansiële en sakedienste (11 persentasiepunte), maar die kans op indiensneming in die handel (5 persentasiepunte laer) is ook onder erge druk.

Grootte van onderneming

Aanstellings sal maar weer by groot ondernemings wees, terwyl klein en mikro-ondernemings hul personeel wil verminder.

  • Mikro-ondernemings (minder as 10 werknemers): -3%
  • Klein ondernemings (10-49 werknemers): -3%
  • Medium-ondernemings (50-249 werknemers): 0%
  • Groot ondernemings (250 of meer werknemers): +22%

Wêreldwye resultate

Werkgewers in 42 uit die 43 lande of gebied wat gepeil is, beoog om mense aan te stel.

Die lande met die grootste verwagte groei in aanstellings is Griekeland, Japan, Taiwan, die VSA en Roemenië.

Suid-Afrika tel onder die drie gebiede met die swakste verwagte groei, saam met Panama en Hongkong.

Vooruitsigte vir indiensneming het in 21 lande verbeter teenoor die eerste kwartaal van die jaar. In 11 lande het dit verswak en in nog 11 bly dit onveranderd.

Meer oor:  Manpowergroup  |  Manpower  |  Indiensneming  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.